Vuurwapens en padblokkades

Deur Marnus Kamfer

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n padblokkade. (Foto: Siyabulela Duda)

Die ongemak wat die staat en wetstoepassingsowerhede veroorsaak met betrekking tot die wettige besit van ʼn vuurwapen blyk nimmereindigend te wees. Net sodra wettige vuurwapeneienaars en organisasies soos AfriForum die een aanslag teen wettige vuurwapenbesit help afweer, volg die volgende aanslag.

Die mees onlangse frustrasie wat wettige vuurwapeneienaars ervaar, word vergestalt in padblokkades en lukrake, aanvallende en onredelike ondervraging oor vuurwapens wat gedurende dié padblokkades in die niksvermoedende bestuurder of passasier van die geteikende voertuig se besit is.

Hierdie modus operandi het in die laaste deel van verlede jaar hoogty gevier, waarna gevalle afgeneem het nadat klagtes en inligtingstukke deur verskeie organisasies aan hul lede versprei is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ook in ʼn poging om van sy lede se verskuilde agendas te beteuel, dokumente uitgevaardig wat die korrekte benadering uiteensit. Hierdie bogenoemde werkwyse vlam egter nou weer op, ondanks die bogemelde pogings. Dít kan ʼn jagekskursie, gesinsuitstappie, of selfs ʼn werksverwante reis in ʼn nagmerrie laat ontaard as wettige vuurwapeneienaars nie paraat en ingelig is oor hoe om padblokkades of konfrontasies van die aard te hanteer nie.

Bly kalm en beleefd

Indien ʼn wettige vuurwapeneienaar in die onbenydenswaardige posisie beland waar daar navraag gedoen word deur ʼn wetstoepassingsbeampte oor ʼn vuurwapen in die gemelde eienaar of sy passasiers se besit, sal dit wys wees om te alle tye beleefd op te tree teenoor die betrokke beampte en sy kollegas, of die betrokke beampte beleefd is of nie.

Om aanvallend en geïrriteerd voor te kom, is die spreekwoordelike olie op die vuur in dié tipe situasies. Samewerking moet ook ten alle tye verleen word in antwoord op regsgeldige versoeke.

Wat die wet sê

Ingevolge artikel 107 van die wet op die beheer van vuurwapens 60 van 2000, die wapenwet, moet ʼn vuurwapeneienaar, wat sy/ haar vuurwapen daar en dan by hom/ haar het, op ʼn polisiebeampte of ander gemagtigde persoon se versoek, die lisensie, permit of ander magtiging om die vuurwapen in sy/ haar besit te hê aan die gemelde beampte beskikbaar stel vir inspeksie. Daar word ook van die vuurwapeneienaar verwag om hom- of haarself op versoek na behore te identifiseer en die beampte kan selfs versoek dat die betrokke vuurwapen aan die beampte oorhandig moet word vir inspeksie.

Indien die vuurwapeneienaar nie die gemelde lisensie, permit of magtiging aan die beampte beskikbaar kan stel vir inspeksie nie, is die beampte by magte om beslag te lê op die vuurwapen tot en met sodanige lisensie, permit of magtiging wel beskikbaar gestel kan word, mits die beampte hom-/ haarself ook na behore identifiseer en sy/ haar aanstellingsertifikaat toon.

In gevalle waar die beampte onnodig venynig raak oor onbenullighede soos die wyse waarop die vuurwapen gedra word of dat die betrokke lisensie nie ʼn vuurwapeneienaar magtig om in ʼn spesifieke stadium ʼn vuurwapen met hom/ haar saam te ry nie, moet die situasie, oudergewoonte, kalm en rustig hanteer word en die beampte vriendelik attent gemaak word op die bestaande wetgewing in die verband.

Vervoer van ʼn vuurwapen

Artikel 84 van die wet gaan oor die wyses waarop vuurwapens by ʼn gemagtigde persoon of eienaar gedra kan word. Artikel 84 lui dat ʼn handwapen, in die openbaar, in ʼn skede of gepaste houer aan die persoon van die eienaar of gemagtigde persoon gedra moet word. Die skede of houer moet vir die doeleindes vervaardig, ontwerp of aangepas wees. Die handwapen kan ook gedra word in ʼn rugsak of soortgelyke houer.

Ongeag die wyse waarop die handwapen gedra word, moet dit bedek wees en moet die persoon wat die handwapen dra doeltreffende beheer daaroor uitoefen. Enige ander vuurwapen, anders as ʼn handwapen, moet ook in ʼn houer gedra word wat daarvoor vervaardig, ontwerp of aangepas is.

Alhoewel dit geargumenteer kan word dat die binnekant van ʼn motor nie ʼn openbare ruimte is nie en artikel 84, soos hierbo bespreek, nie pertinent van toepassing is nie, is dit altyd veiliger om oorversigtig te wees en nie die vuurwapen buite sy houer of skede ooglopend in die voertuig te vertoon nie. Vermy eerder ʼn konfrontasie oor die vuurwapen waar moontlik.

Die lisensie

Die tipe lisensie waaronder die betrokke vuurwapen gelisensieer is, hetsy selfverdediging, sportskiet (geleentheidsportskiet of toegewyde sportskiet) of jag (geleentheidheidsjag of toegewyde jag) beïnvloed nie die wyse waarop die vuurwapen vervoer en gedra moet of mag word nie. Moet egter onder geen omstandighede ʼn vriend of familielid se vuurwapen vir hom/ haar vervoer na byvoorbeeld ʼn jagplaas, as sy/ hy nie ook in dieselfde voertuig met sy/ haar geldige lisensie saamry nie.

Indien die eienaar van die vuurwapen ter sprake in ʼn ander voertuig as die vuurwapen is, kan die bestuurder van die voertuig wat die vuurwapen vervoer in warm water beland, weens ʼn oortreding van artikel 3 van die wet omdat die bestuurder dan in “besit” van die vuurwapen geag kan word sonder dat die bestuurder die nodige magtiging of lisensie het, of kan toon.

Kortliks, beskerm jouself sover moontlik by padblokkades deur:

  • jou vuurwapen nie ooglopend te vertoon nie;
  • ten alle tye vriendelik en rustig met die wetstoepassingsbeamptes om te gaan;
  • ʼn geldige lisensie of magtiging vir die vuurwapen in jou besit te hê;
  • ʼn afskrif van die tersaaklike wetgewing soos hierbo uiteengesit saam met jou in die voertuig te hê; en
  • nie omkoopgeld te betaal nie.

 

  • Marnus Kamfer is regs-en-risikobestuurder by AfriForum. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pierre ·

Baie goeie ding daar moet meer en meer van die tipe pad blokkades wees, ja dit kan gesien word as n frustrasie maar dien n belangrike doel in pogings om op onwettige vuurwapens beslag te le.

Harley Davidson ·

Klink vir my meer na ‘n magsvertoning deur die narre in blou.

Cherokee ·

Mag die eienaar van ‘n vuurwapen ‘n gestempelde (polisie/vuurwapenwinkel-stempel) afskrif van die lisensie, verkieslik in plastiekomhulsel, gebruik? Dìt hou die oorspronklike lisensie veilig.

Cherokee ·

Interessant wat jy sê, maar met nuwerwetse tegnieke kan ‘n fotostaat (of foto) ongelooflik oorspronklik vertoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.