Wat sit agter die aanvalle in die Rooisee?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Aaron Lau/US Navy/AFP)

Die oorlog tussen die Israelse weermag en die terreurgroep Hamas in die Gaza-strook is intussen reeds ʼn lae-intensiteit streeksoorlog, soos wat ander state en veral verskeie terreurgroepe inmeng.

Besonder noodlottig is die rol van Iran, Israel se geswore vyand, wat wel nie direk in die konflik betrokke is nie, maar talle Islamitiese terreurgroepe gebruik om Israel aan te val. Hamas is ook ʼn protégé van Iran, maar Iran hou hom met openlike steun vir Hamas tans terug. Hamas se gruwelike aanval op Israel op 7 Oktober verlede jaar is blykbaar sonder Iran se wete en toestemming geloods.

Hizbollah in Libanon is ʼn verdere pion van Iran wat gereeld vuurpyle op Israel se grondgebied skiet. Iran gebruik daarby die teologiese verdeling in Islam tussen die meerderheidsdenominasie Soenniete en die minderheidsdenominasie Sjiiete. Iran is die belangrikste verteenwoordiger van die Sjiitiese denominasie en ook sy pionne is gewoonlik groepe wat die Sjia aanhang en teen die meerderheidsdenominasie in hulle onderskeie lande in opstand is.

Ook die Houthi in Jemen is Sjiiete en was vir lank ʼn obskure rebellegroep in die uiterste noorde van die land, wat vanaf 2004 in opstand teen die sentrale regering van die destydse diktator Ali Saleh was. Met die woelinge wat op die Arabiese opstande in 2010 en die bedanking van Saleh gevolg het, het die Houthi danksy die ondersteuning van Iran vinnig veld gewen en die noordelike, bergagtige deel van Jemen (wat ook die hoofstad Sanah bevat) in 2014 verower. Die amptelike regering, met Saleh se opvolger Mansour al-Hadi, is beperk tot die woestynagtige suide rondom die tweede grootste stad Aden.

Interessant genoeg breek die ou grense tussen Noord- en Suid-Jemen, wat in 1990 verenig is, weer oop. Jemen is ʼn arm en agterlike land, maar strategies belangrik weens sy ligging aan die Bab El Mandeb-seestraat wat die Rooisee en die Indiese Oseaan verbind en een van die belangrikste seeroetes ter wêreld is wat Europa met die Ooste verbind.

Saoedi-Arabië, wat hom as die streeksmoondheid op die Arabiese skiereiland beskou, het saam met die Verenigde Arabiese Emirate ʼn onsuksesvolle oorlog teen die Houthi-rebelle ter verdediging van die amptelike regering van Jemen gevoer.

Vir ʼn ruk was dit stil in Jemen, maar met die aanbreek van die oorlog in Gaza het die Houthi, waarskynlik in opdrag van Iran, van hulle laat hoor en handelskepe met vuurpyle en hommeltuie aangeval. Na bewering is dit ter ondersteuning van Hamas en word net skepe aangeval wat ʼn vernintenis met Israel het. Dit het egter ook van toepassing op skepe wat breedweg ʼn verbinding met die Weste het.

Dit het die VSA en Groot-Brittanje genoop om op hulle beurt teikens in Jemen aan te val met die doel om die Houthi se militêre vermoë te verminder. Vir internasionale skeepvaart beteken die aanvalle groot ompaaie via die Kaap van Goeie Hoop en bykomende koste.

Die Houthi se aanvalle dien ook ʼn politieke doel, naamlik om aandag te trek in die Arabies-Islamitiese wêreld en om hulle eie bevolking agter hulle te verenig, wat weens die slegte ekonomiese omstandighede andersins niks het om oor opgewonde te raak nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Die ontleding maak sin. Dit voorspel ook ‘n langdurige doring in die vlees, veral rondom die rooi see gebied. Daarby katvoet die VN ook rond en rondom alles wat nie JC erken en bely nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.