Wat beteken Suid-Afrika se onttrekking aan die Internasionale Strafhof?

Omar al-Basjir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Maroela Media het vroeër ’n meningspeiling oor die Internasionale Strafhof (ISH) gehou waarin lesers kon aandui wat hulle dink van Suid-Afrika se besluit om hom aan die ISH te onttrek. Dit volg ná die fiasko in Junie vanjaar toe die Soedannese president, Omar al-Basjir, toegelaat is om die land te verlaat ten spyte daarvan dat die ISH ’n lasbrief uitgereik het dat hy in hegtenis geneem moet word, iets wat ISH-lidlande moet nakom. Altesaam 89% van Maroela Media se lesers het in die meningspeiling aangedui dat die onttrekking die SA regering vrye teuels sal gee om te doen wat hy wil. Slegs 1% het gesê die ISH het sy rigting verloor (dit is terloops die verskoning van die regering om SA te onttrek aan die hof).

Afgesien daarvan dat dit veelseggend is dat Maroela Media se lesers en die ANC-regering so radikaal verskil oor ’n bepaalde stap wat ooglopend teenproduktief teenoor Suid-Afrika se internasionale aansien is, moet die vraag beantwoord word: Wat beteken dit as ons ons aan die ISH onttrek? Benewens aansien en die sogenaamde “morele hoë grond” waaraan die regering vasklou sedert die dae van oudpres. Nelson Mandela se bewind, kan ons regtig iets daardeur verloor? Die saak is egter meer kompleks.

Dis ook insiggewend dat die ANC die regering se koers hieroor bepaal. Die ANC-subkomitee oor Internasionale Betrekkinge het volgens berigte die regering van pres. Jacob Zuma beveel om te onttrek, aangesien Afrikastate benadeel word deur die ISH se handelinge.

Só werk die ISH

Die ISH het amptelik as onafhanklike internasionale strafhof tot stand gekom in 2002 nadat die Roomse Statuut, wat die ISH ingestel het, deur lidlande onderteken is. Tans is daar 123 lidlande wat die ISH-statuut onderteken en bekragtig het (deur byvoorbeeld wetgewing). Dis interessant dat drie lande wat die statuut onderteken het, aangedui het dat hulle dit nie sal bekragtig nie, naamlik Soedan (voorspelbaar), maar ook die VSA en Israel. Sjina en Indië het die statuut glad nie onderteken nie.

Die ISH was die internasionale gemeenskap se antwoord op die volksmoorde/menseslagting en oorlogsmisdade wat in die 1990’s in Rwanda en die Balkanlande (veral in Bosnië) plaasgevind het en almal geskok het. Die ISH kan volksmoorde, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade wat eers ná die ISH se ontstaan in 2002 gepleeg is, ondersoek.

Die ISH, wat in Den Haag gesetel is, het tot dusver net nege ondersoeke geopen, almal in Afrika. Dit sluit in Soedan (die menseslagtings in Darfoer in 2003), die DRK, Uganda, Kenia, Libië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR), die Ivoorkus en Mali. In die nege ondersoeke is slegs 39 oortreders vervolg en tot dusver net twee mense skuldig bevind, vier is ontslaan en daar is hofsake teen nog agt aan die gang. Nie ’n baie goeie rekord ná 12 jaar se werk nie. Nietemin kan die ISH as afskrikmiddel dien vir potensiële oorlogsmisdadigers. Die grootste “vangs” is Laurent Gbagbo, voormalige staatshoof van die Ivoorkus, wie se verhoor eersdaags begin. Geen formele ondersoeke is tot dusver buite Afrika se grense geopen nie.

Word Afrika dus wel uitgesonder deur die ISH? Wel, dit lyk so op die oog af, maar Afrika het net soveel meer oorloë en binnekonflik die afgelope 12 jaar gehad waarin diktators en krygshere (war lords) hul magsdronkheid op barbaarse wyse ten toon gestel het. Dit is dus ’n geval dat Afrikadiktators en -krygshere meer geneig is tot die pleeg van volksmoorde en etniese suiwering as op ander vastelande. Afrikaregerings stem uiteraard nie hiermee saam nie. Baie beskou die ISH as ’n nuwe vorm van Westerse imperialisme wat slegs leiers van klein, swak Afrikastaatjies wil straf.

Die saak wat die meeste reaksie ontlok het, was die ondersoek teen Kenia se president, Uhuru Kenyatta, en sy adjunk, William Ruto, vir hul aandeel in volks- en etniese suiwering ná ʼn verkiesing wat skeefgeloop het in 2007. Die Keniaanse parlement het aangedui dat Kenia hom aan die ISH moet onttrek en aan 34 ander lande in Afrika, wat lede is van die ISH, gevra dat hulle dieselfde moet doen. [Kenyatta het intussen vrywillig voor die hof verskyn en aanklagte is later teruggetrek.]

’n Spesiale Afrikaunie-beraad is in Oktober 2013 gehou om hierdie aangeleentheid te bespreek. Pres. Jacob Zuma was hier erg gekant teen die ISH se beweerde vooroordele teen Afrikastate. As AU-voorsitter het Zimbabwe se pres. Robert Mugabe later Afrikastate gevra om die ISH te boikot. Die AU het ook voorgestel dat ’n Afrika-strafhof (ASH) eerder ingestel moet word, waarin Afrika self oortreders sal verhoor. Afrika het egter reeds ’n klompie howe wat veronderstel is om vergrype onder die loep te neem (soos die SA Ontwikkelingsgemeenskap – SAOG – se tribunaal), wat nie juis doeltreffend is nie. Daar is ook argumente dat die ASH alle dienende staats- of regeringshoofde moet uitsluit van vervolging.

Gevolge vir Suid-Afrika

Die ANC-regering het sedert die 1990’s stelselmatig wegbeweeg van die veronderstelling dat menseregte ’n belangrike onderdeel in sy buitelandse beleid is. Deesdae is die regering meer pragmaties en word daar eerder gefokus op samewerking in Afrika, alliansies soos BRICS en handelsbetrekkinge. In die proses was en is menseregteskenders en diktators soos Fidel Castro, Moeammar Ghaddafi, Omar al-Basjir en Robert Mugabe, om maar ’n paar te noem, nog altyd “intieme” vriende van die Suid-Afrikaanse regering.

Verder word betrekkinge met state uitgebou met swak menseregterekords soos Sjina, Rusland, Iran en Kuba. Ideologiese verbintenisse en Afrikasolidariteit is dus nou van meer belang. Sulke optrede is egter nie beperk tot Suid-Afrika nie. Die VSA wil niks met die ISH te doen hê nie, al is hulle voor in die koor oor menseregte. Dit is natuurlik om Amerikaanse militêre oortreders van menseregte in konflikgebiede soos Irak en Afganistan te beskerm, asook hul eie verbintenisse met diktators in lande soos Saoedi-Arabië. Insgelyks is state soos Sjina en Indië bekommerd dat hul binnekonflik of optredes teen minderheidsgroepe kan lei tot vervolging. Daarom wil hulle nie deel hê aan dié hof nie.

Dit bring ons weer terug by die vraag: Wat is die implikasie van Suid-Afrika se onttrekking aan die ISH? Eerstens het Suid-Afrika hom nog nie onttrek aan die ISH nie. Suid-Afrika sal eers Wet 27 van 2002, die Inwerkingstelling van die Roomse Statuut en die Internasionale Strafhofwet, moet terugtrek deur die parlement. Tweedens is daar ook ’n kennisgewingstydperk van een jaar aan die ISH van die voorneme om te onttrek voordat die parlement dit kan goedkeur. Dit vereis dus meer as die uitreiking van ’n verklaring. Derdens het die oorhoofse redes vir die ondersteuning van die vervolging van volksmoordenaars nie verander nie. Dit lyk nie of die SA regering die beginsel van vervolging van volksmoordenaars hiermee wil afskiet nie. Hulle wil net graag selektief te werk gaan en hul Afrikabroeders (veral staatshoofde) in die proses beskerm. Aan hierdie dubbele standaarde is ons in Suid-Afrika maar net té gewoond.

Gaan dit Suid-Afrika se internasionale beeld skaad? Waarskynlik nie veel nie. Suid-Afrika het reeds soveel faux pas begaan in sy selektiewe ondersteuning van diktators en die “morele hoë grond” lankal verloor. Ons uiteindelike onttrekking sal eerder as Afrikasolidariteit beskou word as om internasionale konvensies te verbreek. Gaan dit bilaterale betrekkinge beïnvloed? Waarskynlik ook nie. ’n Land soos Swede gaan byvoorbeeld nie die Suid-Afrikaanse ambassadeur inroep en ’n skrobbering gee oor ons onttrekking nie. Gaan dit handel of belegging beïnvloed? Nee, Suid-Afrika is self nie tans skuldig aan oorlogsmisdade nie, so maatskappye gaan hulle nie onttrek nie. Hulle is eerder bekommerd oor die kruipende sosialisme van die staat as sy onttrekking aan die ISH.

Gee die voorgenome onttrekking die regering dus vrye teuels om te doen wat hulle wil soos Maroela Media-lesers aangedui het? Hoewel die onttrekking dui op Suid-Afrika se onwilligheid om die ISH te ondersteun, is Suid-Afrika steeds gebonde aan ander internasionale konvensies en reëls. Die VN se Veiligheidsraad kan byvoorbeeld ingryp in ’n politieke of burgerlike konflik, sou dit uitbreek in Suid-Afrika.

Suid-Afrika se voorgenome onttrekking aan die ISH is onvanpas. Die boodskap is dat die beskerming van sommige despote belangriker vir Suid-Afrika is as om internasionale konvensies te eerbiedig. Die feit is egter dat deelname aan die ISH vrywillig is en dat Suid-Afrika as onafhanklike staat nie gedwing kan word om hieraan deel te hê nie. Die regering het dus vrye teuels om konvensies te bekragtig of te verlaat sonder regsgevolge. Suid-Afrika kan egter nie bekostig om as weerbarstig teenoor Westerse menseregte-sentiment beskou te word nie, aangesien dit maar gewoonlik die Weste is wat konflik in Afrika probeer ontlont of hulpverlening bied. Dit kan dus op langer termyn teenproduktief wees om vyandig hierteen op te tree.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Loeis ·

Vraag aan die skrywer:

“Die VN se Veiligheidsraad kan byvoorbeeld ingryp in ‘n politieke of burgerlike konflik, sou dit uitbreek in Suid-Afrika”

Is hierdie ook iets waartoe die regering ingestem het?

Jan maak n Plan ·

Vir die klomp sogenaamde leiers in Afrika beteken die ISH net mooi niks. Al wat dit vir hulle beteken is n lekker buitelandse eskursie. Daar is net ongelukkig een manier om hierdie ouens se ore oop te maak. Draai hulle geld kraantjie toe en roep hulle skuld op. As hulle mooi luister en doen wat gese word maak die kraantjie weer n bietjie oop. Die alternatief is die Mafia se manier om n probleem op te los, maar n Internasionale Hof gaan hulle nie skrik maak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.