Volg jou padkaart na finansiële vryheid

(Foto: Riccardo Milani / Hans Lucas / Hans Lucas via AFP)

ʼn Paar maande gelede ry ek deur ʼn paar bekende klein dorpies op pad na die Noorde. Maar met al die nuwe dorpsname, het ek in ʼn stadium nie meer geweet in watter dorp ek was nie, en was skielik nie seker watter pad om te vat nie. Ek moes eers vinnig my GPS aansit, voordat ek skaapagtig weer die regte pad gekry het – wat ek eintlik baie goed ken!

Dit het my laat dink aan mense se persoonlike finansies. Ons almal weet min of meer wat die regte “pad” is, maar dinge het só verander dat ons dit soms nie meer kry nie. Die kern van die probleem is dat ons soms nog met ou “padkaarte” ry, maar dat die omwentelinge in die finansiële wêreld jou maklik kan laat verdwaal. Kom ons wees eerlik: met oupa en pa se padkaarte sal jy maklik by ʼn plek uitkom waar jy nie wil wees nie. En as jy sonder ʼn GPS-padkaart ry, sal jy nooit jou bestemming bereik nie.

Die meeste mense het finansiële drome én nagmerries, wat eintlik net twee kante van dieselfde muntstuk is. Almal droom van finansiële vryheid, maar word ook soms geteister deur finansiële nagmerries. Die rede is maklik om te verstaan. Baie mense is in hierdie duur tye net ʼn salaristjek of drie van geldelike rampspoed af. Enige persoon wat in hierdie ekonomie sy of haar werk verloor is dadelik in ʼn krisis. Maar dit geld nie net vir werkendes nie. Talle pensioenarisse moes al tot hul skok agterkom dat hulle te min geld het om van te leef, omdat die wêreld verander het.

Finansiële vryheid

Voordat ʼn padkaart na finansiële vryheid opgestel kan word, is dit belangrik om eers te weet wat finansiële vryheid is. Dan kan ons kyk wat soveel verander het dat die pad nou moeiliker is, sodat ons ons eie padkaart vir die toekoms kan opstel.

Finansiële vryheid is wanneer die inkomste uit jou bates meer as jou uitgawes is.

Dis ʼn moeilike opdraande pad vir almal om daar te kom, en die meeste mense is gelukkig as hulle dit teen aftrede bereik. Maar met ʼn goeie padkaart wat presies gevolg word, is dit moontlik. Kom ons kyk eers na die omwentelings op die pad na jou bestemming van finansiële vryheid.

Vyf omwentelings

Die eerste belangrike omwenteling is dat die nuwe geslag pensioenfondse eintlik net spaarfondse is, en dat jy as werknemer die volle risiko dra as jou geld opraak.

Die meeste van ons se ouers het pensioenfondse gehad waar die werkgewer die risiko gedra, en ʼn lewenslange pensioenvoordeel gewaarborg het. Dit het bygedra tot redelik lae belangstelling en onkunde in en oor pensioensake, omdat die werkgewer die verantwoordelikheid gedra het vir aftreevoorsiening.

In die nuwe “vaste bydrae”-pensioenfondse bestaan jou geld uit jou en die werkgewer se bydraes en die groei op jou geld. Dis nie noodwendig slegter nie, jy moet net weet dat dit nou jou verantwoordelikheid is om die pad goed dop te hou. Jy bestuur self, en ry nie meer in ʼn “pensioenbus” wat die werkgewer bestuur nie. Daarom is ʼn “lisensie” belangrik, in die vorm van finansiële geletterdheid en -opleiding.

Die tweede verandering is dat mense gemiddeld sowat 10 jaar langer as hul grootouers leef, en dat jou geld dus langer moet hou. Ons kan seker nie verwag dat ons pensioen langer moet hou as wat ons daaraan spaar nie! Daarmee saam het die koste van bejaardeversorging baie gestyg, omdat daar feitlik geen meer subsidies vir ouetehuise is nie.

Die derde verandering is dat die koste van medies baie duurder is, en dat byna alle werkgewers aftreemedies afgeskaf en die kostes na werknemers verskuif het.

Die vierde verandering is dat die opbrengs van beleggings baie afgeneem het, en dat jy meer sal moet spaar om dieselfde pensioen te kan kry. Old Mutual het bereken dat waar die gemiddelde opbrengs op beleggings oor die afgelope 60 jaar 7,3% bo inflasie was, dit in die toekoms kan halveer na net 3,7%. Die uitdaging is dat jy nie beheer oor die opbrengs of toekomstige lewenskostes het nie, maar net oor hoeveel jy kan spaar.

Die vyfde verandering is dat lewenskostes so duur geword het, dat navorsing van Nedbank en Unisa gewys het dat ʼn volle 75% van huishoudings vandag finansieel ongesond is! Dit maak dit geweldig moeilik om met jou geld uit te kom, wat staan nog bykomend te spaar! Baie mense is boonop deel van die “toebroodjiegeslag” – hulle moet hulle kinders en hul ouers help om kop bo water te hou.

Bestemming van vryheid

As jy op ʼn ver reis gaan, ry jy nie sonder om seker te maak waar die bestemming is, hoe jy daar gaan kom en of jou voertuig in ʼn goeie werkende toestand is nie.

Soveel te meer die pad na jou eie finansiële vryheid. Dit is so belangrik dat dit nie aan die toeval of net aan jou werkgewer se pensioenfonds oorgelaat kan word nie. Daarom behoort elke mens ʼn betroubare finansiële raadgewer as “GPS” kry om jou met jou persoonlike padkaart te help.

Die eerste stap is om te bepaal wat finansiële vryheid in jou persoonlike geval beteken, want dit is die bestemming van jou reis en gaan die roete van jou padkaart bepaal. Vir die meeste mense behoort jou eerste pensioentjek sowat 75% van jou laaste salaris te wees. Dit word die salaris vervangingskoers genoem. Dit is nie ʼn maklike doelwit in die lig van die vyf omwentelings wat hierbo genoem is nie, en is die finansiële weergawe daarvan om Kilomanjaro uit te klim of die Comrades te hardloop.

Dit verg ʼn helder omskrewe doelwit, duidelike padkaart, derduisende klein treetjies, korttermynopofferings en hope vasbyt om die piek te bereik. Onthou maar Langenhoven se woorde: “Moenie koop wat jy nodig het nie, koop waarsonder jy nie kan klaarkom nie!”

Padkaart na vryheid

Elke mens se omstandighede verskil, en daarom sal elkeen se padkaart anders lyk. Professionele beplanners sal daarmee kan help, byna soos afrigters atlete of bergklimmers moet bystaan. Maar daar is ʼn paar algemene reëls of mylpale wat vir almal geld. In ʼn neutedop is dit:

  • ʼn begroting wat net so gedissiplineerd gevolg moet word soos ʼn oefenprogram;
  • om minder uit te gee as wat jy inkry;
  • die moeilikste is om uitgawes te sny om ekstra te spaar;
  • keer dat jou uitgawes net soveel as jou inkomstes styg;
  • koop bates soos ʼn effektetrust eerder as uitgawes soos motors;
  • maak gebruik van belastingtoegewings op pensioenfondse en ander produkte;
  • kyk mooi na jou persoonlike welstand soos eet- en oefengewoontes;
  • verbeter jou kwalifikasies om jou kanse op groter inkomste te verhoog;
  • probeer so lank as moontlik werk of ekstra verdienstes kry;
  • hou jouself op hoogte deur goeie bronne te lees;
  • byt vas en wees geduldig, daar is nie maklike kortpaaie nie.

Dit is belangrik om minstens een of twee keer per jaar na jou finansiële GPS te kyk om seker te maak jy’s op koers na jou doelwit. Maak betyds planne waar nodig. Moenie heeltyd kyk nie, hou eerder jou oog op die pad, maar hou die vordering minstens jaarliks dop. Onthou ook dat paaie maar opdraendes, afdraendes én skerp draaie het.

Byt vas, want solank jy aanhou en moedhou en volhou, sal jy veilig by jou bestemming aankom. Sterkte met die reis!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.