As jy deurloop onder die ongemaskerde wonders

Die kronkelende kuspaadjie by Hermanus. (Foto: Lizma van Zyl.)

Ek was aanvanklik net effens gesteurd, maar nou begin ek kwáád raak. Vir mense wat steeds in die openbaar sonder maskers loop.

En dis nie asof gesigsbedekking regtig volksvreemd is nie. Antropoloë skat die eerste maskers is tussen 30 en 40 duisend jaar gelede reeds gedra. Hoewel die antieke mensdom dit dalk vrywillig en om ander redes gebruik het is dié voorreg ons nie beskore nie. Daar is soveel mense wat te midde van die koronakrisis steeds die mantel na die wind draai.

Vanoggend se stap met die honde was die spyker in die doodskis. Van nou af gaan ek iets sê!

Met vierbeenvriende in gelid (een is eintlik ’n driebeen) het ek ’n bietjie son gaan soek. Die kronkelende Hermanus-kuspaadjies tussen welige fynbos met die branders wat meters ondertoe teen die rotse breek, is salf vir die siel. So stap ek luilekker aan en laat sak my masker nou en dan om die sout seebries in te asem. Hondekinders Mimi en Lienka is uitgelate en toe ’n kordate klein dassie boonop reg voor ons sy kop onder ’n bos uitsteek, bars dié twee byna uit hul velle van opgewondenheid. Stertjies swaai uitgelate soos hulle hul snoete in die bosse indruk om die klein wollerige knaagdiertjie op te spoor. Ek staan ewe geamuseerd en toekyk toe dié pret terstond bederf word.

’n Natgeswete man in designer-oefenklere verskyn skielik voor my. Sonder masker en slegs sentimeters weg met sy wysvinger byna teen my neus. Terwyl die stapper my kapittel oor my (klein) honde wat nie aan leibande is nie, sien ek die spoegdruppels so in my geestesoog spat en probeer maar effens retireer sonder om by die krans af te tuimel. Verstom deur die aanslag, verloor ek net daar my spraak. Toe ek sekondes later wel tot verhaal kom, is die ongemaskerde wonder reeds net ’n spikkel. En soos ek die twee in die motor laai, dink ek aan alles wat ek móés sê… beginnende met “Meneer, hoekom dra jy nie ’n masker nie?”

Prof. Jaqueline Gollan, ’n Amerikaanse sielkundige, het onlangs hieroor geskryf – waarom sekere mense net eenvoudig weier om maskers te dra. Die vraag is eenvoudig genoeg, maar sy sê die antwoord is ingewikkeld.

In ’n neutedop: Daar is sommer net ’n klomp kansvatters wat glo hulle kan daarmee wegkom omdat hulle “sterk en gesond” is. (Die stapper val waarskynlik in dié kategorie.) Dan is daar mense wat Covid-19 nie as ’n bedreiging beskou nie omdat dit onsigbaar en abstrak is. (Hoe kan dit gevaarlik wees as jy dit nie kan sien nie?) Die derde groep is, volgens prof. Gollan, vuisvoos ná die aanvanklike inperkingstydperk met sy streng regulasies en ly aan mental fatigue. Hulle is geestelik so uitgeput van al die moets en moenies dat hulle eintlik nie meer omgee nie. Die laaste groep op haar lys is diegene wat sterk identifiseer met vriende, ’n gemeenskap of ’n kultuur wat glo maskers is bloot ’n foefie. Vir hulle is aanvaarding so belangrik dat hulle op straat amper smalend na die gemaskerdes kyk, maar eintlik in hul broekies bewe.

Lizma van Zyl. (Foto: Jaco Marais.)

Hoe dit ook al sy, terwyl die groot stryd om ’n entstof te kry agter die skerms momentum opbou, moet ons doen wat ons kan om onsself en ander te beskerm – al help dit dan nou ook net ’n bietjie. Een hiervan is om daardie maskertjie op te sit sodra jy jou voordeur agter jou toemaak.

Dis vir niemand lekker nie, maar dis die regte ding om te doen. Dit sê ek gee óm – nie net vir myself nie maar ook vir jou.

Meneer die Stapper, volgende keer is ek rég vir jou!

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kobus ·

Wonder net hoekom die weermag teen hierdie onsigbare vyand ontplooi word? Kan hulle dit beveg? (Of beveg hulle dalk diegene wat kan dink?)
Hoekom is die weermag nie ontplooi om TB te beveg nie? tbfacts.org se 2018 syfers vir Suid Afrika stel dat 63 000 mense daardie jaar van TB gesterf het (waarvan na raming 42 000 HIV positief was), dit is 5 250 sterftes per maand, 1 211 per week of 172 sterftes per dag. Hierdie TB-pandemie sleur jaar vir jaar voort reeds oor etlike dekades MAAR geen ontplooiing!
Hoekom word hierdie siekte deur wetgewing beskerm? Jy beweer ons word beskerm deur die wetgewing en nie die siekte nie, nou hoekom kan ek enigiets spreek teen TB en HIV maar niks teen die siekte nie? Wie word beskerm, Jy of die siekte?
Waarlik die Leuen Regeer.

OW ·

Jy kan nie TB met Covid 19 vergelyk nie.TB kom al dekades voor en is lankal nie meer ‘n pandemie nie.BCG entstof is al jare gelede ontwikkel teen TB.Dit kan nie van Covid 19 gesê word nie.TB kom nog wel endemies voor in lande met swak sosio ekonomiese toestande,ten spyte van die entstof.’n Pandemie is ‘n epidemie wat wêreldwyd versprei is soos huidiglik met covid 19 en geen entstof is nog beskikbaar nie.

Therese ·

Onsin.
Dra jou masker gerus as dit jou veiliger laat voel, maar moet asseblief geen ander gesonde persoon dwing om dieselfde te doen nie.
Ek weier, al is ek die enigste mens op hierdie aardbodem met ‘n oop gesig.
Geen sielkundige ontleding nodig nie.

Snowball ·

Goed vertroud met die kuspaadjie in Hermanus. Honde se bolletjies, danksy diertjies sonder leibande is ‘n groter probleem as mense sonder maskertjies. Soms net so onsigbaar soos ‘n virus en dan land jou voet daarin. Glad nie lekker nie!!

Human ·

Dit is hoekom Don Tantrum Trump se Amerika, oppad is na 100 000 gevalle per dag, as gevolg van hom en sy juig kommando se blatante moedswilligheid en beter weet, as die wetenskaplikes en medisie wat die dra van maskers, as een van die belangrikste dade, om verspreiding af te weer

Ian ·

Ja Human. Wonder wie tantrum agter die fopnuus media aan. Amerika het 50000 gevalle per dag. Ons staan op amper 9000. Per bevolkingsgetalle is ons dus kop aan kop met hulle. Hulle daaglikse toename in covid-19 siektes is 2% en ons sin is 5%. Dus is SA besig om hulle vinnig verby te steek. Drakoniese bespotlike inperkingswette ten spyt. Om met hom en sy juigkommando te spot is net so belaglik soos vir ‘n siek hoender om met ‘n arend te spot.

Jaco ·

As jy gou wil doodgaan – dra gerus jou masker terwyl jy oefen! As JY jou masker op het hoef jy mos nie bekommerd te wees nie. Jy is mos nou veilig.
Ons is denkende mense hier. Prof So-en-so se woord gaan ondersoek word en gemeet word aan die kennis reeds opgedoen. Ons moet weer leef en op natuurlike manier weerstand opbou.
Geen entstof vir my nie. “Big Pharma” wil jou siek hou – nie gesond maak nie.

Mercia ·

Probeer gerus om my uit te vreet wanneer ek nie ‘n masker dra tydens fisiese oefening nie dame…dan is dit verseker jý wat die sosiale afstand reël verbreek en jouself doelbewus in “gevaar” stel. So hier is vir jou wyse raad: Bly jy maar mooitjies weg van die ongemaskerdes wat jou so grief……sovêr ek kennis dra is daar geen “masker polisie” aangestel nie….. en as daar ooit so belaglike idee gebore word, hoop ek julle word ge”issue” met ligte en sirene-hoedjies sodat mens julle van vêr af kan sien aankom en julle heeltemal vermy! ????

antieke antie ·

ek hoop maskers dra bly vir altyd want dit sal mens beskerm teen al die ander goggas in die lug

Martie Smartie ·

Ja nee, as joernalis is dit nodig dat jy bietjie oplees. Die WHO raai mense af om te oefen met maskers op. En hou tog jou honde aan leibande, dan oortree jy ook nie.

Patch ·

Ek is ‘n stapper en doen dit teen ‘n redelike pas en sal nie ‘n masker dra terwyl ek stap nie. Ek kry nie asem as ek teen ‘n opdraande moet opstap nie. As ek die enigste persoon in die straat is wat stap, waarom moet ek ‘n masker dra? Indien iemand my nader wat draf of stap beweeg ek oor na die oorkant van die straat. So my social distance is groot genoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.