Vrye mark of staat? Die oneindige debat

Argieffoto: Pixabay.com

Die vraag of die vrye mark, die staat of ’n kombinasie van albei die beste is om ekonomiese ewewig en vooruitgang vir almal te verseker, is al eeue oud. Die laaste woord is nog nooit gespreek nie.

Vir meeste van ons lesers sal die antwoord waarskynlik wees: “Die mark is beter as die staat” en as ’n mens na die lesse van die geskiedenis kyk, waar drastiese staatlike inmenging en sosialistiese stelsels nog elke keer ’n mislukking was, dan behoort daar nie eers ’n debat te wees nie. Dit hang natuurlik ook af wie die staat regeer. Met ’n sosialistiese ANC, wat die staat gebruik om sy ideologie af te forseer, sou minder staat en meer vryheid beter wees.

In die verlede het egter heelwat blanke Suid-Afrikaners gebaat by ’n staat wat in die ekonomie ingemeng het om sy mense te beskerm. Vandag glo die meerderheid Suid-Afrikaners aan staatlike inmenging in die ekonomie. Ook in Europa is daar ’n diepgewortelde geloof in ’n regulerende staat, ten spyte van die ooglopende voordele van ’n vrye mark. Trouens, selfs in die handboekvoorbeeld van die vrye mark, die VSA, is daar groot getalle kiesers, juis jongmense uit welvarende omstandighede, wat ’n sosialis soos Bernie Sanders aanhang.

Die probleem van die vrye mark is dat dit wel uiteindelik die gewenste uitkoms bereik, maar dat dinge vir lank skeefgetrek is. Mense roep in die tussentyd na drastiese, korttermynmaatreëls deur die staat, wat die markmeganisme versteur en die teendelige uitwerking van die goeie bedoelings het.

’n Praktiese voorbeeld van hoe die vrye mark dinge eers skeeftrek en wel later met verloop van tyd weer regstel, is die eiendomsmark.

Koste om te huur het in bykans alle groot stede, veral in die voorspoedige Weste, drasties gestyg. Die rede vir die stygings is nie soseer gulsigheid en die jaag na profyt nie, soos dikwels beweer word, maar vraag en aanbod: mense stroom na die stede vir goeie salarisse en lewensstyl, sowel die hoogs opgeleides met gesogte vaardighede, asook die armes en die vlugtelinge. Uit die aard van die saak maak dit huurplekke skaars en jaag dit die pryse op. Volgens die marklogika sal die verhoogde vraag daartoe lei dat meer huise gebou word om aan die behoeftes te voorsien, en in die toekoms sal die pryse weer in balans kom. Dit kan egter nog jare duur omdat die uitwys van nuwe boupersele en die goedkeuring van boupermitte lang neem, en natuurlik ook omdat die bouproses self ’n ruk neem. Om nie eens te praat van die tekort aan opgeleide ambagsmanne nie. Mense is egter nie tevrede dat dinge op die lange duur sal regkom nie, maar soek nou ingryping.

In Berlyn, byvoorbeeld, het die linkse stadsregering nou vir vyf jaar ’n verbod op die verhoging van huurtariewe geplaas. Wat is die effek? Ontwikkelaars sal eerder hotelle vir toeriste bou wat eweneens in die stede stroom, of hulle sal die huise eerder te koop as te huur aanbied, of hulle sal hul geld elders belê. Die staat kan natuurlik ook as ontwikkelaar optree en gesubsidieerde behuising voorsien, maar het ’n agtergrond van ondoeltreffendheid. Nêrens is die tekort aan huise (of enige dienste en produkte) so ooglopend soos in sterk gereguleerde state soos Kuba of die voormalige sosialistiese Oos-Europa nie. En Berlyn wys aan die hele wêreld dat hulle dekades vat om ’n nuwe lughawe te bou, dus hoe sal hulle dan spoedig behuising kan voorsien?

Dit behoort eintlik duidelik te wees dat die staat so min as moontlik in die ekonomie moet inmeng. Dit is wel so dat die vrye mark tot ongelykhede lei, omdat mense nie almal gelyk is nie. Dit is egter ook ’n feit dat ’n vrye ekonomie uiteindelik tot almal se voordeel is, al word nie almal gelyk welvarend nie. As die koek danksy ’n groeiende ekonomie groter word, kry elkeen ’n groter stuk van die koek, al is die stukke nie ewe groot nie. In die sosialisme kry almal net krummels, behalwe die staat wat die koek beheer.

Natuurlik kan die vrye mark ook nie alles reël nie, want die ekonomie is ook nie alles nie. Nadat aan mense se ekonomiese behoeftes, soos werk, inkomste, blyplek en lewensmiddele voorsien is, moet ’n samelewing ook funksies kan vervul wat nie suiwer ekonomies van aard is nie, te wete onderwys, kultuur, erfenis, gesondheid, veiligheid, ensovoorts. Heelwat daarvan kan natuurlik ook geprivatiseer word, maar ’n samelewing waar alles met ’n prysetiket kom, raak gou vlak en materialisties.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Sien daar is ok ‘n groen sleutelhouer vir die groenmannetjies wat groen van jaloesie gryp na dit wat aan ander behoort. Dit is nie ‘n oneindige debat nie. Dit is die sluwe eerste oortreder wat voortwoed. Onthou hoe die Duiwel vir Christus versoek het deur te beloof: Alles wat Jy hier sien… al die skatte… sal Joune wees as Jy my aanbid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.