Vryspraak: Uit watter bronne put ons in krisistye?

(Grafika: Verskaf)

Onder ‘n opskrif soos “Uit watter bronne put ons in krisistye?” kan mens ‘n geestelike dagstukkie verwag. Dit is egter nie wat hier ter sake is nie, veral nie as dit oor ‘n gesondheidskrisis en die maatreëls om dit te bekamp, gaan nie. Dan is die bron met hoogste gesag die mediese wetenskap, mikrobiologie, virologie, en wat meer. En tereg ook, want die wetenskap voorsien al vir ‘n eeu en meer die belangrikste antwoorde op sulke lewensvrae. Dit is die wetenskap wat mense se lewensverwagting wêreldwyd verhoog het en wat selfs die belangrikheid van iets soos basiese higiëne onder die aandag gebring het.

Ons lewe in ‘n tyd wat deur wetenskap en die toepassings daarvan, by name in die vorm van tegnologie, oorheers word. Dit geld ooglopend op die terrein van gesondheidsorg en heelkunde, maar geen aspek van ons daaglikse lewe is daardeur onaangeraak nie. Van die energie wat ons gebruik om ons kos voor te berei tot die vervoermiddels waarmee ons by die werk opdaag (as ons nog gelukkig genoeg is om te kan werk), van die klere wat ons aantrek tot die kos wat ons eet en elke ander ding waarmee ons in ‘n normale dag omgaan, dra die stempel van industriële produksie wat aan een of ander aspek van die wetenskap te danke is.

Geneties gemanipuleerde tamaties wat op ‘n ander kontinent in ‘n kweekhuis vervaardig is en op ‘n winkelrak lê en wag om terloops deur ‘n werkende moeder op pad huis toe opgepik te word en netnou op ‘n “tuisgemaakte” pizza (in aanhalingstekens, want die basis word bakgereed uit die vrieskas gehaal) te verskyn, getuig daarvan dat ons in verskeie opsigte “wetenskaplik” lewe. Die tafelgebed wat die eet van die pizza dalk nog voorafgaan, is ‘n belangrike simbool van ons besef dat die mens nog nie in alles in beheer is nie en dit is lofwaardig. Maar weer eens … uit watter bronne put ons in krisistye?

Die volgende aanhaling van Jeremy Beer uit die Front Porch Republic se tydskrif Local Culture (September 2020) demonstreer die punt uitstekend:

“Let’s begin by considering the sentence ‘We must follow the science.’ It is one we have heard, in various forms, repeatedly since about the middle of March 2020 via the various propaganda platforms that saturate our lives …

“No one who is today in a position of cultural authority ever says, ‘We must follow our guts.’ No one says, ‘We must follow tradition.’ No one says, ‘We must follow our religious leaders.’ No one says, ‘We must follow the poets.’ No one says, ‘We must follow what the majority decides.’ No one says, ‘We must follow those who displayed wisdom.’ …

“No, the widely held, seemingly unchallengeable cultural belief is: We must follow the science.”

Dat daar in sulke krisistye na wetenskaplike vertolking en advies gevra word, is hoegenaamd nie vreemd nie, inteendeel, dit sou onredelik wees om dit nie te doen nie. Maar dat die wetenskap uiteindelik die alomvattende bron van wysheid by die neem van omtrent alle lewensbesluite geword het, het verreikende gevolge. Dit bring mee dat een kant van die menslike gees en geestelike prestasies bo alle ander verhef word, dat Rede bo Geloof verhef word tot die mate dat dit eintlik niks minder nie as geloof in die Rede geword het.

Dit is waarna Ernst Roets, byvoorbeeld, verwys as hy in Perspektief, die Vryheidstigting se aanlyntydskrif skryf “Die ‘Dapper Nuwe Wêreld’ is nie so ver nie”. Hy verwys veral na Aldous Huxley se legendariese roman Brave New World wat in 1932 verskyn het en ‘n distopiese prentjie skets van die super stabiele toekoms wat vir ons wag as ons die weg van die wetenskap getrou volg. Soos in George Orwell se Nineteen Eighty-Four speel ‘n nouwel naïef geprojekteerde beeld van toekomstige wetenskap ‘n deurslaggewende rol daarin. Om die waarheid te sê, daar is omtrent geen ernstige wetenskapfiksie wat nie ‘n distopiese ondertoon laat hoor nie.

Nou sal geen intelligente mens seker aanvoer dat ons die wetenskap geheel en al moet verwerp nie. Van ons waardevolste kulturele (en natuurlik materiële) bates het ons aan die Verligting, wat as die oorsprong van moderne wetenskap en tegnologie beskou kan word, te danke, maar soos een van die kritici van die Verligting, Max Horkheimer, dit stel:

“If by enlightenment and intellectual progress we mean the freeing of man from superstitious belief in evil forces, in demons and fairies, in blind fate – in short, the emancipation from fear – then denunciation of what is currently called reason, is the greatest service reason can render.”

Die vraag oor die wêreld wat ons besig is om tegemoet te gaan, is wat Carel Boshoff en Ernst Roets in die Vryheidstigting se Vrysending Donderdagaand om 19:00 gaan besin.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.