Chris Chameleon: Engele met sterte

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Dis ʼn mooi dag. Johannesburg gooi daardie byna versengende vroeg-lente hitte uit en die dag vra vir kaal voete, braai en buite wees. Dis lekker vir die mensdom met sy damme en graanskure, maar die natuur is gespanne. Die kompetisie vir skaars hulpbronne ná die winter is groot, en dan moet daar nog gepaar word.

Ek slaap gewoonlik hierdie tyd van die jaar baie sleg. Kort nagte, vroeë oggende en ʼn meedoënlose spanning kenmerk my dae en ek vermoed reeds jare lank dat dit spruit uit ʼn simpatiese meelewing met die lentestres van die natuur om my.

My beminde en ek ry botaniese tuine toe. Ek is baie lief vir honde, maar kan vanweë my gedurige rondreis nie self een hê nie. Die tweede prys is dus uitstappies na die tuine toe om te kyk hoe ander mense se honde baljaar en so ʼn bietjie te deel in die vreugde daarvan.

Op pad tuine toe hou ons by ʼn verkeerslig stil. ʼn Bedelaar kom staan voor my oop venster met ʼn bakhand wat af en toe mond toe beduie. Suid-Afrika. Ek skud my kop om ‘nee’ te beduie. Die verkeerslig word groen en met die wegtrek voel ek spoeg teen my arm en nek spat. My beminde kry ook ʼn paar spatsels.

Die wet verbied my om sake in eie hande te neem.

Ry ek polisie toe en lê ʼn klag?

Ek het geen vertroue in die polisie nie.

Die bepalings van Christelikheid maan my om kalm te bly, dalk selfs die ander wang te draai, maar uiteindelik wen die natuur. Die spanning van die lente, die min slaap, die stres van my huidige omstandigheid kry die oorhand en ek hou anderkant die verkeerslig stil, klim uit, loop hom tromp op en doen wat ek dalk nie moes gedoen het nie.

Terug in die kar is ek hewig ontsteld. Briesend, siedend. Op die pad verder na die tuine toe, raak ek emosioneel en sluk swaar aan my gevoelens.

Ons hou by die dam stil – my beminde paai nog een strook deur. Die kar word gesluit en ons begin stap. Onder die derde boom deur voel ek weer ʼn spatseltjie teen my. ʼn Duif het vanuit die moerassipres aan die oewer op my beminde getjorts. Wat de dinges? Wat is die kanse?

Normaalgesproke sal ʼn mens daaroor kan lag, maar teen die agtergrond van die gebeure van so flussies by die verkeerslig, is ons nie op die humor daarvan ingestel nie.

Al wandelend bespreek ons dit, en kom tot die gevolgtrekking dat ons beleër word. Ek het al vantevore deur fases van slegte geluk gegaan en dan gemerk hoe dit my eintlik aan’t voorberei was vir wat uiteindelik ʼn noue ontkoming sou word, dat die slegte geluk my voorberei het, verskerp het, gemaan het tot waaksaamheid. Ons besluit om dit daaruit te neem: ons moet versigtig wees. Ons moet wakker slaap, rondkyk.

Nou goed, die besluit is geneem, maar die ongelukkigheid wil nie wyk nie. My binneste bly omgekrap. Vir wat spoeg die vuilgoed my? Ek het my kop een maal geskud en hom geïgnoreer. Wat is dit aan my wat maak dat hy my spoeg? Sou ek beter gevoel het as ek nie uitgeklim het nie? Kan ek bekostig om nie uit te klim nie? Van watter diens is ek vir die samelewing as ek dit net laat gaan? Is ʼn bietjie weerstand nie in orde nie? Moes ek dalk nog heftiger opgetree het omdat hy my beminde ook raakgespoeg het?

Die drukkoker in my gemoed bou naderhand so erg op dat ek stilhou, want die vet weet so kan dit nie aangaan nie. Ek stel voor dat ons op ʼn kol gras, weg van die paadjie gaan sit en oor hierdie ding bid. Ons gaan sit en omdat sy weet dat my hart swart modder pomp, lei sy die gebed – een van die mooiste gebede wat ek in ʼn lang tyd gehoor het. Bid om vergifnis, bid om verlossing, bid om genade.

En bid om vertroosting.

En weer voel ek iets nat, hierdie keer in my oor. Wat de..!

My oë flits oop.

Reg langs my het ʼn hond kom sit. Hy het sy snoet in my oor gedruk om homself voor te stel en nou kyk hy nie direk na my nie. Hy sit net stil en kyk uit oor die dam, ʼn vreemde hond, styf langs my, met daardie liefde, kameraderie en rustigheid wat slegs ʼn hond ʼn hond kan nadoen.

Die knope raak los, die ys smelt, skouers sak en my oë versag.

Soms het engele sterte.

 

*Chris Chameleon skryf maandeliks ‘n rubriek vir Maroela Media. Lees sy vorige rubrieke. -Red

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Shirley ·

Dit was pragtig, hartseer en so waar! Baie dankie! Dit het my baie beter laat voel.

Eish ·

Ongelooflike talent om alledaagsheid so beleefbaar te bewoord!

Lettie ·

Baie mooi, dankie vir die deel! Om die pad te stap lyk soms maklik maar dis tog netso moeilik…. Op die ou end tog die moeite werd. Word gelouter en gesywer soos goud, dis n warm proses in die wêreld.

Amanda Jonker ·

“…….engele het sterte..” sê jy wat nie een het nie. Mag jy eendag die volle gawe van ‘n engel met ‘n stert geniet. Baie dankie vir die gedagtes.

wilma ·

Pragtig, dankie. Onthou maar om in die vervolg die motorvensters toe te hou! In plaas van spuug kon jy dalk gelem gewees het.

Hettie van Zyl ·

Diep waarheid wat Chris hier met ons deel. Magtelose woede en frustrasie oor ons land se situasie,ons mense se gedrag, die onvoorwaarlike liefde van ‘n hond maar die belangrikste is die eer en voorreg wat ons Hemelse Vader aan ons gegee het om te mag bid.Ek het ook eens deurgeloop onder vloektaal en die “vinger” omdat ek geweier het om aan ‘n sg karwag ‘n fooitjie te gee voor Binnelandse Sake- kantoor in Roodepoort.

Riana ·

Chris Chameleon, jy is ‘n kunstenaar met woorde…maar dis nie al nie..
Ek ken jou nie, maar die manier hoe jy van jou geliefde praat gee my hoendervleis en trane in my oë.
Mag baie mans by jou leer hoe om hulle beminde te behandel.
Mag jy en sy God se seën in oorvloed ervaar!

Tee ·

Ek het met jou gegrap en gesê ek het nie kultuur nie, maar ek het skoon vergeet om vir jou te vertel hoe ek jou skrywes geniet.
Hierdie een was sommer ekstra spesiaal en iets wat my altyd sal bybly.

Ina Scheepers ·

Wat ‘n pragtige ondervinding wat Chris met ons deel, Ek glo ook somtyds het engele sterte, ons moet net ons ore oop hou,

Hilda ·

…..en sommige engele het pen in hul hande?? Dankie Chris vir hierdie skrywr van vandag, dit versag sommer my hart!

Anke ·

Mag ons elke dag van die engele met sterte leer, onvoorwaardelike liefde. My twee is my daaglikse redding.

Suiwerheid ·

Ditto op bogenoemde kommentare.
Ek sou baie graag in gesprek met jou wou tree Chris omrede jy so suiwer Afrikaans praat. Ek luister altyd fyn na jou in enige onderhoud vir welke rede ookal, hetsy radio of TV, hoe suiwer jy gesels. Besef dan keer op keer dat jy nie na Afrikaanse woorde soek maar vloeiend die onderhoud in Afrikaans voer wat my laat besef jy praat elke dag so suiwer. Dalk ‘n bietjie Frans met die nat wang ervaring. ?
Ek het ‘n broertjie dood aan die jongmense en selfs ouer mense wat hulle taal so meng en dan praat ek nie eers van die spelling nie. Liewe land tog, ek is werksaam by ‘n universiteit en praat 80% Engels (net Engels) met die studente en die res Afrikaans (weereens net Afrikaans).
Ons Afrikaanse studente se taal is so gemeng dis om van te ween. Hoe studente onderwys wil gaan gee deur so gemengde gepratery en powere spelling weet geen mens.
Al wat ek jou asseblief wil vra Chris doen so voort!!! Ek kan my verluister in jou suiwerheid van ons mooie taal genaamd Afrikaans!

Franciné ·

WOW – ongelooflik! Chris was nog altyd my mees gunsteling sanger, en nou hy is hy ook my mees geliefde rubriek skrywer!! Ek kon in sommige dele die verstrasie voel, en met gebed ook die vrede ervaar! Hierdie rubriek is vandag my engel met ‘n “stertjie”! well done Chris

ZAR ·

Alles wat kon verkeerd gaan het verkeerd gegaan gister. Die unie van my besigheid se werkers het besluit hulle gaan staak, want ek kon hulle nie ‘n 6 persent verhoging gee nie, net ‘n 3 persent. Ek het elke individu ingeroep en my besigheid se finansies probeer verduidelik. Niemand wou luister nie, almal voel hulle is geregtig tot 6% verhoging(die unie sê so). Ek voel hoe my besigheid onder gaan. Hoe elke deur moeiliker is om oop te maak. Suid Afrika het nie gunstige grond om ‘n besigheid te groei nie. Ek sukkel om werk in te kry want my besigheid is nie BBE geakkrediteer nie. Ek het hierdie besigheid van die grond af begin en het al vir 50 mense werk geskep. Maar ek word om elke hoek en draai uitgedruk. Die myn het vir my gesê dat my besigheid ‘n werk vir hulle kan doen as ek ‘n lokale swart groep oplui. Ek doen dit toe. Nou kwoteer ek teen die einste groep, en ek wen nooit meer nie. My kop sak in moedeloosheid. Toe lees ek hierdie en onthou waar my hulp vandaan kom. Ek moet net weer stil word en al my bekommernisse aan Hom oorlaat. Ek kan skree, skop en slaan, maar tevergeefs. Ek kan nie wette verander nie, ek kan nie die verlede verander nie, ek kan nie my velkleur verander nie. Ek kan nou net op ‘n stil plek gaan sit en bid vir vrede en uitkoms. Dankie Chris vir die herinnering.

Veronica ·

ZAR . . .
Skielik lyk my probleme kleiner alhoewel dit my die laaste weke amper gebreek het.
Maar saam met jou ZAR , bid ek vir jou vir n GODELIKE UITKOMS . . . mag die GOD VAN JAKOB jou help!

Annalie ·

Wow, wow, wow !!!!!! So raak gesê……. As ons geanker is aan Jesus sien ons die “engele met sterte( of nie), raak! Ons hoef nie volmaak te wees nie ons word kwaad, kry seer, huil of word onsteld….ons is almal mense met skerp punte. God stuur engele elke dag, in watter vorm ook al, om ons skerp rond te maak. Soms is die proses seer maar watter borrelende vreugde as ons ons engel herken!!!!!!! WOEF

Vee ·

Chameleon . . . hierdie is nou my ” engel met n stertjie”
want die laaste ruk beleef ek self negatiewe dinge in oormaat , selfmoord het gelyk na n uitweg. Alhoewel dit n permanente uitweg sal wees vir n tydelike probleem . . .
Vanoggend is my gemoed onderstebo want dinge is nogsteeds nie uitgesort nie maar ek het my vertroue in GOD geplaas en ek bid. . .
Dankie vir die lag wat jou vertelling uit my binneste gelaat het . . . mag dit ook die knope in my dag ontknoop.

Maria ·

Vee, so bly ons bid tot tydelike probleem uit ons system kom . Beste vorentoe

Antoinette ·

Ek glo dat die 4 benige gediertes met kort of lang sterte, engele is. Hulle skeppingsdoel is om n “companion” te wees. Om aan iets van hulle 2 been eienaars te help dra wat te swaar word. Om beter te lek wat seer is, of net te luister na iets wat hulle gn snars van verstaan nie. Ek is deur en deur n honde mens…….

Jann ·

Almal se kommentaar was baie inspirerend en tog haat my familie my engeltjie met n stertjie. Sy naam is Kriz2 en ek het hom van n gewisse dood gered toe omtrent 8 weke oud was. Na n siekbed van 8 maande bly ek by familie. Beide ek en Kriz2 “float” en is aan ander se genade oorgelaat. Ek mis sy nat snoetjie en engelstertjie so onbeheersd aan’t waaie wanneer ons twee tog nog met geleentheid mekaar sien.

Erich ·

Dankie Chris. Ek het my gesit en verknies oor my probleme maar na ek hierdie bydrae van jou gelees het voel ek sommer beter.

zack ·

Wow dis die eerste keer dat ek iets van Chris lees. Ek kan eerlik se hy het my dag gemaak.

Pippa ·

Hierdie woorde gee my hoendervleis!!!! Dit is nou voorwaar besonders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.