Wat is ‘n voorheen benadeelde taal?

Veeltaligheid in Suid-Afrika

Wat is ‘n voorheen benadeelde taal? Die onlangse voorstelle vir wysigings aan die Wetsontwerp vir Suid-Afrikaanse tale het die wenkbroue laat lig. Die Parlementêre portefeuljekomitee beveel aan dat nasionale entiteite drie tale as voorkeurtale vir amptelike kommunikasie kies: Met die aanname dat Afrikaans en Engels die bevoordeelde tale is, word aanbeveel dat benewens een van bogenoemde tale twee ander voorheen benadeelde tale as voertaal gekies word.

In werklikheid is dit ‘n doodhou vir Afrikaans, want in hierdie opset lê ‘n keuse vir Engels voor die hand liggend. Afrikaans word per definisie uitgesluit. ‘n Mens wil jou egter afvra wat presies ‘n voorheen benadeelde taal is. Afrikaans en Engels is in die vorige bedeling wel as die amptelike tale erken en is so bevoordeel, maar is die ander tale daarmee noodwendig onderdruk en benadeel?

Ja, veral in die sin dat twee ander tale – een ‘n koloniale taal – vooruitgeskuif is as amptelike voertale met al die voordele daaraan verbonde. Afrikaans het in sy dekadelange bestaan (ook in ‘n tyd van intensiewe anglisering en vóór apartheid) – deur sy handjievol sprekers gegroei en gebloei. Van Suid-Afrika se belangrikste digters – neem maar N.P. van Wyk Louw – het onsterflike verse geskryf – neem sy RAKA as epos van wêreldgehalte. Ek noem hom as voorbeeld naas baie ander.

Waar is dan byvoorbeeld die hoëgehalteskrywers van die sogenaamde benadeelde tale? Was daardie skrywers maar nie altyd aangetrokke tot Engels nie en het hulle hul moedertaal nie maar dikwels links laat lê nie? Is die skrywers in dié tale noodwendig so onderdruk dat hulle nie werk van gehalte kon lewer nie? Alle volke en tale lewer tog talente op, soms juis onder druk van bv. politiek ongunstige omstandighede. Die Nobelprys is ook al toegeken aan skrywers wat in “benadeelde” tale geskryf het.

Is ‘n taal die etiket “benadeel” waardig as sy sprekers nie regtig trots op daardie taal is nie? Waarom is departemente vir Afrikatale by universiteite besig om drasties te krimp? UNISA het op ‘n tydstip meer as 100 dosente in sy Departement Afrikatale gehad. Vandag is daar minder as die helfte. Na verneem word, gaan baie van die departemente Afrika¬tale by universiteite die kreeftegang. Mag ek die afleiding maak dat die meerderheid sprekers van daardie taal geen snars omgee vir die bevordering van hulle eie taal nie. Ja, Afrikaans (anno 1976) is afgedwing op mense. Maar die vorige regering het baie gedoen om in tuislande plaaslike tale te bevorder. Kanse om die taalgeleenthede wat wel gebied is te benut, is nie aangegryp nie. Politieke frustrasie en woede het alles oorwoeker: Die kind is met die badwater uitgegooi, omdat politieke vryheid in die hitte van die stryd – en seker verstaanbaar – baie meer beteken het as enigiets anders.

‘n Amptelike verheffing van ‘n sogenaamde “benadeelde” taal deur bogenoemde voorgestelde wetgewing gaan daardie taal niks in die sak bring as die sprekers van daardie taal hulle nie ook daarvoor beywer om die hoër vorme van daardie taal te bevorder nie. Of sal hulle maar net tevrede wees om hulle kragrekening in die “benadeelde” taal te ontvang? Waar is die Akademie vir Zoeloe of ʼn akademie vir enige van die ander tale? ʼn Taal is nie slegs ʼn gebruiksvoorwerp nie – dit moet in al sy geledinge gekoester word, byvoorbeeld deur so iets soos ʼn Akademie.

Die wetgewers moet maar weer dink oor hulle begrip van die term “benadeel”. Is die term nie dalk van toepassing, lank vóórdat apartheid sy verfoeilike nek uitgesteek het nie? “Benadeel” kan naamlik ook die gevolg wees van die negatiewe taalhouding van ʼn taal se sprekers. Dis dus nie altyd eksterne kragte wat ʼn rol in die benadeling speel nie. As ʼn mens nie taaltrots het nie, sal jou taal geleidelik verval.

Laat ons eerlik wees: Die huidige voorgestelde wetsontwerpwysiging is nie primêr gerig op die ontwikkeling en bevordering van sogenaamde voorheen benadeelde tale nie. Dis eintlik ʼn wapen gerig op Afrikaans – ‘n vergelding vir iets waaraan Afrikaans as taal nie skuldig is nie? ‘n Owerheid mag kwaad wees vir mense en ʼn stelsel wat ‘n onbillike/onregverdige/diskriminerende beleid gevoer het. Maar waarom ‘n aksie voer teen ‘n taal wat in ‘n land ‘n belangrike ekonomiese bemagtigings¬middel is en wat deur meer mense teen wie gediskrimineer is, gepraat word as deur die ander sektor. As ‘n mens dan kwaad is vir Afrikaans, waarom dan nie ook kwaad vir Engels nie. Apartheid is ook en veral in Engels bedryf.

Soek die sprekers van Afrikaans die hegemonie van die taal landwyd? Natuurlik nie! Afrikaans moet geakkommodeer word daar waar dit reg en billik is: Die Noord-Kaap, die Wes-Kaap en dele van Gauteng is by uitstek gebiede waar Afrikaans ʼn sterk faktor is. In ʼn demokratiese bedeling behoort owerhede taalmeerderhede dáár tegemoet te kom en die ongrondwetlike reëling te ignoreer.

P.S. Bostaande is my persoonlike mening en verteenwoordig nie ʼn amptelike standpunt van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en/of die Afrikaanse Taalraad nie. – Jacques van der Elst

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jacques van der Elst

Meer oor die skrywer: Jacques van der Elst

Prof. Jacques van der Elst was die voormalige hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, PU vir CHO (tans NWU) en is tans direksielid van Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Politieke vergelding blyk die enigste rasionele rede te wees vir die ANC se struggle teen Afrikaans.

Die vraag kan gevra word of die rede vir die vergelding die Apartheidsverlede is, of Afriforum se hofsaak wat tot die skryf van die wet gelei het.

Afrikaans se sterkste verweer is egter sy status as meerderheidstaal in die Wes- en Noord-Kaap. Die aanduiding van die Wes-Kaapse minister van Sport en Kultuur dat hulle hierdie wetgewing gaan beveg dien as bewys hiervan en moet verwelkom word..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.