Vryspraak: Dink voor jy doen in tyd van konflik

‘n Portret van Johannes Althusius. (Foto: Verskaf.)

Om te dink voor jy doen, is altyd belangrik, maar in ‘n tyd van spanning en konflik is dit noodsaaklik.

En as die spanning en konflik nie net ‘n kortstondige opflikkering van gevoelens is nie, maar in die weefsel van ‘n samelewing opgesluit lê, in sy grondliggende strukture soos dit in Suid-Afrika die geval is, moet mens nog harder daaroor dink. Diepliggende oorsake vir konflik word nie deur gemeenplase tot niet gemaak nie, ongeag hoeveel keer sulke gebrekkige antwoorde herhaal word.

Dit is, byvoorbeeld, onteenseglik waar dat almal in Suid-Afrika, selfs almal in Afrika lotsgebonde is. Dit sal nie op die lange duur met een volk goed gaan as dit met te veel ander te veel slegter gaan nie – daarmee sal niemand seker stry nie. Maar wat beteken dit as die een se goedgaan berus op sy besit van die ander se eiendom? Boere dink in die reël, en met goeie rede, nie aan hulself as gronddiewe nie, maar Julius Malema dink so aan hulle met die gevolg dat hul teenwoordigheid in dieselfde tyd en plek op botsing afstuur. Só beskou, word konflik ons lot.

Hoe harder sulke skeidslyne getrek word en hoe dieper elke groepering hom ingrawe, hoe moeiliker word dit om oplossings te vind wat buite die logika lê van “Dis ek of jy – en as dit van my afhang, is die nie jy nie!”

Met iets wat so diep in ‘n volk se gemoed lê soos dekades van plaasaanvalle en gewelddadige moorde wat nie deur die regering as krisis erken word nie, lê die oplossing kennelik nie op die vlak van bloot beter gesindhede nie, maar is dit die grondliggende samelewingstrukture wat aandag moet kry.

Die maklik om te sê, “Respekteer net eiendomsreg”, want die antwoord is gereed: “Herstel net historiese ongeregtighede” – en gou is dit nie ‘n vraag van logika of beleggingsekerheid nie, maar van mag en voorkeur. En dertig jaar ná die Suid-Afrikaanse “wonderwerk” is ons daar: al die belowende geleenthede wat deur ‘n ongekende prysgee van mag (van die een kant) en ‘n ondenkbare kompromie (van die ander kant) daargestel is, is deur die een ná die ander onbevoegde regering verspeel en nou wil ons mekaar aan die keel gryp. Nou sal ons sien, só dink rolspelers aan beide kante, waar lê die magsbalans in werklikheid.

Enigeen wat die koste van so ‘n konflik verstaan, sal alles doen om dit te vermy. As ons dit egter met dieselfde oplossings as in die verlede probeer doen, moet ons dieselfde ontoereikende resultate verwag. Dan sal ons hoogstens die botsing weer uitstel – elke keer vir ‘n korter periode.

Ons moet iets anders doen – en daarvoor moet ons anders dink. Maar hoe dink mens anders as jy dieselfde woorde en dieselfde “denkgereedskap” het om te gebruik? Dit is waarom diep denke en ‘n ondersoek na ons denkinstrumente juis in ’n krisistyd so belangrik is. Nadenke word maklik as ‘n luukse beskou, wat nog van nadenke oor nadenke wat vir die meeste mense aan die onsinnige grens!

En tog kan mens niks doen wat jy nie kan dink of jou voorstel nie, met die gevolg dat mens in die krisis vasval as jy nie ander denkwyses het om jou daaruit te kry as wat jou daarin gekry het nie.

Almal hoef nie in dieselfde mate daarby betrokke te wees nie, maar ‘n volk se denkers het in ’n krisistyd ‘n besondere verantwoordelikheid en ‘n geleentheid om ‘n verskil te maak. Denkleiers moet die denke en woorde vind wat ander leiers en rolspelers in staat stel om dinge te doen waaraan hulle andersins nie sou gedink het nie. En waar kry hulle dit? Dikwels in die vergete boeke en stowwerige argiewe wat vir die meeste van ons so ver van die werklikheid verwyderd lyk, en in die ivoortorings waarvan ons die denkers dikwels verdink word dat hulle daar van die werklikheid ontvlug.

Dink byvoorbeeld aan ‘n bykans vergete denker wat in 1603 ‘n boek skryf wat deur ander kompeterende skrywers en boeke vir vier eeue in die skadu gestel word – totdat iemand dit herontdek en opnuut waarde vir vandag daarin vind. Dit is natuurlik Johannes Althusius waarna verwys word en na sy grootse werk Politica: An Abridged Translation of Politics Methodically Set Forth and Illustrated with Sacred and Profane Examples.

Op die punt waar die moderne, sentralistiese en totalitêre territoriale staat begin vorm aanneem – op grond van ‘n staatsbeskouing wat so heersend geword het dat ons nie daarbuite gedink kry nie – het Althusius ‘n ander siening van sake verwoord. Die eenvoudige wonder daarvan is dat hy hom daarbuite kon bedink juis omdat dit toe nog nie so allesomvattend was as wat dit intussen geword het nie. Gevolglik sou dit ook nie sin maak om sy werk vandag soos ‘n handleiding of politieke resepteboek te lees nie.

(Grafika: Verskaf.)

Sy denke en die woorde waarin hy dit tot uitdrukking bring, hou egter die moontlikheid in om ‘n perspektief van buite op die heersende sienings, wat ook die spanning en konflik in Suid-Afrika vandag ten grondslag lê, te kry. Dit ontsluit die moontlikheid om nuwe dinge te dink en gevolglik nuwe dinge te doen. En Afrikaners – ‘n verspreide, maklik herkenbare en voorheen dominante klein minderheid sonder staatsgesag – het alle rede om sulke moontlike te ondersoek. Ons selfbehoud sal in die krag van ons denke en in ons deurdagte optrede lê, eerder as in ons vermoë om ons voorkeure op die hele Suid-Afrikaanse samelewing af te dwing.

Denkbeelde soos subsidiariteit, republikeinse federalisme, gedeelde soewereiniteit en ‘n grondige kritiek op ‘n staatlike of statistiese paradigma in die politiek, reg en kultuur wat aan die hand daarvan ontwikkel kan word, skep moontlikhede vir ‘n nuwe toekoms wat nie net die ou spanningslyne bevestig en herhaal nie. Om dit egter ons eie te maak, mag ‘n moeisame oefening wees, maar dit is nie net die moeite werd nie, dit is in die groter geheel gesien lewensnoodsaaklik.

  • Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 15 Oktober om 19:00 ‘n gesprek oor “Johannes Althusius en die kwessie van subsidiariteit” tussen Carel Boshoff en prof. Koos Malan, skrywer van There is no Supreme Constitution en Politokrasie, een van meer artikels oor Johannes Althusius in akademiese joernale.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Vryspaak is eintlik net vir EFF (Everything For Free) , ANC (All Notably Corrupted), SABCTV Licence Holders en diegene wat “JA” GESTEM HET.

Ratel ·

Met respek Chris, lyk my ek sukkel deesdae om net een persoon te kry wat, soos jy dit noem, “JA” gestem het nie. Ek het. Die meerderheid Nasionale Party kiesers het. Ek het dit gedoen omdat apartheid ‘n bose stelsel was en ek omgegee het (en steeds omgee) vir my land. Ek het “JA” gestem omdat Suid-Afrika waarskynlik ‘n burgeroorlog sou ervaar het indien ons nie verandering teweeg gebring het nie. En dat ons toenemend internasionaal geïsoleer sou word wat almal in Suid-Afrika sou benadeel. En nou word die huidige onbeholpe ANC regering, die EFF en sommer al die probleme wat Suid-Afrika ervaar voor my “JA” stem se deur gelê asof dit is wat ek en die ander “JA” stemmers wou gehad het vir ons land. Die enigste aanname wat ek kan maak Chris, is dat jy “NEE” gestem het en graag apartheid wou behou het en hunker na “die goeie ou dae”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.