Die betekenisvolheid van die ‘begrafnisbroodjie’

In liefdevolle herinnering aan TC Stofberg

Sonet Stofberg skryf:

(Argieffoto: Pixabay)

Dis enkele dae na daai gevreesde oproep. Daai oproep wat jy nie kan hoor nie, maar kan sien. Almal daag op – na ʼn moet-ek-, moet-ek-nie-oomblik – maar niemand weet wat om te sê nie. Almal weet eintlik, maar niemand wil hardop vloek in ʼn tyd soos dié nie. Ons het dan nou net gebid? Ja, dis dalk daai einste innerlike konflik wat ons woordeloos laat.

Maar die sondebok is eintlik daai oproep. Daai oproep het die volgende gesprek gekaap. Al die woorde is in daai oproep opgebruik. Na wat soos ʼn eeu van stilte voel, word daar tog eindelik gepraat.

Die vertrooster vra na etlike kere se oomblikke van stilte “hoe voel jy?”. Die realis vra oor die polisse en begrafnisreëlings en of alles in plek is. Want ja, die lewe moet aangaan. Die familie en vriende daag op en hou duim vas vir iets anders saam met die tee eerder as koek. Die “prakties”yne dra kos aan en was wasgoed, al hang daai selfde bondel reeds op die draad. O ja, moenie vergeet van die grapjasse met hul grappies nie … om almal te laat probeer lag, al is dit hoe onvanpas. Net een glimlag beteken oorwinning. Dan, die wat regtig stomgeslaan is en oor en oor herhaal dat hulle nie weet wat om te sê nie. Behalwe dalk na ʼn paar happies “koek en tee”.

Dis oukei, want niemand weet wat om te sê nie. Dis die ding … dis die vooruitsig wat die nou nóg moeiliker maak. Die feit dat hierdie nie net ʼn hoofstuk is nie, maar ʼn res-van-jou-lewe-storie. Vorentoe, agtertoe blaai jy … maar dit bly deel van die intrige, maak nie saak watter bladsy jy kies om na te blaai in daardie “kies-jou-eie-einde-boeke” nie.

Wat jy wel kan kies, is hoe jy hierop reageer. Jy’t dan so hard gebid, verklaar, gepleit en gesmeek. Maar dis die ding … wanneer ons gebid, verklaar, gepleit en gesmeek het vir ʼn einde wat vir my en jou die beste sou wees, het ons tog vermoed daar kan ook ʼn ander einde wees wat vir Hom die beste is. Maak dit ons kleingelowig? Glad nie! Ons verwagtinge word dan gefasiliteer deur hoop, nie teleurstelling nie. Só is elke einde ʼn wen-wen. Bepalings en voorwaardes geld soos met elke wen – hetsy dit ʼn inkleurkompetisie of ʼn wedloop is. Die ding van hierdie kompetisie is, dit is ʼn wen, ʼn oorwinning, soos dit geskryf staan in Romeine 8:32: “In dit alles is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.” Man, pappa, broer en vriend – TC het die wenstreep behaal.

Terug na die vooruitsigte en dit wat ons woorde steel. Ons weet nie wat om te sê nie. Hoe gaan ek sonder hom aangaan? Jy gaan nie. Hy is deel van jou genetika, reeds deel van jou storie. Wie gaan sy drie dogters in die kerk afgee? Gaan sy vrou weer trou? Ons gedagtes spring oor ʼn hele paar hoofstukke, want ons wil ook vinniger by die einde, die slot uitkom. Maar, dis nie die einde nie. Ons soek antwoorde vir die toekoms, omdat ons nie antwoorde vir die nóú het nie. Het iemand gedink dat sy vrou en sy dogters moeilik gaan soek na iemand soos hul pa en man? Iemand so uitsonderlik! Iemand so geliefd!

Dit was die opbou. Die groot dag breek aan waar die dominee onder geweldige druk is om die “regte” ding te sê. Die “regte” ding wat vir die familie gaan vrede gee. Maar ons weet, dit wat ons eintlik vrede gee, is reeds daar. Dis die vrede wat van Hom af kom, die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Die vrede wat ons net moet ontvang.

Dis onthaaltyd, en daar voor almal, uitgepak op die tafels, versier met pietersielie tot oorlopens toe vol, is die broodjies – hoender- en eiermayonnaise, ham en kaas, en natuurlik tunamayonnaise (wat jy aanvanklik gedink het is hoender!). Ja, dis waar begrafnisbroodjies sy naam gekry het. Die slinksste dog lekkerste happies – genoeg om gemoedere hemelhoog te strek. Werklik wonderwerklik! Die oorspronklike trooskos! Slinks? Dis klein en jy dink jy eet min, maar in hierdie stadium vergryp jy jou aan al wat seker is en dis presies hierdie … begrafnisbroodjies. Dit het iets om die lyf (koolhidrate oukei!), geloofwaardigheid (want jy kan sien wat tussen die lyne lê), en jy voel nie skuldig om jouself te vergryp nie (want dis klein) al eindig jy op om ʼn hele brood, dalk twee, te eet.

Almal ken begrafnisbroodjies – dit is smaaklik, tydig en gepas. Maar dit het ontstaan by iets wat minder tydig, smaaklik en gepas is. ʼn Begrafnisbroodjie raak ʼn ontvlugting, ongeag die aard van die funksie. Of jy geselskap probeer ontduik by ʼn sosiale funksie, of konfrontasie met die “regte ding om te sê” by ʼn begrafnis. In welke gevalle red die begrafnisbroodjie jou, want jy kan niks sê nie. Ja, omdat jy nie weet wat nie, maar ook omdat jou mond vol begrafnisbroodjies is!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elinette ·

Dis vir my so onvanpas – die verskriklike ge-“paartie” ná die ter-aardebestelling. Ek weet hoe het dit gegaan met my Pa se dood en begrafnis – mense wat ons van g’n kant af geken het nie, het opgedaag vir die begrafnis en boeta, was daar GEËET na die ter-aardebestelling! Dit was gebraaide hoender, frikkadelle, “buffalo wings”, “cocktail buns”, slaaie, reënboogtoebroodjies, koek en tert, tee, koffie … Daarom sê ek – met mý dood – is daar geen begrafnis nie. Draai my toe in ‘n doek of sit my in die goedkoopste dennehout kis en brand my uit. FINISH en KLAAR.

Anoniem ·

Asook die plundering van besittings deur familielede, persoonlike besittings wat kwansuis deur die afgestorwene aan hulle belowe is ens ens ens.

VaalDonkie ·

Manie, my ouma se neef het by ons gebly. Sy eie kinders wou niks met hom te doen he nie. nie eers gebel as hy verjaar nie. Ek dink nie ek het ooit eers een van hulle ontmoet in al die jare wat hy by ons gebly het nie. Hy het ‘n redelike polis gehad en gese hy gaan dit vir my los. En sy konsertina omdat ek dit so geniet het as hy dit speel. Die dag na sy dood is daai konsertina weg, en dis nou omtrent al 25 jaar later en ek begin te dink ek kry ook nie daai geldjies nie.

Anoniem ·

Tragies, maar dis hoe sommige familielede is. Elke familie het “daardie” familielede.

VaalDonkie ·

Kyk, ek doen op die stadium van my lewe finansieel goed genoeg dat ek nie worry oor die geld nie. Ek wou daai konsertina gehad het. Want ek kannie dink hulle het enigiets daarmee gedoen behalwe gesmous nie.

Juffrou ·

Doen jouself ń guns; gaan kyk gerus na die kis pryse. Dennehoutkis is vêr van die goedkoopste! Dié met die tou handvatsels? Ek weet. Ek’s nou net daardeur! BAIE duurder as daardie blink plastiese kiste!

VaalDonkie ·

My familie het my eers ‘n paar weke na my pa se dood vir my laat weet. Want dis hoe hulle is. Hulle wou niks met my te doen he nie want my ma was effe vet. ja, daaroor. Dis hoe hulle was. En seker nog steeds is. Ek sal nie weet nie want dit was ook die laaste keer wat ek met een van hulle gepraat het. Want nou is ons mos eintlik nie meer deel van daardie kant van die familie nie.

Maar anyway, wat ek eintlik wil se is dat ek nie eens die kans gehad het om te paartie op my pa se begrafnis nie. Dis vir my baie ongeskik. Rou ten minste vir ‘n paar dae en DAN gooi jy ‘n paartie.

Leana ·

Ons het met my pa se begrafnis na die tyd by die kerk koffie/tee en toebroodjies gehad vir almal wat daar was, maar na die tyd is ons en sy naaste vriende en familie na ons huistoe en daar het ons gebraai en net lekker gesels want my pa was ‘n baie sosiale mens en dis hoe hy gegroet wou word. As ek die dag dood gaan het ek gesê verbrand my en gooi my sommer net daar in die asblik.

AH ·

Soos met baie goed in die lewe is die afskeid van ‘n geliefde ook ‘n baie teer en persoonlike saak. Die afgelope jaar het ek drie sulke gedenkdienste vir mense na aan my bygewoon. Elkeen was totaal en al verskillend van die ander en het tog so goed gepas by elkeen van die drie persoonlikhede van wie ons afskeid geneem het. My Pa was die eerste, natuurlike oorsake in sy slaap op ‘n hoë ouderdom was hoe hy gegaan het. Net die kinders en kleinkinders het saam gekuier oor sop en brood en dinge van Oupa onthou en gelag en gehuil en weer gelag! My Pa sou dit so geniet het as hy daar sou wees want hy was so lief vir sy familie en ons het altyd so lekker saam gekuier en geëet as familie met hom wat altyd die staaltjies vertel het wat almal laat lag of huil het …..Die tweede diens was ‘n jong man in die fleur van sy lewe wat vermoor is…..Tog het sy familie besluit om van hom afskeid te neem op ‘n gesellige manier met ‘n klomp jong mense wat sy lewe gevier het met lekker potjiekos..

Fae Fubar ·

Kos is tradisioneel ná ‘n begrafnis bedien vir diegene wat ver moes reis om die begrafnis by te woon. Dit is veronderstel om families die geleentheid te bied om gesellig saam te verkeer onder stroewe omstandighede. Maar ja, daar is altyd ‘n oom of tannie wat met Tupperware nader staan om ‘n padkossie in te pak.

Janine ·

Mens is rou en seer na die verlies van ‘n geliefde. Wie dink aan kos in sulke tye? Hoe kry jy daai brood afgesluk? Dis ‘n nare gewoonte wat my erg grief. :/

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.