Wat het verkeerd geloop?

Nelson Mandela op 16 April 1994 voor ‘n verkiesingsaamtrek. (Foto: ALEXANDER JOE / AFP)

Dertig jaar gelede moes die land verander om ʼn verskriklike einde af te weer. Drie dekades later staar ons ʼn eindelose verskrikking in die gesig.

Suid-Afrika is in 1994 met ongekende welwillendheid terugverwelkom in die internasionale stelsel. Hierdie globale geesdrif is nou vervang met wêreldwye teleurstelling. Bepalende aanwysers soos rekord werkloosheid, vervallende infrastruktuur, beroerde staatsfinansies, swak sakevertroue, verbrokkelende munisipale dienste en hoë misdaad dui op ʼn groeiende gevaar van staatsverval. Die vraag is wat het die afgelope jare só verkeerd gegaan dat baie mense vrees dat die post-94 bedeling misluk?

ʼn Belangrike deel van die antwoord lê dalk opgesluit in die antwoord wat die Russiese hervormer Michael Gorbatshof in die laat tagtigs aan ʼn Westerse joernalis gegee het.

Díe wou weet of die eindpunt van sy “Peristroika” ʼn sosiaal-demokratiese stelsel soos Swede gaan wees? “Dis ʼn goeie idee”, het Gorbatshof lakonies geantwoord, “maar waar gaan ons al die Swede kry?” Daardeur wou hy die ingewikkelde verband tussen kultuur-, politieke- en ekonomiese stelsels aantoon.

Die verloop van sake oor die afgelope drie dekades in Rusland en Suid-Afrika, toon dat die huwelik tussen kultuur en politiek nie noodwendig so lank en gelukkig saamwoon as wat die Weste in die vroeë negentigs aanvaar het nie.

Tydsgees

Die Weste het destyds die val van kommunisme as die finale oorwinning van die Westerse liberale demokrasie gesien. Dit was vir hulle nie net ʼn bewys dat kommunisme nie kon werk nie, maar dat die Westerse liberale kapitalisme die eindpunt én hoogtepunt van menslike ontwikkeling was. Dít was nou die universele wêreldstandaard waarop die mensdom in hulle eie belang standaardiseer moes word.

Amerikaanse president Ronald Reagan op 21 November 1985 waar hy met president van die Sowjetunie Mikhail Gorbatsjof praat tydens ‘n beraad tussen die supermoondhede in Genève. (Foto: AFP)

Dis asof die wêreld as’t ware nou Westers geword het – ʼn siening aangehelp deur die feit dat die VSA die enigste oorblywende supermoondheid was. Daar is geglo dat kultuur en ander ideologieë as liberalisme nie werklik meer saakmakend was nie. Dit sou voortaan die reg en plig van Westerse state wees om die wêreldwye uitvoer van hulle binnelandse beleid die hoeksteen van hulle buitelandse beleid te maak. Daarom is liberale demokrasie met ʼn kombinasie van wortel en stok wêreldwyd bevorder en soms self afgedwing.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet is in hierdie era van die triomf van Westerse liberale demokrasie onderhandel, en adem daardie tydsgees in.

Transformasie

Dertig jaar later is dit egter duidelik dat die wêreld toe nou nie Westers geword het nie. Die opkoms van China, en die toenemend selfgeldende optredes van magsblokke soos Rusland, Indië, die Moslemwêreld en die stigting van Brics is belangrike tekens daarvan. Die afdwing van Westerse stelsels word nou al meer vertolk as ʼn poging om kolonialisme voort te sit met ander middele. Die werklikheid het egter gewys dat Westerse stelsels nie eers in die Weste foutloos werk nie, en gereeld in nie-Westerse lande misluk. Die Chicago Law School het selfs bevind dat die gemiddelde lewensverwagting van grondwette nou net 19 jaar is, en dat hierdie lewensduur selfs verder afneem.

Brasilië se pres. Luiz Inacio da Silva, China se pres. Xi Jinping, pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika, Indiese eerste minister Narendra Modi en Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov tydens 2023 se Brics-beraad. (Foto: GCIS)

In Suid-Afrika het die letter van die Grondwet nog nie verander nie, maar in die praktyk lyk dit al heeltemal anders as toe dit drie dekades gelede opgestel is. Ten spyte van die waarborg van nie-rassigheid in Artikel 1, het die ANC volgens die IRR sedert 1994 nou al 116 rassewette gemaak.

Daarby het grondwetlike “gelykheid” en ʼn verbod op diskriminasie in die werklikheid ʼn rasseformule van 80/9/9/2 geword, het 11 amptelike tale in praktyk by een geëindig, en het daar nie veel gekom van almal se regte op veiligheid, werkende dienste en elektrisiteit nie. Daarby is eiendomsreg in die spervuur, meng die staat op groot skaal in die ekonomie in, en het die strafregstelsel tot stilstand geknars as dit by die vervolging van politici en senior staatsamptenare kom.

Ten spyte van die haglike ekonomie en verswakte staatsdiens, druk die ANC terselfdertyd deur met onbekostigbare en onwerkbare sosialistiese beleidsrigtings soos die nasionale gesondheidsversekering. Die Staatsideologie wat deur die uitvoerende, wetgewende én regterlike gesag gedeel word, is nou radikale transformasie – ʼn woord wat nie eers in die Grondwet voorkom nie. Die groot skikking van die negentigs het nie aan goeie voornemens ontbreek nie. Tog word ʼn bedeling aan sy werklike uitkomste in plaas van sy bedoelings beoordeel.

ANC

Die Standfordse politieke wetenskaplike, Francis Fukuyama, word gewoonlik vereenselwig met sy 1993-standpunt dat die “einde van die geskiedenis aangebreek het”, en dat die “Westerse liberale demokrasie nou die finale vorm van menslike regering geword het”. Sy idees word verbind aan die demokratisering van talle lande, waaronder Suid-Afrika. Die probleem is dat Fukuyama meer aangehaal as werklik gelees word. Hy het groot voorbehoude uitgespreek oor ʼn simplistiese eenheidsbestel in Suid-Afrika, en was veral skepties oor die ANC.

ANC- en Nelson Mandela-ondersteuners neem deel aan ‘n massaverkiesingsveldtog in Mahwelereng buite Potgietersrus voor die algemene verkiesing van 27 April 1994. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Hy het onder meer gewaarsku dat ʼn multinasionale eenheidstaat nie maklik ʼn gewone demokrasie kan word nie, omdat die meerderheidsgroep in die praktyk die land sal beheer. Hy het ook gesê dat “South Africa’s constitutional democracy is a sort of foreign body that’s sitting on top of a society that’s not modernised in other respects.”

Hy het ook staatskaping, kaderontplooing, korrupsie en die gevolglike staatsverswakking voorsien: “In Africa the colonial state was seen as something to be captured because it offered control of resources.” “So, after independence, you get a whole lot of fighting over the state.” “It’s a perfectly natural tendency to want, in the name of political control, to distribute positions in the state as payoffs for political support. But that weakens the state because it’s not based on merit.”

Sosialisme

Sy sterkste waarskuwing oor die beleid van ʼn toekomstige ANC-regering het hy in 1993 gerig: “The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies. Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the real world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition. The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.

Hy het ook gewaarsku dat multinasionale state nie demokratiese eenheidstate kan wees nie, omdat dit net tot die oorheersing van die meerderheid sal lei en nie tot ʼn werklike demokrasie nie.

Francis Fukuyama op 6 Oktober 2022 (Foto: Ying Tang / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Fukuyama was nie die enigste kenner wat voorbehoude oor Suid-Afrika onder die ANC uitgespreek het nie. Prof. Samuel Huntington van Harvard het gewaarsku dat “ideology is a weak glue to hold together people otherwise lacking racial, ethnic, and cultural sources of community”. Hy het al in 1996 voorsien dat “ʼn langtermynproses van ont-Westering in Afrika aan die gang is waar die belange en invloed van die Westerse afneem terwyl die inheemse kultuur homself laat geld, en waar Suid-Afrika mettertyd die Afrikaner-Engelse elemente in sy kultuur ondergeskik aan dié van Afrika gaan maak.”

Denkfout

So wat het verkeerd gegaan? Die denkfout van die onderhandelings van die vroeë negentigs, was dat die wêreld – insluitende Suid-Afrika – nou “Westers” geword het. Daar is geglo dat die ANC ʼn moderne Westerse staatsbestel gaan voortsit, en dat sosialisme en kultuur nie meer ʼn bepalende rol in die land se toekoms sou speel nie. Die aanname dat almal nou liberale Westerlinge sou wees is in werklikheid nie net ʼn gevaarlike Westerse denkfout nie, maar in wese ʼn meerderwaardige disrespek van ander kulture en die politieke-, ekonomiese- en juridiese stelsels wat hulle voorstaan.

Oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk tydens vredesamesprekings op 6 Augustus 1990 (Bron: AlJazeera)

Dit het ʼn tyd geneem voordat besef is dat Suid-Afrika ʼn Afrikastaat geword het, en dat die ANC steeds aan ʼn derdewêreldse ideologie vasgeklou het wat die land onvermydelik sou demoderniseer.

Die probleem lê dus veel dieper as ʼn kriminele leier soos mnr. Zuma, ʼn hopelose een soos mnr. Ramaphosa, of ʼn onbevoegde regering soos die ANC.

Die verval van die land, die regsorde en die ekonomie dui op ʼn dieper probleem: die verwerping van verwestering en die instellings wat daaruit voortspruit. Huntington noem hierdie verskynsel  “tweedegeslag verinheemsing” van post-koloniale lande. Die eerste geslag kom met Westerse stelsels aan bewind ter wille van Westerse steun, maar nadat die nasionale – en globale magsbalans verander het, keer hulle grootliks weer terug na hulle oorspronklike ideologie en kultuur.

Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, aan die woord (Foto: Solidariteit)

Suid-Afrika se demodernisering word gedryf deur dieselfde kragte wat in die pad van die modernisering en industrialisering van vele Afrikastate staan.

Daarom is politieke verandering alleen nie genoeg om die krisis die hoof te bied nie, maar is staatkundige hervorming wat die werklikhede van die land verreken ook noodsaaklik. Wedersydse erkenning en respek van die kulturele verskeidenheid van die land behoort die grondslag van ʼn herskikking te wees, eerder as die vertrekpunt dat ʼn bepaalde kultuur en die instellings wat daaruit voortspruit die ander moet oorheers. Demokrasie moet almal se vryheid verseker, en nie net ʼn dekmantel vir demografiese oorheersing wees nie.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit gaan nie werklik oor die Weste nie. Dit gaan oor gewone ordelike en beskaafde mense vs. die res.

Treurwilger ·

‘n Skitterende artikel!
Francis Fukuyama klink na een van die dungesaaide briljante persoonlikhede in die wêreld van staatkunde.
Dink net wat sou hy vir Suid-Afrika om die Kodesa-onderhandelingstafel kon beteken.

Joe ·

Uitstekende artikel, Mnr Buys!
Verlede jaar het Dr Pali Lehohla, gewese statistikus-generaal, die mening uitgespreek dat die 2024 verkiesing liewers uitgestel moet. Hy is soos volg aangehaal: “Former Statistician-General Dr Pali Lehohla believes the past 15 years have been marked by a reversal of South Africa’s democratic gains. Next year’s elections should be postponed, he argues, to hold Codesa-like discussions on the country’s future….. He said that towards the end of apartheid, when South Africa was faced with racial, ethnic and ideological civil strife, its salvation came in the form of the Codesa (Convention for a Democratic South Africa) talks, which ushered in the Constitution. Perhaps it is time we consider a similar intervention. We have to consider whether it would not be worthwhile to hold wide-ranging talks involving all stakeholders, including communities, civic groups, politicians, business and religious organisations to determine the future of the country we all love.”
Teen die agtergrond van Flip Buys se artikel, maak Dr Lehohla se voorstel dalk sin?

Sokrates ·

Skitterend! Diep nadenke ver weg van eenvoudige ideologiese posisionering onderlê hierdie argumente. Die toekoms moet op nuwe maniere herbedink en herverbeel word. Want die wêreld het drasties verander. Dankie vir visionêre denkers en voorlopers soos Flip Buys.

Laksman ·

Wat het verkeerd geloop???? Het PW dan nie jare terug al gesê wat verkeerd gaan loop nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Te laat vir nuwe onderhandelings. Met die die ANC, EFF en MK in beheer lyk sake maar sleg. Hulle speel die kitaar.

minnie muis ·

terroriste kan nooit n ekonomiese land regeer nie , dis nou bewys in sa

Marthinus W ·

Wladimir Poetin het nou die dag gese dat die slagkreet “Rusland vir die Russe” hom baie beangs maak. Hy is president van 190 volke met omtrent 100 tale, en geen volk moet oorheers nie; dis een land, waarin almal moet saam leef. Die Joodse raad van Rusland het onlangs genoem dat Rusland die enigste plek op aarde is waar Jode hul kultuur en godsdiens vry kan uitleef, al is hulle n minderheid; die Moslems voel dieselfde.

Een van die foute wat ons vandag maak, is om by Amerika te gaan kla. Kla eerder by Moskou en Beijing; hulle het meer invloed in Pretoria, en hulle is, ten spyte van wat die media verkondig, baie meer demokraties. Hulle doen meer vir die minderhede in hulle lande as wat die ANC doen. [Ons onderhandelaars was naief, en het gedink jy kan met die ANC onderhandel; Cyril het al gespog dat hy en Mandela geskok was oor al die toegewings wat FW se span gemaak het.]

koos ·

“backwardness” slaam die spyker op sy kop. Gaan google “her name is mis Ann” op youtube.

koos ·

“backwardness” slaam die spyker op sy kop. Gaan google “her name is miss Ann” op youtube.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.