Wie gaan De Ruyter se Eskom-pos wil hê?

(Foto: AFP PHOTO/GIANLUIGI GUERCIA)

Nadat André de Ruyter skielik van sy pligte as uitvoerende hoof van Eskom onthef is, na aanleiding van stellings wat hy in die media oor korrupsie en korrupte persone gemaak het, is die vraag oor sy opvolger weer in die soeklig.

Maar wie sal hierdie werk wil hê ná alles wat De Ruyter moes deurmaak? En sal die uiteindelike suksesvolle opvolger iemand wees wat Eskom en die land verdien? Calib Cassim is nou wel as waarnemende hoof aangestel nadat hy sedert 2018 die finansiële hoof is, maar dit kan lank neem om ʼn persoon permanent in diens te neem – en dit sal dalk ook nie Cassim wees nie. Ewenwel, dit verander nie aan die eise van die werk nie.

Kom ons neem bestek op waarmee die hoof van Eskom (weliswaar nie net De Ruyter nie) te kampe het. Om eerlik te wees, De Ruyter was nie ʼn perfekte hoof nie en hy het foute gemaak – soos enigiemand anders sou. Sy ondergang kan moontlik toegeskryf word aan sy oordrewe fokus op hernieubare energie, naïewe aannames oor sowel die erns van die uitdagings wat hy die hoof sou moes bied en wanneer beurtkrag sou eindig, ʼn oorskatting van sy eie vermoëns en onderskatting van die omstandighede, en sy latere ondeursigtigheid en blaamverskuiwing oor wat presies fout is toe beurtkrag daagliks begin voorkom en nie weer wou eindig nie.

Hy het beslis foute, maar dit verskoon nie die struikelblokke in sy pad of wat al met hom en vorige hoofde by Eskom gebeur het nie. En dit is uitdagings wat hoofde in die privaat sektor nie in die gesig gestaar het nie. De Ruyter is al vergiftig en daar is afluisterapparate in sy motor versteek. Phakamani Hadebe het in 2019 twee keer van stres inmekaargesak. De Ruyter is alleenlik vir beurtkrag geblameer, terwyl die polisie en howe nie hul take verrig om te help om die skuldiges aan die man te bring nie. Asof dit nie erg genoeg is nie, heul werknemers met die misdaadsindikate om kragtoevoer en bedryfsdoeltreffendheid te saboteer en kostes verder op te jaag omdat gebreekte toerusting herhaaldelik herstel moet word. Daar moes intussen van die tenderpreneurs ontslae geraak word – dis nie net moeilik nie, maar selfs gevaarlik omdat jy in wese misdadigers se geldkrane en invloed toedraai. Hulle gaan dit nie gelate aanvaar nie.

Die ANC wil De Ruyter hof toe sleep oor sy aantygings oor korrupsie by Eskom. Hy is deur menige swart meningsvormer beswadder en aan die skandpaal gehang oor die probleme met beurtkrag. Die linkse, militante vakbonde is nooit tevrede met enigiemand wat by Eskom in beheer is nie omdat dié unies altyd vir buitensporige verhogings en beter voordele vir hul lede veg, terwyl die Eskom-base moet probeer om besteding in toom te hou. Boonop is die publiek en sakesektor woedend vir jou omdat die beskikbaarheid van krag treurig is en jy boonop vir astronomiese verhogings moet vra om die spul aan die gang te hou. Eskom sit toenemend met ʼn werksmag wat te min tegniese en werklike bestuursvaardighede het, omdat verdienstelike en bekwame werkers uit frustrasie bedank. Dis ook nie maklik om hulle te vervang sonder om op eiers oor ras te loop nie.

Binne Eskom het jy waarskynlik ook nie die ondersteuning van die direksie nie; ook nie van die verskillende ministers buite die organisasie nie.

Eerstens het jy te doen met die weerbarstige Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, wat De Ruyter byvoorbeeld daarvan beskuldig het dat hy ʼn staatsgreep by wyse van beurtkrag wil uitvoer. Mantashe kla oor alles terwyl hy self nie ʼn vinger verroer om nuwe krag te laat opwek nie.

Tweedens is daar ook die passiewe minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, wat links en regs geregtigheid en skoon korporatiewe bestuur belowe, terwyl die direksielede wat hy by Eskom aanstel duidelik allesbehalwe dít in gedagte het.

Daarbenewens moet daar ook nog in die toekoms (wanneer weet ons nie) met ʼn minister van elektrisiteit saamgewerk word. Aangesien die kragkrisis die mees prominente probleem in die land is, gaan die president boonop ook druk op Eskom se hoof uitoefen.

Die gekruisde lyne van gesag is daarom soos ʼn geëlektrifiseerde Gordiaanse knoop wat straks nooit heeltemal ontknoop sal word nie.

Bogenoemde is wat gedoen behoort te word om die kragkrisis ten minste te begin versag, want van oplos in die afsienbare toekoms is daar geen sprake nie. Ek verwag daarom nie dat enigiemand wat werklik in staat is – en ernstig is – om hierdie krisis op te los, vir hierdie pos sal aansoek doen nie. Nie ná wat als met De Ruyter gebeur het nie. Hy het per slot van sake aanvanklik die ANC-regering se heelhartige steun geniet, waarna hy toenemend vir die wolwe gegooi is. My verwagting is dat dit eerder nog ʼn waarnemende middelmatige ANC-kader sal wees en die krisis selfs verder sal verdiep. Cassim se prestasies as finansiële hoof van Eskom boesem immers geensins vertroue in nie.

Intussen sal huishoudings en gemeenskappe self plan met kragopwekking en ‑verspreiding moet maak. Landgoedere is besig om toenemend selfstandig te raak wat albei hierdie aspekte betref. Die jongste begroting bevat verdere aansporingsmaatreëls soos kortings om sonkrag te installeer, en die besef het reeds toenemend by huishoudings posgevat dat daar nie meer ander opsies bestaan nie.

Hulle sou nie hierdie vergunnings maak indien hulle dink daar is nog omdraaikans by Eskom nie. Nes met skole, hospitale en allerlei dienste, sal ons ook selfstandig moet raak wat krag betref.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar ons moet steeds belasting betaal. Dis tyd dat die privaatsektor ‘n massiewe belastingboikot lei. SARS en die staatsdiens sal binne twee maande knak. Dán is keiser kaal.

Manie ·

Dis die enigste manier om ‘n korrupte regering sonder geweld tot ‘n val te bring. Rustige kalm, geweldvrye belasting boikot.

Republikein in die Wes Kaap ·

JSE maatskappye weerhou oorbetaling van alle tipes belasting. Dit sluit werkers se PAYE in. Kleiner maatskappye kan volg. ‘n Nie-amptelike staatsdiens word vooraf in plek gesit en word in beheer geplaas van belastinggeld en dienste. Noem dit selfbestuur. SARS en die kabinet sal wil terugslaan, maar sal magteloos wees. Owerheidstrukture gaan binne twee maande knak. SARS en die kabinet sal wil terugslaan, maar magteloos wees. Om alles weer ordelik op te bou sal n uitdaging wees, maar die korruptes sal weg wees.

Piet 6 ·

Ek dink jy is nie heeltemal reg oor fase 8 nie. Eers geen beurtkrag vir ń maand of 2 en dan totale duisternis.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek hoor reeds die kaders se klokke klingel soos wat hulle nader waggel.

annie ·

Daar is ‘n paar ander voormalige spogperde wat aangedui het dat Eskom in hul termyn uitstekend gevaar het. Miskien kan hul terugkeer vir meer van dieselfde prestasies. Ons wag.

Chris ·

Ek sal die vakature en leeus vat, mits hulle vir my sê ek kan doen wat ek moet en wil doen. Drie maande is al wat ek nodig het en ek is nie eers ‘n “sparkie” nie. My oorlé broer het altyd gesê, “daars net een triek, en dis elektriek”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.