Briewe uit Bagdad: Die aankoms

Bagdad (Foto: Koos Greeff, verskaf aan Maroela Media)

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy eerste brief. -Red

Liewe vriende

Klim toe hier op Kaapstad op so ʼn goud-swart-vliegtuig en sommer met die wegtrek raak ʼn ou in Arabies vreeslik aan die pleit. Sit bietjie op Johannesburg en ek kyk maar moedverloor na die Oos-Rand se kant en groet die Afrikason. Dis weer die vreeslike gepleitery en toe vat ons die pad na Abu Dhabi waar ons teen 3-uur se kant die oggend land. Het heel goed gevlieg – die kos was net vreemd met sulke opgerolde broodjie-goed wat met speserye gevul is.

Land toe met ʼn reuse sooibrand daar op Abu Dhabi. Probeer sodawater of iets koop om die vuur in my maag dood te gooi, maar skrik my skoon gesond toe ek hoor wat dit kos. Die lê-bankies daar op die lughawe is te kort vir my en so loop ek al in rondte soos ʼn pars-donkie totdat ek later ʼn verlate hoekie oplet. Trek my daar toe onder Steffie se kombersie en slaap salig tot die sekuriteitsmense my daar kom verwilder. Gaan soek toe iewers koffie en die een koppietjie met ʼn ou bruin toebroodjie berowe my van alle kontant wat ek op my het.

Teen 10-uur se kant klim ons in ʼn stokou 737-Boeing en toe bid ek behoorlik saam. So bid-bid land ons net na 11-uur in Bagdad.

Die lughawe is maar verwaarloos en herinner my aan die lughawe van Lusaka onder Kaunda toe ek in 1985 daar was. Dis met so ʼn moedelose kakie-kleur geverf en verder hang stof die hele hemel vol. En dis warm. Ek praat van Vioolsdrif warm hier in Februarie. Moes meer as twee ure in ʼn ry staan om deur paspoortbeheer te kom en toe my tassie loop soek. Voel maar alleen tussen al die Irakkies met niemand wat eintlik omgee of ywerig werk nie. Die werksywer is omtrent soos die ouens daar by die Zambië se kant van Sesheke-grenspos – julle weet mos.

Toe ek uiteindelik moedeloos en verhonger daar uitstap, kom roep iemand in Afrikaans: “Hey, Koos, welkom in Bagdad.” Ek kon my oë nie glo nie! Daar staan drie gepantserde voertuie met ses woeste manne – almal Afrikaansprekendes. Die manne lyk soos monsters, soos ou Arnoldjie van Hollywood en boonop is hulle bewapen tot die tande toe maar almal glimlag van oor tot oor en ek voel tuis.

Kyk, ek ken van soldate, maar so-iets het ek nog nie gesien nie. Almal het dieselfde uniform aan maar dis waar dit stop. Party dra bandanas om die kop of het sonbrille op, party het baarde of snorre, maar meestal is dit kortgeskeerde koppe en kaalgeskeerde gesigte. Gewoonlik is daar ʼn Suid Afrikaanse vlaggie iewers op sy mondering. Verder is dit koeëlvaste baadjies en staaldakke. Nou nie meer die soort waarin ek en jy teewater gekook het nie – dis nou Kevlar of so iets. Iewers teen die bo-been is ʼn soort mes vasgegespe en ʼn pistool wat ook uitloer en met ʼn outomatiese geweer in die hand. Almal het oorfoontjies in die ore met tweerigtingradio’s en selfone en goeters. Maar almal is vriendelik en laat voel my soos ʼn eregas. My gou daar beklee met ʼn koeëlvaste baadjie en staaldak en ʼn paar botteltjies water in my hand gestop anders was ek in elk geval dood van die dors.

En dit is nie net van ry nie, want oral is padblokkades en beheerpunte en dan moet mens nog die paaie vermy waar daar pas ʼn bom-aanval was. Daar word met ouens op die radio gepraat in Afrikaans en daar word presiese roetes met aankomstye beplan en deurgegee. Toe is dit ʼn kort touwysmakery van wat ek moet doen as watter onheil ons tref en daar gaat ons.

Bagdad (Foto: Koos Greeff, verskaf aan Maroela Media)

Ek ry in die middelste voertuig – ʼn swart Chevy Urban met dik glas oral oor. Die deure se binnekos is uitgehaal en daar is dik klei-agtige panele vasgebout. En die karre het radio’s en kameras en allerlei elektroniese goeters in. Ek weet net dat die ouens kommunikasie het met almal en dat iemand iewers presies kan sien waar jy ry en hoe die besigheid daar lyk en raadgee.

In Irak werk dit so: die Amerikaners was baas maar toe vat die Irakkies oor en die weermag en polisie weet nie mooi wie doen wat nie, so elke ou probeer baas speel. Dus het mens Amerikaanse beheerpunte en ook Irakese weermag- of polisiepunte. Ek praat nou van elke 5 km of so. En dan is dit honde wat snuffel en ouens met stokke met spieëltjies aan en ander ouens met elektroniese goeters wat kyk vir seine en luister vir bomme se getik. En die meeste van die ouens is nors en baie soek nie Amerikaners daar nie en die Amerikaners is jaloers op die privaat maatskappye, want volgens die soldate kry die civvies te groot salarisse. So niemand hou eintlik van die swart Chevvies nie.

In gewone taal gaan dit so: “Moenie in Kerkstraat afry nie, want ou ‘Hangsnor’ is daar. Draai in Grensstraat in maar ry net tot by Noordweg want ‘Boepens’ staan verder aan.” En so vleg mens deur hierdie chaos en my kop draai behoorlik want ek voel ons ry in sirkels! Elke nou en dan moet ons uitklim en dan word ons “bevat” en “beloer” en deursnuffel en dan gaat ons weer. Die 20 km word ʼn behoorlike nagmerrie en vat amper twee ure en my maag vreet my binnegoed op van hongerte want ek het laas behoorlik op De Brug geëet!

En die “Monsters” ry nie soos gewone mense nie. Hulle jop is om privaat kontrakteurs te vervoer en beskerm. “Civvies” is kroonwild in Irak want as die boewe een kan vang, kry hulle baie geld vir losprys. Dus jaag ons behoorlik en dit voel asof hulle “stamptjorre” speel. Die drie gepantserde goeters storm die strate af en vlieg om hoeke om skielik tot stilstand te kom by ʼn beheerpunt. Dan is dit weer wegvlieg en voortstorm tot by die volgende stopplek. Ek klou vir dood en sluk een botteltjie water na die ander want hierdie swart Chevvies is nou nie juis gebou vir Irak se hitte nie en die aircontjie kry geheel en al niks uitgerig nie.

Toe praat iemand op die radio: “This is Charlie gate. You are free to enter. The area is secure.” Die strate is vol vullis en kaalvoet kinders en maer brakke loop rond, maar voor ons doem reuse betonmure op en staaldeure swaai oop en ons gaan Karada-basis binne. Ons is veilig en ons is tuis.

Vertel volgende week verder.
Mooi loop.
Mis julle.

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

MCH ·

Koos, jy het n wonderlike , beskrywende en plat op die aarde skryfstyl wat regtig aanklank vind. Pragtig, laat die briewe kom.

Ai ·

Dis baie interresant en ek wil die storie volg maar wat het hy daar gaan maak en wat doen die ander Suid Afrikaners daar?! Genade dis mos uiters gevaarlik!

humor ·

Hulle het daar werk gekry want al hul onderskeidings het nie juis hier n bate nie. Ja dit is baie gevaarlik daar maar nie so gevaarlik soos hier nie.

Jan ·

Koos jy skryf baie mooi.
As n veteraan van 12 jaar in Iraq wil ek jou graad mooi vra om jou storie waar en juis te hou. Daar is nog onsaglik baie van ons Afrikaans spreukendes wat tans nog hier verteenwoordig is. Ons sal dit nie wardeer as stories verdraai word soos Chevvie Urbens pleks van Suburbens nie.
Kort en die land, hou asb jou stories spesifiek en met korrekte inligting wat vir Jan publiek bekend gemaak word.
Ons is vanplan om nog lank hier werksaam te wees en het nie wolhaar stories noodig om dit te belemmer nie.
Beste groete vanuit die Sandpit.

Koos ·

Jammer ou mater. Die tyd daar was vir my wonderlik en ek het net die grootste waardering vir alle PSD’s en vir wat julle daar doen. Staan sterk en wees veilig

Frankie ·

Ek was baie bevoorregt om in die midde ooste vir twee te kon woon en toer en het later ook as safari gids gereeld Muslim lande in Afrika te besoek. Een van die dinge wat my steeds bybly was die opregte gebede van blydskap en dankbaarheid vir ‘n veilige reis en terugkeer na hulle vanderland – in Hebreeus – van die Jode toe ons in Tel Aviv geland het.
So ook die Muslim gebede op party van die vlugte na Dubai, Egipte en Turkeye waarop ek was.
Ek het met opwinding Koos se brief begin lees…maar die neerhalende verwysings na die Muslim vliegtuig personeel en passasiers se gebede was om – dit ligtelik te stel – glad nie snaaks nie. Ek is ‘n Christen – maar dit beteken nie dat ek as mens, in beginsel, nie respek kan hê vir ander mense se gematigde geloofsoortuigings nie. Ek sê weer…ek praat nie van ekstremistiese geloofoortuigings nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.