Wegholoorwinning vir eerste minister Jacinda Ardern

Jacinda Ardern. (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Die regerende Arbeiderparty van eerste minister Jacinda Ardern het ’n groot oorwinning in Nieu-Seeland se algemene verkiesing behaal.

Die Arbeidersparty, voorheen in ’n koalisie met die nasionalistiese Nieu-Seelandse Eerste party, het 49% van die stemme op hom verenig en met 64 setels ’n volstrekte meerderheid bereik om voortaan alleen te kan regeer. Die swaai na links het ook die Groenparty bevoordeel, wat 10 setels gewen het.

Die grootste opposisieparty, die sentrum-regse Nasionale Party, het aansienlik steun verloor met slegs 27% en 35 setels. Die Nieu-Seelandse Eerste party het selfs nog swakker gevaar en al hul setels in die parlement verloor. Die klassiek-liberale party ACT het egter steun bygekry en 10 setels gewen.

Ardern se groot oorwinning het min met haar werklike prestasies te doen: sy het verskeie groot infrastruktuur- en omgewingsprojekte tydens haar termyn aangekondig en daar het feitlik niks van gekom nie. Ardern se sukses is egter aan ander faktore toe te skryf: sy baat by die metapolitieke klimaat oftewel die tydsgees wat linkse idees en leiers tans bevoordeel. In haar geval kom nog by dat sy iets soos ’n ikoon van die linkses wêreldwyd is: sy vertoon mooi, is jong en vroulik en verstaan hoe om op empatiese wyse die mense goed te laat voel en om die indruk te skep dat sy en haar party vir almal net die beste bedoel en niemand uitsluit nie. Dat sy tydens haar eersteministerskap geboorte gegee het, het verder tot haar sagte beeld bygedra.

Die beleid van haar Arbeidersparty is egter tipies vir linkse partye: belastingverhoging en regulering aan die een kant en welsyntoelaes en gratis mediese sorg en onderwys aan die ander kant. Op sosiaal-maatskaplike terrein steun sy selfdegeslaghuwelike, wettiging van dagga en het bygedra tot Nieu-Seeland se besonder liberale aborsiewetgewing.

Ardern val in die kategorie van ander linkse leiers wat gunstelinge van die media is (of was) – nie oor wat hulle doen nie, maar oor wie hulle is, soos Barack Obama van die VSA en Justin Trudeau van Kanada. Die media se onkritiese ondersteuning, nie net in Nieu-Seeland nie, maar ook internasionaal, het veel tot haar gewildheid en oorwinning bygedra. Nieu-Seeland is ’n land wat geografies afgeleë is en waar min opspraakwekkende dinge gebeur (afgesien van die massaslagting in twee moskees in Maart 2019) en daarom is sy inwoners ook trots op ’n eerste minister wat wyd bekend is.

Dit was juis daardie aanslag van Maart 2019 wat tot Ardern se gewildheid bygedra het. Sy het, nadat ’n verregse ekstremis met Australiese wortels 50 Moslems tydens gebedstyd in die stad Christchurch afgemaai het, onmiddellik die regte woorde gevind om die emosies van die mense te verwoord en het die saamstaan in daardie donker oomblik besweer. Groot tragedies en nasionale krisisse bevoordeel in die meeste gevalle die regerende party en sy leier, omdat mense in sulke tye (en veral sedert godsdiens in die Weste as betekenisgewende faktor feitlik verdwyn het) sekerheid en ’n leiersfiguur soek.

Nou het daar weer ’n groot krisis, dié keer die koronapandemie, tot Ardern se hulp gekom en aan haar die geleentheid gebied om haarself as empatiese moeder van die nasie en besliste krisisbestuurder daar te stel. Nieu-Seeland het een van die strengste grendelstate in die wêreld gehad en was suksesvol om die koronapandemie redelik gou uitgeroei te kry. Dit het wel later weer sy verskyning gemaak in die grootste stad Auckland en is ook daar deur ’n tweede, plaaslike grendelstaat beveg.

Of die pandemie ook sonder ’n drastiese grendelstaat spoedig sou beëindig geword het, is ’n ope vraag. Immers is die mense in Nieu-Seeland van nature gehoorsaam en was daar feitlik geen weerstand teen die beperkings nie. Bygesê, is dit betreklik maklik om Nieu-Seeland te isoleer omdat dit ’n afgeleë eilandgroep is met geen buurland naby nie en geen landsgrense nie. Dis uit die aard van die saak makliker om ’n paar lughawens op ’n eiland te sluit as landsgrense van duisende kilometers. Of dit Ardern se besliste optrede was, of eerder geluk en goeie dissipline van die mense, is nie duidelik nie, maar die feit is dat sy ook met hierdie meta-tema briljant van haar andersins eerder beskeie prestasiegeskiedenis kon aflei en die mense dit gekoop het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Baie geluk! Die vrou lyk ‘n treffer te wees. Laat sy asb SA wys hoe word ‘n land bestuur

Jakes

Sterkte vir NZ , julle gaan dit nodig he.

Jaco

Sê sy ooit iets oor die amper daaglikse diskriminasie teen en ook uitmoor van Christen minderhede in moslemlande?