Chris Chameleon: Eelte

Argieffoto (Foto: Wokandapix, Pixabay)

In die laat 70’s en vroeg 80’s het ek kaalvoet skool toe gegaan. Die rede wat die landbouskool waar ek op koshuis was gegee het, was dat ons voete hard gebrei moes word vir die rugbyseisoen. Maar dit het nie by rugby opgehou nie. Ek was ʼn entoesiastiese landloper en ons het elke middag kaalvoet vier kilometer óf grondpadlangs treinspoor toe gedraf, of die perskeroete eers padlangs en dan rivierlangs boorde toe, of die lusernroete, agter die stalle verby en dan deur die veld en om die landery. Altyd kaalvoet. Ek onthou hoe ek af en toe bo-op ʼn duwweltjieplant te staan gekom het, en dan ongeërg die lastige dorings uitgetrek het en dan weer aangegaan het met my lewe. Ek onthou die lekker gevoel van modder of nat mis wat deur my tone sypel. Ek onthou hoe ek eers ʼn blou maermerrie in die skrum begin kry het op die hoërskool se toksvereisende rugbyvelde.

My voete was hard. Wanneer ek naweke huis toe gekom het, het ek die stad verken in my kaalvoete. Die enigste ongemak was, af en toe, op ʼn versengende somermiddag, ʼn vuurwarm beton- of teerblad.

Vereelt. My voete was vereelt. Deur die aanslae van elke spoor getrap op klippe, gras en grond is my sole mettertyd verhard tot ʼn ongevoelige, byna dierlike eienskap.

***

Vanoggend was ek in ʼn onweersbui – het byna die aapstuipe gekry van boosheid. Ek was so kwaad ek kon kakkerlakke fynkners. Ses sekondes later het ek my ʼn papie gelag, sommer drie maal agtermekaar vir dieselfde ding, en toe, dertig sekondes later, was ek diep geroer deur ʼn daad van skone, deugsame menslikheid. Binne die volgende halfuur sou ek nog: irritasie, vermaak, woede, vermaak, ag siestog ag foeitog, ongeloof, skok, geamuseerdheid en weer ongeloof beleef.

Vanwaar dan hierdie wipwaentjierit? Vanweë die omvang van my wêreld. Gedurende my ganse lewe, tot redelik onlangs, was die wêreld hoofsaaklik beperk tot my persoonlike ervaring en waarneming, met, af en toe, aanvullings deur twintig jaar oue ensiklopedieë wat vertel wat veertig jaar gelede gebeur het, of vandag se nuus wat vertel wat gister en die week daarvoor daar doer gebeur het.

Maar nou, welkom 2018. Ek het die ganse planeet binne die bereik van ʼn klein toestelletjie in my palm. Wêreldgebeure bereik my onmiddellik. Ek kan binne een uur my vererg vir die land se dwaalspoor, verlief raak op ʼn ougat katjie in Japan, geïrriteerd raak deur iemand se siening in die VSA en my verstom verkyk aan die stadige aksie beeldmateriaal van die nuutste menslike liggaamlike uitnemendheid. Ek word ʼn emosionele rodeo, met die verskil dat die perd my nie kan afgooi nie.

Ek wonder nou al geruime tyd hoe geredelik ons liggaam en verstand aanpas by die steeds versnellende tempo van moderne lewe, en veral moderne tegnologie. Kan die slakkegang van DNS bloudrukke byhou by die windhond van tegnologie? En indien nie, wat is die gevolge? Verwarring en ineenstorting? Laasgenoemde is, na my beskeie mening, die geringste sorg. ʼn Veel groter bedreiging is dat ons, ter wille van beskerming, emosioneel sodanig vereelt raak dat ons niks voel nie.

Vereelt. My gevoelens word vereelt. Deur die aanslae van elke sensasie, videogreep en ongegronde aantyging word my siel mettertyd verhard tot ʼn ongevoelige, byna dierlike eienskap.

Wat ʼn treffende gedagte, dink ek. My hand reik uit na die selfoon. Ek maak Twitter oop sonder om te hoef te kyk wat ek doen, soos ʼn ervare narkotiseur wat vir die soveelste keer ʼn standaard dwelm toedien aan ʼn grootoog wagtende kind. En dan besef ek wat ek doen. Daar steek net-net genoeg emosie in my om die grap tot my eie onkoste te snap. Ek sit die foon neer terwyl ek nog in staat is tot bang wees.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.