VSA: Magsgreep van Demokrate eers gestuit

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die Demokratiese Party in die VSA beheer tans alle sentrums van mag: die presidentsamp, die Huis van Verteenwoordigers en (naelskraap) ook die Senaat. Die party self word beheer deur ʼn radikaal-linkse “woke” elite wat die land onherkenbaar wil verander en vir wie alles wat Amerika is en waarvoor dit histories staan, verwerplik is. Daardie elite is baie haastig om hulle agenda deurgevoer te kry, want dit gebeur selde dat een party alle sentrums van mag beheer. Die enigste teenvoeter is die Hooggeregshof, waar die meerderheid regters konserwatief is.

Om na die hoogs omstrede, om nie te sê bekookte verkiesing nie, seker te maak dat die Demokrate die meerderheid ook in die toekoms behou om hulle linkse “hervormings” (soos die Green New Deal), ʼn welsynstaat na Europese voorbeeld; massa-immigrasie; streng wapenbeheer; en die bevordering van alle sogenaamde minderhede bo die tradisionele Amerikaanse samelewing) deurgevoer te kry en te behou, is ʼn verandering van die kieswet nodig. Die VSA is ʼn sterk federale republiek, met veel mag gesetel op die vlak van die deelstate. Omdat die meerderheid deelstate deur die Republikeinse Party beheer word en die kieswette op staatsvlak bepaal word, wil die Demokrate meer mag op sentrale vlak konsentreer. Die wetsvoorstel se naam is eufemisties “For the People Act”.

Die plan is om briefstemme, wat eintlik die uitsondering is, die norm te maak. Verder sal die wetsvoorstel dit vir mense sonder identiteitsdokumente of vaste woonplek makliker maak om te stem. Die Demokrate se mag, soos die onlangse verkiesing weer bevestig het, bestaan grootliks uit twee blokke: ʼn voorspoedige, hiperliberale stedelike akademiese klas aan die een kant, en arm mense uit die sogenaamde minderheidsgroepe (Afro-Amerikaners en Spaans-Amerikaners), aan die ander kant. Albei groepe het wel gemeen dat hulle van die staat afhanklik is, óf deur hulle werk, óf deur welsynstoelaes. Dis veral die laasgenoemde groep wat in baie gevalle nie identiteitsdokumente het nie en ook nie veel moeite doen om te registreer nie. Dit was net deur die grootskaalse inbring (oes) van briefstemme onder soms ondeursigtige omstandighede wat die Demokrate die presidentsverkiesing laat wen het.

Die middelklas, wat self sy inkomste genereer en veral in kleiner dorpe woon, is veral kiesers van die Republikeine of onafhanklikes. Vir die linkervleuel van die Demokrate is sulke mense ʼn doring in die vlees en moet hulle stemkrag daarom permanent gekniehalter word. Die plan bestaan verder om nog twee state wat vir die Demokrate sal stem weens hulle etniese samestelling tot die VSA toe te voeg: Washington DC en Puerto Rico. Ander radikale voorstelle van die linkervleuel is ook om effektiewelik die polisie se befondsing op te droog. Volgens die radikales is die polisie rassisties en moet daarom afgeskaf word.

Sulke voorstelle vind egter geen meerderheid in die bevolking nie. Selfs in die Demokratiese Party, wat al ver na links geskuif het en waar radikale aktiviste soos Kamala Harris, Alexandria Ocasio-Cortez en Ilhan Omar deur drukgroepe skielik na vore gekom het, is daar enkeles wat ongemaklik is met die idee om die VSA en sy politieke stelsel, wat al vir eeue saamkom, radikaal te verander. Een van hulle is Joe Manchin, senator uit Wes-Virginië, ʼn staat wat veral sterk steun op steenkoolmyne en wie se kiesers veral die tradisionele werkersklas is. Ook Kyrsten Simena uit Arizona, alhoewel in meeste opsigte links, stel haar soms teen die partylinie op. Omdat die Demokrate in die senaat net ʼn papierdun meerderheid het, kon Manchin en Simena tot dusver nog radikale wetsvoorstelle verhoed.

Intussen maak ook oudpresident Donald Trump weer sy verskyning. Sy fut is nog lank nie uit nie en soos sy teenstander Joe Biden en die Demokrate hulle aanvanklike stoom verloor, behoort hy meer gereeld te sien en te hoor te wees, ten spyte van die internetreuse se poging om sy stem stil te maak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vrijburger ·

Die “radikaal-linkse “woke” elite” is ‘n baie goeie beskrywing. Tog, let daar op die “linkse’ se korrekte spelling is (s)linkse.

Jaco ·

Ek sien massa immigrasie is deel van die Demokrate se beleid. So hiers my voorstel: ramaphosa kan met sy vriend Joe Biden ooreenkom dat al SA se wit mense na Amerika gedeporteer word. Dit sal sommer ook wys hoe erg die Demokrate oor “human rights” is.

groenboer ·

Briefstemme is problematies om hierdie rede: hulle is nie geheim nie. Die hoof van ‘n huishouding (of plaaslike Mafioso) kan mense dwing om te stem soos hy wil hê hulle moet stem.

In ieder geval, ek volg ‘n konserwatiewerige Amerikaner op ‘n ander forum; hy seg hy is MAL oor die “woke” spulletjie, want niemand kan die linkses meer skade berokken as hulle nie. Amerikaners, volgens hom, is grootliks ‘n nasie van sentriste, en enigiets wat ruik na ekstremisme sit die stemmers onmiddellik af. Mens sien dit in hul verkiesings: geen party beheer lank die regering nie.

Blykbaar moet die Demokrate ook nie te veel vertrou op die Latino-stem nie, want hulle kom van baie Katolieke lande, en is dus al reeds konserwatiewerig. Wat meer is, meeste van hulle is wettig in die land nadat hulle deur die hele immigrasieproses geworstel het, en hulle is dus dikwels heftig gekant teen onwettige immigrante, selfs meer so as omtrent enigiemand anders.

Andrew ·

So nou vra ek wat gaan hulle met die mense doen wat weier om saam te speel en van alles behalwe hul Geloof ontneem was en nogsteeds nie saamspeel nie? Tronk, galg of ballingskap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.