Chris Chameleon: Moses (deel 1)

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Vroulief vertel my byna daagliks haar drome. Nugter alleen weet hoe sy hulle onthou. Ek weet ek droom, maar praat nie soggens voor koffie nie en het dit ná koffie reeds vergeet. Sy, daarenteen, kan breedvoerig uitwei oor die fynste detail van die wonderbaarlikste drome.

Sowat ʼn jaar gelede vertel sy my een oggend in die Albertinia-hotel van die vorige nag se droom. Dit was van ʼn katjie wat agter ʼn venster sit en ʼn trop honde wil deur die venster kom om haar te byt. Vroulief wou ingryp en help, maar kon nie (sy is ook in haar ontwaakte staat bra versigtig vir honde – sy is self maar ʼn katjie).

Later die dag gaan stap ons deur die paar strate wat Albertinia konstateer. Aan die ver kant van die dorp hoor ons by een werf ʼn geblaf. Ek is op my beurt weer ʼn hond mens – ken en verstaan die vierpotige vriende, en hulle my. Maar aan die gekef kon ek dadelik uitmaak daar is iets ongewoon aan die gang, ʼn soort histeriese, ontoelaatbare opwinding. Ons stap om die sanderige werfhoek en daar sien ons dit. Wydsbeen oor ʼn klein katjie staan ʼn middelgrootte jong basterbrak. Aan weerskante word hy deur ʼn Jack Russel en nog ʼn bastertjie aangehits. Wat as ʼn speletjie begin het, het sopas die perke van huisdierbeskaafdheid oorskry.

Ek het dit al op speelgronde in mense gesien – speletjies wat ontaard in waansin. Terg word venyn, knor word knou en as daar nie ingegryp word nie, raak dit lewensgevaarlik wanneer die dier in beide mens en dier wreed deur die kantgordyntjie van ordentlikheid skeur.

Die katjie het op sy rug gelê en die opgesweepte jong hond se oë was wild van die speel waarteen oumas altyd maan net voor die gejil in ʼn geween ontaard. Al wat katjie nodig gehad het, was ʼn vinnige harde blaf van my by die heining om die fokus van die honde te breek, en toe laat spaander hy na die veilige onderkant van ʼn stuk werfskroot.

Natuurlik wou vroulief optree en allerlei onbesonne en ontoelaatbare ingrype van barmhartigheid pleeg. Maar onder begeleiding van die uitleg van die wet van mens en natuur het ek haar onwillige moederhart daar weggesleep. Ek wonder nou nog hoe daardie verhaal uiteindelik uitgespeel het.

Eergister gaan stap ek en my vrou op die plaas. Ons het maar ons roetes – hierdie kloof, daardie berg, die vlakte oorkant, duskant se vlei ensovoorts. Maar op dié dag wyk ons heeltemal af. Sowat vyf kilometer van ons pondokkie af is daar ʼn dam met wilgers, die ideale plek vir ʼn video wat ons in gedagte het. Ons besluit om soontoe te stap en ligging en praktiese moontlikheide te ondersoek.

Min of meer halfpad soontoe hoor ons hom. ʼn Kreet van desperate verdriet sny ʼn wond in die vreedsaamheid van die bekoorlike platteland. Hy spring uit ʼn bos en kom na ons toe aangenael. Dalk was dit die besef dat dit gevaarlik is om vreemdelinge sonder voorbehoude te vertrou, dalk was dit die hondgeit in my gees, maar die katjie keer byna dadelik om en spring weer terug in die struike vanwaar hy gekom het. Vroulief se hart skiet uiteraard vol meegevoel en ek moet self hard werk om ʼn nugter weergawe van myself voor te hou.

Ons gaan sit by die bos om die ventjie te paai, maar soos dit maar met katte gaan, is die vestiging van ʼn vertrouensverhouding ʼn omslagtige proses. Gelukkig het ons bier in die rugsak en besluit om sommer net daar langs die struike te sit en te drink en te paai en te drink en te paai. Uiteindelik slaag vroulief daarin om die welpie uit te tel. As dit ek was, sou dit nooit kon gebeur nie, maar dis ʼn ding wat ek meermale al gesien het – hoe wildvreemde katte tydens ons aandwandelinge in Johannesburg deur hulle heinings stap om deur haar gestreel te word.

Hy lyk glad nie goed nie. Sy verhongerde lyfie het homself al tot op die been opgeëet en verskeie ander tekens van heftige ontbering sit in en aan sy liggaampie. Hy het duidelik sy laaste krag gebruik om ons aandag te trek, vervolgens te weier en uiteindelik oor te gee. En watter oorgawe was dit nie. In die beskermende, tere omhelsing van my vrou spin hy, kop onder haar haardos in op soek na ’n tepel die kilometers terug huis toe.

Ons stap in stilte. Ek weet my vrou weet wat ek dink. Ek dink aan die droom wat sy vanoggend vertel het, ʼn droom waarin ons moes verhuis en, met ons vertrek, sien sy ʼn klein, verwaarloosde katjie in ons tuin langs die josefskleed en sit en sy wonder in haar droom of ek gaan instem om hom te hou.

Tuisgekom, het ons hom Moses gedoop, want ons het hom in die riete gevind. En ten tyde van hierdie skrywe het ons nog nie besluit wat van hom gaan word nie. Ek self hoop ek sal volgende keer duidelikheid hê.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Susan ·

Hallo Chris, ek kan nie wag vir deel 2 nie. Ek hou woes baie van jou vertellings. Hoekom nie ‘n boek skryf nie? Hou so aan. Dankie!

Dewald ·

Ag ek is seker dit gaan nie veel vat dat jul Moses se nuwe mense ouers sal wees nie. Vroulief gaan nie veel oortuiging hoef te doen nie, Moses gaan dit self regkry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.