Wenners van die oorlog

Dit was met verbasing dat ek genl.maj. Marius Oelschig se skerp aanval op my en Louis Bothma gelees het. Louis is mans genoeg om homself te verdedig, en dus wil ek maar my eie paaltjies beskerm.

Oelschig skryf onder meer (met die minagting wat daarvan afdrup):

“Dr. Leopold Scholtz en Bothma is hasies wat in dieselfde strik gevang is. As jong luitenant leer mens gou dat ’n pyl op ’n kaart baie gevare kan inhou, veral as mens nie die terrein self verken het nie. Terwyl albei here dus met arrogante smadelikheid hul teorie van ’n briljante Kubaanse westelike omvleuelingsmaneuver voorhou, is daar ’n menigte gesoute bevelvoerder, en duisende troepe met bosoorlogervaring, wat weereens die dwaasheid van die ‘gemakstoelgeneraal’ moet aanhoor – en kop skud.”

Die implikasie is dat ek – en Bothma, natuurlik – niks weet van oorlogvoering nie, en Oelschig, synde ’n generaal-majoor en professionele soldaat, uiteraard wel. Nou ja, Oelschig was op sy dag deel van Militêre Intelligensie (en hoof van die Ciskeise weermag), wat beteken dat hy nie veel frontervaring het nie. Wat natuurlik nie beteken dat hy verkeerd is nie; sy reg of verkeerd hang nie af van sy frontervaring nie, maar van die intrinsieke waarde van sy argumente.

Ek het géén frontervaring nie; ek is te vroeg daarvoor gebore. Ek is in 1966 by die ou Leërgimnasium opgelei en het tot einde 1975 by die Regiment Universiteit Stellenbosch gedien, net toe die oorlog werklik begin het. Ek is pas in 2007 weer vir die SANW se Reserwemag gerekruteer, en ek het met die beskeie rang van kaptein as stafoffisier by verskeie hoofkwartiere gedien.

Deur die jare het ek wel ’n intensiewe akademiese studie van oorlogvoering as verskynsel gemaak, en verskeie boeke en akademiese artikels oor krygshistoriese onderwerpe geskryf. Ek is ook tans besig met ’n taamlik omvattende boek oor die Grensoorlog.

Oelschig sal – nie heeltemal verkeerdelik nie – aanvoer dat boekkennis nie dieselfde is as praktiese ervaring nie. Dis waar, maar die teoretiese kennis is ook noodsaaklik. Helaas het te veel offisiere in die SAW nie die noodsaak hiervan ingesien nie. Dis geen wonder nie dat verskeie akademici, waaronder sommige wat nog steeds voltyds uniform dra, praat van die “anti-intellektuele” atmosfeer in die ou SAW. Dis iets wat ons by die Britte geërf het.

Sommige wat wel frontervaring met ’n intellektuele studie van oorlogvoering gekombineer het, soos genl.maj. Roland de Vries, is destyds deur baie ander offisiere meewarig aangekyk. Dit ondanks die feit dat De Vries se boek, Mobiele Oorlogvoering (1987), een van die mees fundamentele militêre geskrifte is wat ooit uit die SAW-geledere voortgekom het.

Maar wat is die waarde van teorie? Wel, jy kry natuurlik esoteriese teorie wat jou kop daar bo in die wolke hou en heeltemal irrelevant is. Maar goeie teorie is eintlik slegs ánder se ervaring. Bismarck was reg toe hy gesê het: “Net dwase leer van hul eie foute. Ek verkies om van ánder se foute te leer.”

Nou kom ons by die generaal se inhoudelike besware. Hy stel twee vrae “wat geeneen van die voorstanders van ’n Kubaanse oorwinning by Cuito Cuanavale wil of kan beantwoord nie”:

• “Waarom het die Kubaanse 50ste Divisie, Castro se spogdivisie vars vanaf Kuba, nie die ‘verslane’ SAW-magte by Cuito Cuanavale aangeval, oorrompel, vernietig en na Jamba opgemars om UNITA aldaar totaal uit te wis nie? Dit was dan hul oorspronklike missie. Waarom sou hul ’n omvleueling van bykans 600km onderneem (en dit binne trefafstand van die SA Lugmag se basisse by Ondangua en Grootfontein) teenoor ’n vinnige aanmars van omtrent 150km? (Cuito Cuanavale na Mavinga). Ek sou ook graag saam met Bothma (of Scholtz) ’n dop wou steek sodat ons die krapperigheid van logistieke ondersteuning van so ‘n omvleuelingsmaneuver (van ’n divisie, met tenks, deur die Angolese bos in die reënseisoen) kon bespreek.
• “Waarom was die ‘gesoute’ Kubaanse generaal, Ochoa Sanchez, wat so heldhaftig die Suid-Afrikaners uitoorlê het, deur Fidel Castro gefusilleer? Was dit omdat hy so goed teen die SA Weermag presteer het? Of omdat hulle sleg tweede gekom het?”

Allereers, kan die generaal één voorbeeld gee waar ek beweer het dat die Kubane die SAW by Cuito Cuanavale “verslaan” het? Ek het nog nooit so ’n ongenuanseerde standpunt ingeneem nie.

Daar ís natuurlik antwoorde op sy vrae. Fidel Castro het teen November 1987 gesien hoe die SAW onkeerbaar van die Lomba noordwaarts na die Chambinga opruk. Hy het bowendien te make gehad met ’n publiek wat al hoe meer ontevrede met die opofferings van ’n oorlog ver weg word, en ’n Sowjet-leier (Michail Gorbatsjof) wat duidelik kritieser teenoor hom staan as dié se voorgangers en vroeër of later die mat onder sy voete gaan uitpluk. Hy wou ’n uitkomkans soek.

Nou ja, jy kan van Castro se politiek en ideologie sê wat jy wil, maar hy was ’n geslepe politikus met ’n goeie militêre brein. En dus het hy hier ’n gaping so groot soos ’n man se pinkie gesien om hom nie alleen met eer uit ’n onwenbare oorlog te onttrek nie, maar die illusie van ’n yslike oorwinning te skep. (Castro was ’n bobaas-skepper van illusies.) En dus het hy tot ’n strategie met drie komponente besluit:

• Maak die verslane FAPLA se ruggraat styf by Cuito Cuanavale en verhef die verdediging van die dorp tot ’n heroïese veldslag waarin goed teen kwaad seëvier;
• Soek kontak met Amerika en Suid-Afrika, en begin ’n politiek-diplomatieke proses waarin hy self ’n sleutelrol speel; en
• Marsjeer ver wes van 20 Brigade suidwaarts in die provinsie Kunene na die SWA-grens en skep die illusie van ’n bedreiging. Die SAW se waardering was dat hy ons net wou intimideer, dat hy nie die grens sou oorsteek nie, maar selfs genl. Jannie Geldenhuys gee in sy boek toe dat hy dit nie kon wéét nie. Om dié bedreiging hok te slaan, is 10 Divisie op die been gebring. Suid-Afrika se besit van kernwapens het Castro ook afgeskrik.

’n Intelligente veldheer vat sy vyand aan waar dié swak is en dit nie verwag nie. Hy val nie aan waar sy opponent sterk is en dit wel verwag nie. Dís die antwoord op Oelschig se eerste vraag. Dis waarom ek meen Castro se strategie was briljant. Ek verfoei die man, maar as historikus móét ek objektief wees. ’n Historikus sit op ’n baie ongemaklike stoel. Dit spyt my as die generaal nie daarvan hou nie, maar ek kan nie anders nie.

Terloops, Oelschig sal beter as ek weet hoe verflenter die Lugmag teen daardie tyd was. Ek wil nie alles uitlap nie (ek behandel dit in my komende boek), maar ek het bewyse dat die Lugmag – en dit het niks met die vlieëniers en ander personeel se kundigheid en dapperheid te make nie – se toerusting op groot skaal ondiensbaar was. Die Lugmag se eie advies was dat hy nie veel teen die Kubane kon uitrig nie.

Ook: FAPLA, wat in logistieke opsig veel slegter georganiseer was as die Kubane, was in staat om vier brigades “deur die Angolese bos” van Cuito Cuanavale na die Lomba te laat opruk. Waarom sou die Kubane nie ’n divisie kon laat marsjeer en bevoorraad nie? En daarmee sê ek nie dit sou maklik wees nie, inteendeel, maar dit was moontlik.

Die tweede vraag: Arnaldo Ochoa Sanchez is formeel aangekla en skuldig bevind op aanklag van dwelmsmokkelary, en is tereggestel. Alles dui daarop dat dit ’n ekskuus was. Ochoa was charismaties, macho en arrogant – baie dieselfde as Castro. Dit lyk of Castro gemeen het Ochoa word ’n politieke bedreiging vir hom wat uit die weg geruim moes word. Bewyse het ek nie, want ouens soos ek word nie tot die Kubaanse argiewe toegelaat nie. My afleiding is dat Ochoa se teregstelling niks te make gehad het met sy sukses al dan nie in Angola nie.

Ten slotte: Ek verskil met my goeie vriend Louis Bothma dat ons almal verloor het. Ons is albei beskaafde mense, en dié meningsverskil gaan nie gepaard met die soort byvoeglike naamwoorde wat die generaal kwytraak nie. My slotsom is dat almal juis gewén het. Die SAW het 95% van sy doelstellings met Operasies Moduler/Hooper/Packer bereik, FAPLA 0% met sy Operasie Saludando Octubre en Kuba 100% met sý Operasie Maniobra XXXI Aniversario (al was dit bloot om met eer uit ’n verlore oorlog pad te gee).

Dit spyt my as die generaal nie hiervan hou nie. Dit is sy onvervreembare reg om met my te verskil, iets wat ek saam met Voltaire tot die dood toe sal verdedig. Maar kom ons verskil beskaafd. Reg so?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

mardej ·

Dr Scholtz
Jy praat geweldig baie, maar se absoluut niks. S.A.W 95%, Kuba 100%?, jou stellings maak groter draaie as Castro se troepe. Is dit jou polities korrekte weergawe?

Leopold Scholtz ·

Beste Mardej

Ek vermoed jy het nie mooi verstaan wat ek bedoel het nie. Ek het gesê ons het álmal gewen – SA, die Kubane – selfs die Angolese, wat darem mettertyd vrede gekry het, al het FAPLA geeneen van sy operasionele doeleindes in 1987-’88 bereik nie. Dit was juis die formule vir die vredesonderhandelinge: Niemand moet verloor nie; almal moet wen. Dis presies wat gebeur het. Wat “polities korrek” hieraan is, sou ek nie weet nie. Dis gewoon die historiese feite.

Terloops, kom ‘n bietjie tevoorskyn daar agter die skuilnaam waar jy wegkruip, toe? Debatteer oor ‘n oop visier met jou eie naam! Of is jy bang?

Met vriendelike groete

Leopold Scholtz

Louis du Plessis ·

ALBEI IS WENNERS

1 Dis ‘n voorreg om te luister na die genuanseerde besprekings van Mo Oelschig en Leopold Scholtz oor die Angolese konflik. Soos hulle albei waarskynlik goed weet, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Krygskollege oor verskeie jare ‘n oefening aangebied waarin sindikate hierdie konflik noukeurig ontleed, spesifiek die tydperk tussen November 1987 en April 1988. Die fokus was op die maneuvrering en strategie van die twee vyandelike bondgenootskappe: enersyds die Fapla- en Kubaanse magte met Sowjetraadgewers en andersyds die Suid-Afrikaanse Weermag en Unita.

2 Verskeie sindikate het graag na die betekenisvolle verliese verwys: Teen April 1988, toe die ergste botsings verby was, en ná, wat later bekend sou word as, die Slag van Cuito Cuanavale, was van die SAW 3 tenks vernietig en 11 pantservoertuie verlore, terwyl 31 lede dood is in aksie. Een Mirage van die SA Lugmag is afgeskiet. Van die Kubaanse koalisie is 94 tenks asook honderde vegvoertuie vernietig, terwyl meer as 4700 lede dood is in aksie. Nege Migs is afgeskiet. Maak ‘n rustige vergelyking.

3 Die rede hoekom ek hierdie verliese noem, is omdat dit my voorreg was dat die SAN Krygskollege my jaar na jaar genader het om die paneelbespreking te lei wat op hierdie aanbiedings gevolg het. Die paneellede wat die kollege self gekies het, het nie slegs historici ingesluit nie, maar verteenwoordigers van die destydse SAW, van die ANC se wapenvleuel MK en van Kuba. Uit hulle bydraes moes die gehoor sin maak oor die dieperliggende dryfvere van die magte. En ek moet sê: elke opmerking deur die paneellede het die gehoor en vir my gefassineer.

4 Nadat ek die paneellede aanvanklik heel liefies behandel het, het ek hulle begrip van die oorlogsteater doelbewus getoets en wel deur elkeen te versoek om hom in sy vyand se stewels te plaas. Vir SAW-verteenwoordigers, soos Roland de Vries, om soos ‘n kommunistiese Kubaanse strateeg te dink en te praat, was kinderspeletjies. Trouens ek dink hy was ‘n skerper Kubaan as die Kubane self!

5 Maar o wee, om te verwag het dat ‘n Kubaan of ‘n MK-lid begrip moet toon vir die SAW-strategie, was te veel gevra. Elke jaar was hulle totaal van balans af. Met die beste wil ter wêreld kon hierdie eensydige ideoloë dit nie regkry om die ander kant van die saak – “my vyand se strategie en probleme” – te verstaan nie. Ongeag enige werklike gebeure of verliese, het hulle net voortgerammel oor hulle eie vermeende suksesse. Die breër prent het vir hierdie eertydse vyande van die SAW nie bestaan nie. Die werklike historiese gebeure waarmee manne soos Mo en Leopold worstel, het nie tot hierdie here deurgedring nie. Soort van: “Moenie my propaganda met die feite ondermyn nie!”

6 Elke jaar het die intellektuele gehalte van die oud-SAW-offisiere soos ‘n ster geskitter. Soos voorspel kon word: op die ou end het die SAN Krygskollege, wat soos meeste huidige weermageenhede deur ANC-kaders beheer word, besluit om hierdie oefening te staak.

7 Die feit is: Mo is gegiet uit die yster van die ou SAW: ‘n operasionele aanvoeling vloei in sy are. En Leopold is een van die mees vaardige Suid-Afrikaanse militêre geskiedkundiges. Almal weet sy werk oor die grensoorlog gaan ‘n meesterstuk wees. So dalk moet Leopold Mo se aanbod (in die aanhaling hierbo) aanneem: Steek ‘n dop saam met hom! As hy dit doen as hy sy boek vrystel, klink ons sommer almal saam met hulle twee wenners ‘n glasie – op hulle én op die SAW.

8 In die geskiedenis van ons traumatiese vasteland, was die SAW inderdaad een van die mees gedugte krygsmagte ooit!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.