Blywees oor beproewings: Hoe werk dit?

Deur ds. Alwyn du Plessis

Argieffoto: Pixabay

As ‘n mens in die penarie is waarin ons nou in Suid-Afrika is, sal die meeste mense, ook Christene, baie kopkrap oor wat Jacobus (nogal ‘n broer van Jesus) in sy omsendbrief aan Christen-Jode, verspreid in die groot Romeinse ryk, skryf oor hoe hulle die druk van die owerhede en van hul mede-Jode moet verwerk. Trane, teleurstelling, vrees, moedeloosheid en lyding is hul lot. Hulle swaarkry is ‘n beproewing, ‘n toetsing.

Die kordate moderne mens het sy eie houding oor sulke toestande: Dit is uitdagings! Keer dit vernuftig om tot sukses! Dit is binne jou vermoë!

God, die Vader van ons Here Jesus Christus se padaanwysing is heeltemal anders. Dit begin by ‘n mens wat glo dat hy/sy deur Jesus Christus ‘n Vader het. ‘n Vader wat Homself deur die geskiedenis laat ken het as een wat ‘n verstommende liefde vir die brose, kwesbare, skuldige mensdom het, in so ‘n mate dat Hy sy Seun die skuldlas van die mens laat dra het. En daarby die Vader se onwrikbare trou om sy beloftes te hou. As ons ons geloof só beoefen, deurstaan ons die toets en stel dit ons in staat om in geloof vol te hou. En wie volhou, word steeds meer geestelik volwasse – jy word ryp. Om hierdie groeiproses vol te hou het jy wysheid nodig.

Wysheid is nodig om te weet hoe om in die lewenspraktyk en onder alle omstandighede te doen wat jou Vader wil. Hiervoor moet ons altyd bid. Gebed is die asemhaling van ons lewe met die Here. Nie verniet nie waarsku die Skrif hier: ‘n mens moet gelowig bid. Jakobus vergelyk die gebed van die twyfelaar met ‘n golf wat koersloos deur die wind rondgegooi word. Ongeloof maak van ‘n gebed ‘n kansvattery. En God word as ‘n noodhulp gebruik.

Die lesers word gewaarsku daarteen om “verkeerd te bid”. Jakobus sê dit uitdruklik in hoofstuk 4:3: “Julle bid om julle selfsugtige begeertes te bevredig.” In ‘n ware gebed is altyd ingesluit die beantwoording van die vraag: Wat wil jy doen met wat jy van die Here vra? Is jou gebed ‘n selfsugtige soeke na blote eie voordeel of is God self en ‘n godgewyde lewe wat Hom verheerlik, die doelwit?

Ek kan nie aan ‘n tyd dink waarin gebed so sterk op die openbare agenda was soos nou nie. Die rede is die skynbaar hopelose situasie waarin ons land is: ‘n mislukkende landsregering; die besmetting van korrupsie; droogtetoestande wat plek-plek nog voortduur; ʼn wettelose samelewing waarin afsigtelike misdade teen mense gepleeg word. En toe waai ‘n dodelike virus nog uit die Ooste soos ‘n stormwind ons bestaan binne en krap ons hele lewe om.

As jy die bedreigings wat daar nou vir ons land is (om nie die hele wêreld te noem nie) as beproewings sien, is jy by die pad wat die Here aanwys. Jy moet die Here se pad deur al jou seerkry en probleme en teenspoed, van watter aard dit ook al is, as ‘n pad van vreugdevolle oorwinning beleef. Dit begin met jou heelhartige oorgawe aan die Here wat sy ryk beloftes aan jou gee. Jy behoort aan Hom en jy is kosbaar vir Hom. Die stampe en stote moet jou net meer gedetermineerd maak om te bly in die liefde van God vir jou (Judas vers 21).

Volhard daarin, hou vol. Elke oorwinning oor twyfel en verbittering beteken groei en geestelike rypheid. Die geloofspad is een van groei. Hoe meer groei, hoe meer blydskap, hoe meer is jy oorwinnaar. Ons kan beproewings nie vermy nie, ook nie wegbid nie en nog minder wegwens.

Vind sterkte en blydskap in alle soorte beproewings. Maak jou lewe ‘n wandel in blydskap met die Here.

  • Alwyn du Plessis, emeritus van die Gereformeerde kerk Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.