Vonkpos of vonke wat spat?

Of jy dit nou e-pos of vonkpos noem, hierdie kommunikasievorm is beslis een van die wonderlikste uitvindings van ons tyd. Dit het ons werkspoed ingrypend verander en die wêreld laat krimp tot waar dit letterlik op ons selfone in ons sakke kan pas.  Saam met die gerief van kitskommunikasie, kom egter ook ʼn groot verantwoordelikheid wat min mense besef. Die afgelope maand het helaas weer bewys hoeveel mense nie die mag van e-pos besef nie en ook nie die risiko wat dit vir hulle – en ander – inhou nie.

Eerstens het Sensus 2011 aangebreek en is ʼn e-pos versprei wat mense aangemoedig het om nie aan die sensusproses deel te neem nie. Later het dit geblyk dat dié e-pos sy ontstaan ten tye van ʼn Amerikaanse sensus in die VSA gehad het, maar deur ʼn misverstand plaaslik versprei is asof die inhoud op die Suid-Afrikaanse sensus van toepassing was. Die e-pos is wyd versprei en as evangelie aanvaar. Geen moeite is deur letterlik duisende lesers gedoen om vas te stel of dit waar was nie en daar is ook nie kontak gemaak met Sensus 2011 se personeel om vas te stel wat aangaan nie. Mense het mekaar teen die sensus opgesweep en nie besef dat hulle in die proses ook mekaar aanmoedig om die wet te oortree nie – want deelname aan die nasionale sensus is wetlik verpligtend. Dit is ook nie die einde van die verhaal nie.  ʼn Paar mense het besluit om voort te borduur op die gerug en allerlei duistere motiewe in die sensusvrae te lees. Vrae oor die elektriese apparaat wat mense besit, is standaard in die bepaling van welvaartsvlakke, maar skielik het die e-pos “kenners” besluit dat dit gevra word om vir inbrekers nuttige wenke te gee oor waar ingebreek kan word. Tans is die mees gesogte items onder diewe kontant, sekere modelle selfone en voertuie, skootrekenaars en kameras.  Die vorm vra nie of iemand groot bedrae kontant in die huis aanhou, watter funksies jou selfoon het of watter model motor jy ry nie. Hoe help dit dus ʼn voornemende inbreker? Nie veel nie. Mense is net so paranoïes oor hulle inkomste – die staat mag nie weet wat hulle verdien nie, het een persoon aan AfriForum geskryf. Maar wat dan van SARS? Die staat weet reeds, en as SARS nie weet nie, is die probleem nie die sensus nie, maar die eerlikheid van die persoon self. So kan ek aanhou oor teorieë, valse gerugte, ongegronde vrese en sommer net onwilligheid om moeite te doen. Daar is dikwels gevra “hoe durf die staat verwag dat ek ʼn hele kwart- tot halfuur van my lewe aan die sensusbeampte afstaan”, maar niemand vra hoeveel tyd gaan ons mors in verkeersknope as daar nie reg beraam kan word hoeveel mense in 2012, of 2015, of iewers in die toekoms van punt A na Punt B gaan ry en hoeveel bane die snelweg tussen die punte dan moet hê nie. Dit is tog juis met die oog op die lewering van dienste soos hierdie wat die sensus plaasvind. Gelukkig begin e-posse nou ook rondgaan wat sê hoe maklik en vinnig dit was om al die vrae te antwoord, wat verduidelik waarom ʼn sensus en sekere vrae nodig is, en wat die oorsprong van die VSA-epos onthul en teen die herhaalde aanstuur daarvan waarsku.

Die tweede insident was nog erger. Dit het begin met Julius Malema se eerste dreigement oor ʼn optog teen armoede. Toe die datums 27 en 28 Oktober 2011 bekend word, het die gerugte weer begin en al meer gegroei. Mettertyd is e-posse versprei wat gewaarsku het dat ʼn burgeroorlog op die datums sou uitbreek, dat Zimbabwe Suid-Afrika gaan binneval (kompleet met vreemde foto’s wat die belaglikheid van die gerugte duidelik gemaak het) en dat bloed in die strate gaan vloei. Daar was geen waarheid in die gerugte nie, maar weer is dit hot en haar aangestuur en mense het mekaar opgesweep tot onverantwoordelike vlakke van haat en vrees. Van redelikheid was daar geen sprake nie.  Besef die senders dat hierdie e-posse hulle in sekere omstandighede hulle werk kan kos, of selfs tot wetlike vervolging kan lei?

Die twee gebeure laat ʼn mens met die vraag wat die oorsprong van hierdie e-posse is – is dit iemand onkundig wat die kat aan die stert beetkry en die “STUUR” knoppie druk voor hy/sy dink, is dit deel van ʼn veldtog van propaganda en kommunikasie-terreur, is dit iemand met ʼn verwronge sin vir humor, of iemand met ʼn geestelike afwyking? Of dalk selfs ʼn poging om ʼn ideologiese doelwit te behaal – hetsy aan die kant van diegene wat gewaarsku word, of aan die kant teen wie gewaarsku word?

Al bogenoemde is moontlik, maar dit verklaar nog nie die optrede van die volgende groep mense in die ketting nie, naamlik die tweede groep lesers wat die e-pos nog wyer versprei. Daar is ʼn tragiese rede vir hulle aksie, naamlik hulle slegte ervarings wat die dienslewering en welwillendheid van die staat, en rassespanning in Suid-Afrika betref. Mense, veral Afrikaners, is gewoond om swak dienslewering van die staat te kry. Stories oor goeie diens van ʼn staatsdepartement is deesdae die uitsondering, nie die reël nie. Verder gaan geen week verby sonder ʼn paar hoofstories in die media oor korrupsie en wanadministrasie nie. Ministers Mahlangu-Nkabinde en Shiceka is nog skaars afgedank, dan hoor ons van minister Joemat-Pettersson se dubbelbesprekings in luukse hotelle wat derduisende van belastingbetalers se rande vermors het. Prominente politici soos Julius Malema pleeg aanhoudend onverbloemde rassistiese haatspraak, maar vat ʼn organisasie soos AfriForum hom hieroor aan langs die weë spesifiek vir gevalle soos hierdie deur die grondwet geskep, word die klaer met woorde soos “arrogant” en “rassiste” verguis. Onder die omstandighede is dit maklik om te verstaan waarom iemand met die eerste oogopslag kan dink die sensus gaan oor nog maniere vir die staat om sy burgers te benadeel en dat Julius Malema se oproep tot ʼn opmars, ʼn oproep tot oorlog kan wees.

Dit is dan juis waar die misverstande moet eindig. By die eerste oogopslag. Dit mag nie na ʼn tweede oogknip nog geloofwaardig wees nie, want mense moet weer ʼn slag rasioneel begin dink. Soos Kipling se gedig sê, die uitdaging waarvoor ons staan, is juis om kop te hou as die res van die wêreld se inwoners almal kop verloor.  Daar is baie webwerwe wat uitwys wanneer ʼn e-pos nie waar is nie.  Wanneer ʼn ontstellende e-pos in die Inbus beland, behoort ʼn mens se eerste reaksie te wees om dit teen die geswartlyste e-posse op die webwerwe te gaan toets. Volgende kan ʼn mens kundige advies vra – soos baie mense AfriForum gevra het: “Kan ek glo wat in die e-pos staan en hoe moet ek daarop reageer?” Natuurlik moet dit gevra word voor jy die e-pos aan die 2000 mense in jou adresboek aanstuur. Ten slotte moet daar ook nasorg intree. Die 27ste en 28ste is verby en die stof gaan lê. Laat weet dus die persoon wat jou gewaarsku het dat dit die begin van ʼn bloedbad gaan wees, dat indien jy ooit weer ʼn alarmistiese e-pos van hom of haar kry, dit onoopgemaak in die snippermandjie gaan land. Dalk sal hy of sy dan besin oor die gevolge van die stuur of aanstuur van vals gerugte wat mense tot wanhoop gedryf het en ʼn vonk kon wees wat ʼn situasie in ʼn ontploffende kruitvat kon omskep.

Ons leef in gevaarlike tye. Dit is tyd om slim te wees en deel te raak van positiewe oplossings vir die krisisse van ons tyd. Ons het nie onverantwoordelike aksies nodig wat niks bydra behalwe om ʼn oomblik lank soos ʼn vonk in die aandlig te gloei, voor dit weer mense in totale duisternis laat nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae