Vrae en antwoorde oor Afrikaans se plek op SA kampusse

kaapstad universiteit

Argieffoto.

Is die bohaai oor Afrikaans op universiteitskampusse die moeite werd? Die NP Van Wyk Louw-sentrum het in samewerking met die FAK ʼn paar vrae en standpunte hieroor bymekaargesit:

Die Beginsel-standpunt

  • Ja, want ons is Afrikaans.
  • Tersiêre opleiding in Afrikaans is nie ’n vergunning nie, maar ’n reg.
  • Indien die reg nie opgeneem word nie, verskraal dit tot niks.
  • Dit gaan net soveel oor die behoud van taal as instansies en institusionele kennis van personeel wat oor jare met baie tyd en geld opgebou is.
  • Groepe soos Open Stellenbosch het nie net ’n taalagenda nie, maar inderwaarheid ’n rassesuiweringsagenda.
  • Daarom moet daar ’n bohaai opgeskop word oor Afrikaans op universiteitskampusse, omdat daar soveel meer as net taal in die spel is.

Die meerderheid studente op universiteitskampusse is nie meer Afrikaans nie. Waarom dit nou op hulle afdwing?

Die Grondwetlike standpunt

  • SA is ’n grondwetlike regstaat waarin die grondwet bepaal dat Afrikaans ingevolge artikel 6 ’n amptelike landstaal is.
  • Artikel 9 bepaal dat die staat nie regstreeks of onregstreeks teen iemand mag diskrimineer op grond van onder meer ras, taal of kultuur nie.
  • Artikel 29 bepaal dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal van sy keuse, met inbegrip van enkelmediuminstellings.
  • Afrikaanse studente het steeds ’n betekenisvolle aanwesigheid op die US-, die UP- en die NWU- kampusse (30% by UP).
  • Toe Engelssprekende studente slegs 14% van UP uitgemaak het, was Engelse klasse “ekonomies regverdigbaar”.
  • Die beginsel van ware demokrasie word tans totaal verskraal tot rasseverteenwoordiging.

Is onderhandeling nie die manier vorentoe nie?

Die politieke standpunt

  • Die staat se ideologie van demografiese verteenwoordiging volgens die formule van 80-9-9-2 maak onderhandeling byna onmoontlik.
  • Talle taalbeleidstellings van die verlede oor Afrikaans se plek aan die universiteite blyk vandag leë beloftes te wees.
  • 7 miljoen (en toenemend) mense in Suid-Afrika se huistaal is Afrikaans, dus is daar ’n werklike behoefte aan Afrikaanse tersiêre opleiding.
  • Die staat steur hom egter nie daaraan nie en politieke wil om die behoefte aan te spreek, ontbreek.
  • Gemeenskapselfstandigheid, maar ook regsaksie om die staat te dwing om sy verantwoordelikhede na te kom, sal vrugte afwerp.
  • Opbou van die eie en verset teen wat verkeerd is, is die pad vorentoe.

Waarom moet universiteite opgesaal word met die bewaring van taal en kultuur, dit is tog kultuurorganisasies se werk?

Die kultuur-standpunt

  • Kultuur het nog altyd ’n wesenlike rol gespeel by die totstandkoming van meeste suksesvolle universiteite in die moderne wêreld.
  • Opvoeding was nog altyd ’n onlosmaaklike deel van die universiteit se taak en ’n student is eers werklik as opgevoed (of gekultiveerd) beskou as hulle ’n veelheid van tale (ook en veral hul moedertale) kon bemeester.
  • Die kultivering van moedertale aan universiteite verteenwoordig ’n onontbeerlike deel van die akademiese lewe van universiteite.
  • Die oppervlakkige Engels aan ons universiteite verteenwoordig ’n ernstige verskraling van die opvoedingsideaal.
  • Die volle ontwikkeling van ons moedertale aan universiteite kan help om dié ideaal weer sy regmatige plek aan ons universiteite te gee.

Moet alles moontlik nie gedoen word om universiteite so toeganklik moontlik te maak sodat almal daar kan tuis voel nie?

Die standpunt oor toegang

  • Daar bestaan geen enkele bewys dat Afrikaanse klasse aan “ons” universiteite teen enige anderstalige student diskrimineer nie.
  • Die breë universiteitsektor bestaan reeds uit byna 80% swart (“African”) studente.
  • Afrikaanse instellings se agteroorbuig ten gunste van anderstaliges word nou met diskriminasie téén hulle gelyk gestel.
  • Met Engels as enigste voertaal word die Afrikaanse student nou toegang tot Afrikaanse onderrig geweier en waar moet hy/sy nou tuis voel?
  • Dis nou die Afrikaanse student wat met sy taal en kultuur onwelkom en verwerp voel in sy eie land.

Ons kinders gaan in ’n hoofsaaklike Engelse omgewing werk. Moet hulle nie maar Engels van vroeg af goed onder die knie kry nie?

Die akademiese standpunt

  • Doelbewuste afskaffing van Afrikaans as akademiese taal sal ’n eerste wees in die wêreldgeskiedenis.
  • Die logiese volgende stap sal wees om Afrikaans op hoërskool en dan laerskool af te skaf.
  • Meer as 350 Afrikaanse skole landwyd het in die laaste paar jaar toegemaak!
  • Afrikaans is slegs een van vier ander tale en die enigste in Afrika wat in die afgelope eeu ʼn akademiese taal geword het!
  • Alle navorsing in verband met moedertaalonderrig is oorweldigend sterk ten gunste daarvan.
  • Om in ’n tweede taal onderrig te word, het ernstige implikasies ten opsigte van leerprobleme wat betrekking het op selfbeeld en leierskap.
  • Die afskeep van Afrikaans, is ʼn kortpad na die verdomlikingsproses.

Daar is mos steeds die opsie om Afrikaans by private instellings te laat voortleef. Waarom gebruik ons nie eerder dié opsie nie?

Die privatisering-standpunt

  • Private universiteite is ’n goed bevestigde begrip wêreldwyd.
  • Die aantal private universiteite in Afrika gaan die aantal staatsuniversiteite binne die volgende paar jare verbysteek.
  • Die kwaliteit van private instansies soos Akademia steek ook glad nie af teen enige ander instansies nie.
  • Daar moet egter gewaak word daarteen om bestaande instansies van hoë kwaliteit prys te gee ten gunste van nuwe instansies.
  • Indien Afrikaans by openbare instansies soos universiteite of skole verdwyn of geprivatiseer word, verskraal die ruimte wat daar tans vir Afrikaans in Suid-Afrika bestaan nog verder.
  • Ondersteun privatisering, maar moenie moed opgee ten opsigte van huidige Afrikaanse instellings nie.

Hoekom moet Afrikaans bevoordeel word bó ander tale?

Die standpunt oor bevoorregting

  • Dis ’n skreiende skande van ons regering dat Zulu-, Tswana- of Sotho-sprekers, nie hul tersiêre opleiding in hul moedertaal kan ontvang nie.
  • Die bewaring en bevordering van Afrikaans beteken glad nie dat dit ’n stryd is teen enige ander tale in Suid-Afrika nie.
  • Meeste Afrikaners wil op ’n regverdige wyse die geleentheid gegun word om op hul unieke manier by te dra tot die Suid-Afrikaanse samelewing en gemeenskap.
  • Afrikaners dring egter aan op kulturele vryheid.
  • Die reg om kultureel vry te wees kom geensins neer op bevoorregting nie.
  • Suid-Afrikaners behoort ons swak leiers aan te spreek om alle ander amptelike tale te ontwikkel tot hoëvlakmediums van onderrig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Disselboom ·

Daar het histories-filosofiese verwarring ingetree oor Afrikaans: Afrikaans, kerkwees (bv die drang tot Bybelvertaling het die taal ‘n groot kunsmatige hupstoot gegee), Afrikanervolkwees en die welsyn van die opbou van ‘n westerse land in Afrika was parallelle en ineengevleg.

Die Afrikaner is bereid om sy calvinisme, sy Dordtse belydenis en kultuurverskynsels wat uit die Bybel afgelei is, soos ‘n rustige, handelsvrye Sondag, te laat glip. So gesien is sy aandrang op die behoud van Afrikaans ‘n teenstrydigheid.

Tensy die vrae oor hoekom Afrikaans in die akademiese wêreld dan so belangrik is, geantwoord kan word. Tans is dit blote sentiment, en is daar verskynsels soos swakkerige onderwys, solank dit net Afrikaans (volkseie) is, wat mens baie laat dink aan die dwase “no education before liberation”. Hoeveel moet ‘n volk (let wel: dis mense wat moet kan bestaan) offer net vir ‘n taal?

Dis ‘n oop vraag, vir debat, nie ‘n klaargemaakte stelling nie. Disselboom het self sterk sentiment.

Karl Marx ·

As jy dink die onlangse betogings gaan oor die taal maak jy n groot fout. As die taal n probleem was kan die staat al lankal Afrikaans by skole weggeneem het en al die afrikaanse mense sal dan net ge moan het en oor dit gekom het.

Wat eintlik besig is om te gebeur is die opstanding van die werkersklas volgens die definisie van Marxisme.

Volgens die EFF se webtuiste vorm dit deel van hulle politiese beleid.

Marxisme is die kern punt van kommunidme.
.
Marxisme het in die verlede geval net deur geloof.

Theo Schoemn ·

Ons is so dankbaar dat Centurion Akademie as n privaat Afrikaanse universiteit so goed ondersteun word. CA streef daarna om n volwaardige universiteit in die nabye toekoms te word. Ons bedank al ons oud studente en ouers en al die huidige studente en ouers wat ons instaat stel ons elke jaar te groei.

christine ·

Disselboom kan sien jy is n Jingo. Die engelse wil hulle taal in my keelgat afdruk. Kan net sowel n bord om my nek hang “I wont speak Dutch” soos hulle al gedoen het. War meer is hulle het apartheid meer geniet glo my eks 66jr oud ek ken die waarheid. My ouers het nog nooit die werker op n Sondag laat inkom om ons luiaads se beddens te kom opmaak soos ons Engelse bure nie

Sarie ·

Wat ek graag by al hierdie universiteite sal wil sien is dat onafhanklike navorsing oor die waarde van moedertaalonderrig gedoen word en voorstelle hoe dit in die Suid-Afrikaanse konteks bereik kan word aan hierdie sogenaamde rade voorgelê word. Sommer ook aan die nasionale onderwysdepartement. Die maklikste uitweg is nie altyd die beste uitweg nie. Om na studente en dosente wat nie taalkundiges is nie en swaar dra aan ideologie en politieke oortuigings en ongetoetste propaganda, te luister is futiel. Ek kan maar net hoop dat rede sal seëvier. Ongelukkig is die teenoorgestelde waar.

John ·

Ons vergeet wat aanleiding gegee het tot ‘n groot deel van die Afrikaners se teenwoordigheid in Afrika. Die Franse Hugenote het vir godsdienstige vervolging gevlug en toe hulle hier aanland het die Engelse aan die Kaap hulle verbied om Franse skole te open. Afrikaans het ontstaan uit die mengelmoes van Frans, Duits, Hollands ens. Die regte van ‘verontregte’ slawe en Britse nonsens het die Boere daartoe gedryf om die wilde ooptes noord te verken. Engelse sendingskole het geweier om Afrikaanse kinders te help. Hulle was die bespotting van die Britte in die land. Hollandse matrose was die eerste onderwysers vir die voortrekkerkinders. Vandag is ons weer daar. Afrikaanse moet weg uit universiteite en die skole gaan ook die pad loop. Engels in die kerke en voorskrifte wat gepreek mag word? Is dit die volgende eis? Gaan ons maar totaal oorgee aan die vyand se kaperjolle of wakker word en besef ons dat die oorlog eintlik maar weer godsdienstig van aard is, soos destyds. Nou net meer verberg.

Chris du Plessis ·

Daar is soveel positiewe gemeenskapsenergie wat losgemaak word deur die taaldebat, en druk wat op Afrikaans as onderrigtaal geplaas word. Ek dink net wat almal moet onthou, is die geloof en selfvertroue om te weet dat jy internasionaal net so mededingend kan wees as enige Duitser, Switser, Sweed, Chinees en Fransman/ -vrou (almal mense wat vanaf skool tot universiteitsvlak hoofsaaklik in hul eie moedertaal geskool word) – die bewys lê in ons mense wat in Afrikaans geskool en deur universiteit is, en internasionaal hul merk maak.
Afrikaans is boonop een van ‘n handjievol tale in die wêreld waarin Kernfisika tot op atoomsplitsingvlak toegepas kan word. Dus, skep moet, neem deel en maak seker dat jy vir jouself en jou kinders die beste voordeel kan gee deur moedertaal onderrig, en help werk daaraan om dit ‘n moontlikheid vir al die taalgroepe in Suid-Afrika te maak. Ondersteun dus Afrikaanse skole en universiteite, privaat en openbaar – dit het ‘n reuse invloed op jou kind se posisionering in die wêreld van werk – plaaslik en internasionaal. Leer jou kind wel om ‘n tweede en selfs ‘n derde taal te leer praat deur behoorlike taalkursusse – om ‘n rekeningkunde handboek in Engels deur te blaai het nog nooit enige iemand behoorlik leer Engels praat nie!
Dit gaan ‘n groter invloed op kwaliteit opleiding in SA hê, as miljoene ekstra rande wat deur die department in ‘n wanfunksionele opleidingstelsel ingepomp word.

John ·

Dit is belangriker dat navorsing akkreditasie-waarde het as ‘n menigte geskrifte waarvan die inhoud amper-amper grens aan plagiaat. “The proof of the pudding…” le in die proe daarvan. Diegene wat Afrikaans afskree van die kampusse, gaan uiteindelik die vrug pluk van hul aksies. Tienderangse navorsing gee dieselfde waarde aan die universiteit wanneer dit wereldwyd kompeteer. Ek dink nie die Afrikaanse studente aan die UV se breine is oornag verwyder nie. Die egiptenare het die jode agterna gesit die dag toe hulle waai. Dit was te laat.

Stefan ·

Interessante debat. Ons is almal paaievol, maar ‘n mens wonder dikwels of dit ons erns is. Ek is geneig om met Disselboom saam te stem dat die voortbestaan van mense nie noodwendig gelyk is aan die voortbestaan van die taal nie.

Oral om my is Afrikaanse mense wat in Engels funksioneer, heeltemaal vrywillig. Ek ken baie Afrikaanse mense met besighede, maar nie een se besigheid het n Afrikaanse naam nie. Doen wat jy wil, niemand reik meer Afrikaanse kwotasies of fakture uit nie, en niemand skryf meer amptelike briewe vir mekaar in Afrikaans nie.
Is dit regtig ons erns?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.