Begin weer nuut in jou tuin werskaf

Deur Karen Viljoen

Foto ter illustrasie. (Foto: DarcyRogers/Pixabay

Watter gedagtes assosieer jy met ʼn nuwe begin? Ek dink dadelik aan die Here se genade en ontferming wat elke oggend nuut is. Hy gee ons dus elke dag weer ʼn kans en daarom het ek altyd hoop wat vir my baie vrede bring.

Baie mense sal ook dink aan die begin van nuwe uitdagings, nuwe skool, werk of blyplek. Of uiteindelik ʼn kans om weer nuut te begin aandag gee aan jou oefenprogram, eetgewoontes of geloofsreis. Om nuwe dinge te begin laat jou gemoed goed voel en gee jou dadelik hoop en moed vir die toekoms. Net soos ons nuwe dinge beplan vir ons lewens aan die begin van elke jaar, kan ons ook vele vreugdes en hoop kry as ons die nuwe potensiaal en geleenthede in ons tuine en die natuur begin raaksien. Begin elke dag nuut met ʼn verwondering vir die natuur, God se skepping. So sal jy vinnig nader aan God voel en ook Sy opdrag, om om te gee vir Sy Skepping, na kom

Begin dalk hierdie jaar anders. Maak voornemens rakende jou tuin en beleef hoe die reis jou uiteindelik ook outomaties help om jou ander doelwitte te bereik. Besluite in jou tuin word altyd beloon, dink maar aan die opwinding en afwagting vir die eerste teken van groei as jy saad of bolle geplant het. Die verwondering van ʼn nuwe blomknop wat oopgaan, die eerste voëltjie wat in jou voëlbad kom baljaar. ʼn Nuwe begin skep ook die geleentheid vir tweede kanse, pas dit in jou tuin toe en vertroetel en sorg vir daardie plantjie wat dalk net nie goed gegroei het nie.

Gryp ʼn borsel en skrop die voëlbad silwerskoon en maak dit vol nuwe water. As jy ʼn fontein in jou tuin het, kan jy daarmee dieselfde doen. Kyk ook dat die pomp se filter skoon is, want daar kan maklik blare en slyk vassit wat later probleme kan veroorsaak.

(Foto: pixamin_com/Pixabay)

Tuinaktiwiteite kan ook help om jou voornemens van meer oefen na te kom. Spandeer ʼn oggend in ʼn kwekery, stap fluks rond en gaan kyk watter minder bekende plante beskikbaar is. ʼn Paar waarop ek afgekom het sluit in:

Bulbine abyssinica (wildekopieva)

Bulbine abyssinica (wildekopieva). (Foto: Lifestyleseeds.co.za)

ʼn Baie maklike plant wat nie baie sorg nodig het nie. Dit is inheems, meerjarig en immergroen en lewer ʼn pragtige skouspel van geel blomme wat bye lok en is ook ryp- en droogtebestand. Die plant kan heeljaar blom, kan opgedeel word sodra dit groter is en verkies volson.

Evolvulus glomeratus (Blue daze)

Evolvulus glomeratus (Blue daze). (Foto: Selectseeds.com)

Nog ʼn gewillige plant wat min aandag nodig het en die meeste van die jaar ʼn blou skouspel van blomme lewer. Dit is uitheems, immergroen en gehard en verkies ook volson. Die blou blommetjies gaan toe sodra dit aand word en kan pragtig lyk as dit saam met die Bulbine in ʼn bedding geplant word. Alhoewel dit ʼn struik is, groei dit meer verspreid as regop, laat dus genoeg spasie rondom toe vir toekomstige groei.

Salvia leucantha (Meksikaanse salie)

Salvia leucantha (Meksikaanse salie). (Foto: Herbgarden.co.za)

Hierdie is ʼn meerjarige, geharde plant wat immergroen is en volson verkies. Ek onthou as kind hoe die fluweelsagte blomstele my gefassineer het. Die blomme lok ook baie insekte en voëls en lyk selfs mooi in ʼn klein vaas in jou huis. Die plant hou daarvan om na die winter straf teruggesnoei te word, waarna dit weer baie vinnig nuwe loof vorm. Dit word ʼn groot bos van min of meer 1 x 1,5m en lyk pragtig as dit in massas geplant word.

As jy dit oorweeg om ʼn nuwe boom in jou tuin te plant, kyk na die boom van die jaar vir 2024. Dit is gewone karee (Searsia lancea) en bergkaree (Searsia leptodictya). Albei bome is immergroen en gehard, vinnig groeiend, word ongeveer 5 tot 8 m hoog en dra baie fyn blommetjies wat opgevolg word deur klein, ronde vruggies.

Hark, kruiwa stoot en grassny sal baie help om oefen nie soos harde werk te laat voel nie. Jou grasperk sal nou sterk groei na die hitte en baie reën en sal meer gereeld gesny moet word. Hou die hoogte van jou grassnyer effens hoër (4 tot 5 cm in sonnige areas) om toe te laat dat die gras se blare die wortels kan beskerm teen die hitte en son. Aangesien die lente se voeding nou al opgebruik is, kan jy weer jou grasperk voed en 7:1:3 kunsmis, wat stadig vrystel en hoog is in stikstof, sal ideaal wees. Strooi dit egalig oor die grasperk en gooi daarna goed nat.

Om plante te snoei stimuleer nuwe groei en verseker ook vir hulle ʼn nuwe begin. Snoei ook plante wat blom se dooie blomknoppe af, kruie sal baie nuwe groei wys na ʼn goeie terugsny en so ook rose. Nie so straf soos na die winter nie, maar darem genoeg om ʼn laaste blommeprag te stoot voor die volgende seisoen. Gee die roosplante ook ʼn goeie dosis kunsmis en maak seker die goggas word ook in toom gehou. Vir kunsmis kan jy 8:1:5 Rose & Flower strooi en goed natgooi en Rosecare kan help vir lastige goggas. Onthou om altyd insekdoders te gebruik as laaste uitweg.

Jou binnehuise plante vra ook aandag en baie kan help om ʼn nuwe, vars gevoel in jou huis te skep. Sny dooie blare af, voed met ʼn vloeibare kunsmis en maak die blare van plante skoon met spesiale lappies (by kwekerye beskikbaar) of spoel die blare af met water.

ʼn Baie algemene besoeker deesdae in tuine is die luiperd-mot (Zerenopsis leopardine) wat baie skade aan die nuwe groei van broodbome kan aanbring. Die mot lê sy eiers aan die agterkant van die blaar en die wurmpies wat uitbroei kan vinnig skade aan die blare veroorsaak. Die wurms se kleur en ook smaak skrik die voëls af en dit is dus nodig om met insekdoder in te gryp. ʼn Sistemiese insekdoder soos Cypermethrin sal help, asook die strooi van Blue Death. Dit moet vinnig en direk op die wurms toegedien word.

Die luiperd-mot (Zerenopsis leopardine). (Foto: Cycad World)

Nuwe lewe in jou tuin kan dalk beteken dat jy ʼn bestaande bedding aanpas, groter of kleiner maak, of om ʼn nuwe pot met kleurplante aan te skaf. Oorweeg om areas op jou grasperk wat dalk nie na wense groei nie, ʼn tweede kans te gee met voeding of self met nuwe trapblokke. Begin ʼn nuwe gewoonte in jou tuin en stap elke middag rustig daardeur en let op na nuwe blomme, nuwe groei, sade, vrugte of ʼn nuwe welkome gogga.

ʼn Nuwe begin kan baie verwagtings in die lewe skep, maak seker dat jou verwagtinge gegrond, deurdink en realisties is, in jou lewe en so ook in jou tuin. Pak jou nuwe idees stukkie vir stukkie aan en onthou om elke vreugde te vier.

Kry ʼn stil plekkie en sit vir jou ʼn stoel daar en doen jou geestelike verryking in die natuur en in God se skepping. Jy sal verbaas wees hoe vars en nuut jy daarna sal voel.

  • Karen Viljoen is landskapargitek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.