Wat hou ‘Brexit’ vir die wêreld in?

Foto Brexit

www.connectpa.co.uk

Die nuusmedia is vol van die referendum wat op Donderdag 23 Junie oor Brittanje se voortgesette deelname aan die Europese Unie (EU) gaan plaasvind. Die EU is ʼn ekonomiese en politieke unie van 28 lande in Europa waarin vrye beweging van goedere, kapitaal, dienste en burgers van lidlande plaasvind. Dit beteken daar is bewegings- en handelsvryheid tussen die state en grensbeheer is in geheel afgeskaf.

Die referendum is gedoop “Brexit” wat eintlik maar ʼn kombinasie is van “Britain” en “exit”. Die vraag wat gevra word in die referendum is dus: Moet Brittanje sy lidmaatskap van die EU opskort (“exit”) of nie? Tans is die uitslag volgens die meeste meningspeilings op ʼn mespunt gebalanseer, na gelang van watter meningspeiling as gesaghebbend beskou word: ongeveer 44% vir “Brexit”, 44% daarteen en die res is onseker.

Maar wat presies beteken die hele proses? Indien die kiesers besluit dat Brittanje binne die EU bly, verander bitter min. Indien die kiesers wel instem om die EU te verlaat, is dit ʼn ander storie. Die meeste nuusstories oor Brittanje se onttrekking aan die EU is baie eensydig en skets ʼn donker prentjie van ekonomiese agteruitgang, belasting op handel, werksverliese en sekuriteitsrisiko’s.

Kom ons fokus eerder op die moontlikheid dat Brittanje wel die EU verlaat en probeer dan ontleed wat die werklike impak van Brittanje se onttrekking aan die EU sal wees.

Wat is die posisie tans?

Tans is Brittanje nie heeltemal ʼn volle deelnemer aan die EU se prosesse nie. Brittanje neem nie deel aan twee prosesse wat ander Europese lande wel ondersteun nie. Dit is reeds uniek in ʼn Europese konteks.

Eerstens is Brittanje nie deel van die Eurosone nie, met ander woorde Brittanje het nooit die euro as sy geldeenheid aanvaar soos meeste van die ander EU-lande nie. Die Britse pond is as geldeenheid behou. Die impak op die pond sal dus minder dramaties wees as wanneer ʼn ander EU-lidland – soos Frankryk – die EU sou verlaat. Die sterkte van die geldeenheid sal dus maar soos van ouds bepaal word: markskommelinge met stygings en dalings namate investeerders en markte “Brexit” ervaar.

Tweedens is Brittanje nie deel van die Schengen-visumstelsel nie. Dit beteken dat ʼn Suid-Afrikaner wat na Frankryk reis en ʼn Schengen-visum vir Europa kry, wel tans ʼn bykomende visum net vir Brittanje benodig.

Die belangrikste is egter dat as Brittanje die EU verlaat, dit nie ʼn enkele gebeurtenis is nie en die Britte nie skielik Vrydag nie meer deel van die EU sal wees nie. Dit is ʼn proses wat eers in 2019 voltrek sal word. Dit beteken Brittanje en die EU sal genoeg tyd hê om te onderhandel oor handelsooreenkomste, immigrasie en sekuriteit, die vernaamste struikelblokke waaroor eers besin moet word.

Verder sal dit heel moontlik die einde van die pad vir die Konserwatiewe Party se Britse eerste minister, David Cameron, wees. Cameron is ʼn sterk voorstaander van aanbly in die EU, terwyl die voormalige Londense burgemeester, die flambojante Boris Johnson, heel moontlik sal poog om die nuwe eerste minister te word. Johnson is een van die vernaamste voorstanders om die EU te verlaat.

Impak op die ekonomie en handel

Baie skeptici voorspel dat Brittanje se ekonomiese groei en investering gekortwiek sal word as die EU verlaat word. Dit is hoogstens spekulatief, meestal daarop gegrond dat markte nie van veranderinge hou nie. Op die lange duur is daar egter geen duidelikheid dat die Britse ekonomie wel so erg geskaad sal word nie. Brittanje sal egter met die EU moet onderhandel oor tariewe, vervoer van goedere, grensbeheer en belastings. Aangesien Brittanje tans die wêreld se vyfde grootste ekonomie is, kan egter nie voorsien word dat die Europeërs sommer drakoniese maatreëls teen Britse goedere sal instel nie.

ʼn EU-skeptikus, die leier van die konserwatiewe Britse onafhanklikheidsparty (Ukip), Nigel Farage, wys daarop dat Noorweë ook buite die EU-handelsgebied is, en steeds toegang tot die EU-markte het, maar sonder EU se interne beperkings.

Daar word ook voorspellings gemaak oor die invloed van “Brexit” op Suid-Afrika se handel met Brittanje, wat nog steeds een van ons belangrikste handelsvennote is, teen ongeveer R80 miljard ʼn jaar. Dit is veral noudat die EU met Suid-Afrika en sy onmiddellike buurlande (uitsluitend Zimbabwe) ʼn ooreenkoms gesluit het om tariewe af te skaal en handel te vergemaklik. Niks verhoed Brittanje egter om onafhanklik dieselfde en selfs beter ooreenkomste met Suid-Afrika te sluit nie. “Brexit” sal nietemin aanvanklik ʼn invloed hê, omdat nuwe werklikhede geskep moet word om handel te bevorder.

Immigrante

Immigrasie van ekonomiese en politieke vlugtelinge en fortuinsoekers uit die Midde-Ooste en Afrika is sonder twyfel die belangrikste punt waarom die Britte dalk die EU sal verlaat.

Danksy die EU se ooreenkomste kan Brittanje nie tans lidlande van die EU se burgers verhoed om in Brittanje te bly of werk nie en prakties gesproke ook nie onwettige immigrante nie. In die laaste klompie jaar het heelwat burgers van Oos- en Sentraal-Europa (wettiglik) in Brittanje kom woon en werk. Volgens amptelike statistieke is dit ongeveer 1 miljoen vanaf hierdie streke, asook ongeveer 800 000 ander Wes-Europeërs.

Daar is ook ongeveer 3 miljoen werkers van buite die EU, baie onwettig of “vlugtelinge”. Onwettige immigrasie sal betreklik maklik stopgesit kan word aangesien grensbeheer maklik op Brittanje, wat ʼn eiland is, toegepas kan word.

Indien “Brexit” plaasvind, sal vrye beweging oor Brittanje se grense met Europa moontlik in die slag bly, en meer as 75% van ander EU-lande se burgers wat tans in Brittanje bly, sal nie aan visumvereistes voldoen nie (soos die meeste Suid-Afrikaners wat nie oor skaars vaardighede beskik nie en nie kwalifiseer om in Brittanje te werk nie). Die nuwe vereistes sal egter slegs vir nuwe aansoekers geld. Britte sal natuurlik ook nie in die EU-lande sonder beperkings kan werk nie.

Sekuriteit

Baie teenstanders van Brittanje se verwerping van EU-status wys daarop dat die EU-magsblok sekuriteit versterk in Europa en Brittanje ook beskerm. Dit is egter ʼn wanopvatting. Brittanje sal steeds deel van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) bly. Verder het vorige Europese pogings om konflik op te los meestal misluk in konflikgebiede soos Serwië en Sirië. Brittanje sal egter makliker teen moontlike aanvalle van buitelandse terroriste kan optree aangesien grensbeheer toegepas word.

Konserwatiewe teen liberale

Dit moet ook in ag geneem word dat Brittanje nie die enigste Europese land is wat met hierdie vraag (om die EU te verlaat) worstel nie. Namate terreuraanvalle toeneem en Europa stelselmatig verswelg word deur kultuur-, taal- en godsdiensvreemdes, word nasionalistiese partye in Europa sterker. Pas laas maand het die anti-EU-kandidaat in die presidentsverkiesing in Oostenryk net-net verloor teen ʼn sosialis. Ook in Frankryk, Duitsland en selfs Nederland neem teenstand teen die EU vinnig toe. Namate maatskaplike, veiligheids- en immigrasieprobleme toeneem, sal die stryd tussen die konserwatiewe en liberale toeneem en kan die EU in elk geval in die volgende paar jaar hieroor begin verkrummel.

So waar laat dit ons? Is dit ʼn goeie of slegte idee dat Brittanje die EU verlaat? Dit hang seker af wat jou uitgangspunt is. As jy ʼn voorstander van vrye handel en vrye beweging van werkers oor die grense is, is dit positief om in die EU te bly. Is jy egter ʼn voorstander van eie kultuur, eie taal, eie geldeenheid en verbeterde nasionale sekuriteit, is dit sekerlik beter om buite die EU te staan.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Loeis ·

Dit sal ook vir ons beter wees om buite die Affrika Unie te staan, en steng grensbeheer toe te pas.

John ·

Duitsland het geleidelik die beheer oorgeneem in die EU en bestuur die unie baie nazi-agtig. Engeland het nog nooit ‘n baas oor hom geveel nie, maar die inwoners het gewoond geword aan die idee en ‘veilig’ gevoel. Wat my betref kan Brittanje na die maan vlieg, maar as ek hulle was sou ek uitbeweeg, want die EU se geldkoffer is amper leeg, immigrante stroom ongenooid in en Europa soek lande om hul soheen te pos.

Engels ·

Die Britte besef nou uiteindelik waarom selfbeskikking belangrik is. Hulle sou mos ons almal “verenig”. Lekker, kry vir julle.

Fanie ·

Briljante ontleding- beter as die bevooroordeelde berigte orals in die media- tot die Economist!

Therese van Schalkwyk ·

Nico Stegmann, jou doring! Was meer kommentators maar in staat tot gebalanseerde opinies.

Daar is by my geen twyfel dat die sekuriteitskwessie alléén al rede genoeg is om uit die EU te verkas nie. Angela Merkel het baie groter gehap as wat sy en haar bure kan kou. Dit is dalk reeds te laat en lang trane gaan nog gehuil word.

Koosie ·

So om op te som: Bly in EU bevoordeel die wat geld najaag vir so lank as wat jy die koek kan melk voor dit leeggesuig is, of gaan uit EU as jou mense vir jou belangrik is. Dis eenvoudig geld vs mense.

Anny ·

Die Britte is al vir eeue baie slimmer as dit by landsake kom as ander lande. Ek glo soos hulle in selfbeskikking. Ek sou ook exit gestem het . Wens ons het hier ook n keuse vir selfbeskikking gehad

Sann ·

Anny, jy het ‘n keuse : Orania. Moenie dat ander mense se vooroordeel jou afskrik nie. Hulle bou op liefde vir wat eie is, nie uit haat vir wat anders is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.