Die ‘ek-is-amper-30’-sindroom

30-ouderomEk voel deesdae meer my ouderdom en my ouderdom vóél ook meer. Ek het altyd gesê ek voel nog soos ʼn kind, en my vriendinne is nog kinders wat kinders kry. En dan word jy een oggend wakker en om die een of ander onverklaarbare rede sê jy vir jouself “reg, jy is nou beslis amper 30”.

Ek vermoed die keerpunt kom gouer, en meer onverwags, vir meer mense as wat bereid is om dit te erken. Die keerpunt kom ook vir baie mense verskillend. Ek dink ek het myne bereik toe ek eenkeer, kort ná my 27ste verjaarsdag, siekverlof moes insit op ʼn Maandagoggend, omdat ek reeds die vorige Vrydagaand te veel shooters gemeng het met my “Vrede & Lust Red Lady” (want soos jy ouer word, word jou poison ook mos fancier).

Daar is egter ʼn hele paar duidelike tekens van die “ek-is-amper-30″-sindroom.

Skielik is jy ʼn oggendmens. Voor 29 was dit nie buitengewoon om op ʼn weeksaand tot ná 02:00 in die vroegoggend na televisiereekse te lê en kyk en weer 06:00 so vars soos ʼn lentebriesie op te staan om te gaan werk nie. Of om eers 20:00 saam met vriende te gaan uiteet en ná 01:00 in die bed te kom, nadat almal ná ete die naaste kroeg wou besoek vir ʼn “loopdop” net om dan drie tequilas en R50 se kleingeld in die jukebox later eers terug kar toe te strompel. Ná 29 bly jy sommer die hele naweek in die bed as jy jouself op ʼn weeksaand ʼn bietjie vergryp en wangedra het.

Jy sit ook jou foon af en hoop mense vergeet jy het gesê jy sal na hulle hond se verjaarsdagpartytjie toe gaan, want jy het mos nou al weer daarvoor óók ja gesê. Voor 29 sê ʼn mens vir alles ja. Kombuistees, babatees, hennepartytjies, troues, die opening van ʼn koevert, noem dit en jy is daar, aangetrek vir die tema en elke ding. Ná 29 is dit moeilik om die gewoonte van ja-sê af te leer, so jy begin verskonings uitdink, of ander goed reël sodat jy net nie die geleentheid hoef by te woon nie. “Jammer, ek kan nie meer na die kombuistee toe kom nie,” SMS jy een dag voor die RSVP-datum aan die gasvrou, “ek het ongelukkig reeds vir my ʼn chemiese gesigbehandeling bespreek.” Jy moet weet jy wil regtig nie daar wees as jy eerder geld uithaal om die eerste laag van jou gesig te laat afbrand met suur nie. Jy kry aaklige terugflitse van verlede Woensdagaand wanneer jy tik: “Geniet dit baie, en drink sommer ʼn tequila vir my onthalwe ook.” Jy het in elk geval jou skoolvriendinne maande laas gesien, en ná Chantelle en Pieter geskei is, is niks in elk geval meer dieselfde nie.

Ja. Jou getroude vriende skei. Voor 29 was die grootste deel van jou vriendekring nog ongetroud. Nou sien jy elke ses maande op Facebook nog ʼn jong huwelik het gesneuwel. ʼn Mens kry ʼn paar plooie by as jou vriende skei. Dit voel dan kompleet asof ons kinders is wat huis-huis speel.

Jy begin ook jou klere by Woolworths koop, want jy is nou in ʼn modekrisis gedompel. Jou ouderdom tel skielik teen jou as jy Mr. Price toe gaan. Geen regdenkende amper-30-jarige vrou kan mos nou met ʼn crop top rondloop wat in groot goue letters voorop iets sê soos “#rebel in the sun” nie. Dit maak nie net die bankbalans seer nie, maar ook jou ego, want jy kan nie onthou wanneer het klere met pynappels met gesiggies op te simpel geraak vir jou nie. Jou kredietkaart kan ook nie eintlik meer die druk van al die aankope by Spree hanteer nie, maar voor jy kan sê “add to favourites” is jou klerekaste weer voller en jou koskaste leër. Ook maar goed so, want dit maak die banting makliker.

Dis ook iets wat jy begin doen. Jy begin stysel en suiker uitsny en verskree mense by die werk uit hongerte. Jy en jou vriendinne WhatsApp foto’s van oliebolle vir mekaar en huil by Sanet se kombuistee oor die gewig wat julle ná jul eie troues aangesit het. “Ek het maande laas brood geëet,” sê Skinny Marinky in die hoek. “Ek hou ook niks in my huis aan wat suiker bevat nie,” sê sy en die trane lê vlak. Sy kyk die vleispasteitjie uit jou bord uit. Jy het besluit, te hel daarmee, jou vriendin trou net een keer, en as jy ʼn vleispasteitjie moet eet om haar loodsing tot binne-in die getroude lewe te vier, dan is dit wat jy gaan doen!

Dit is die lekkerte van die “ek-is-amper-30”-sindroom. Jy neem jou eie besluite. As jy besluit jy wil gaan, dan gaan jy. As jy besluit jy wil trou, dan doen jy dit en so ook skei. As jy besluit jy bestee elke sent wat jy het aan ʼn paar skoene oor die internet, dan dra jy die skoene met trots, want jý het dit gekoop met jou eie grootmens-geld. As jy besluit jy druk ʼn hele pak Eet Sum Mor-koekies in jou keel af voor aandete, dan is dit jou eie saak as jy oor ʼn week nie in jou duur Woolies-broek pas nie.

Op amper-30 ervaar ek ʼn soort gemaklikheid met myself wat ek nie vroeër gehad het nie. Ek hoef nie meer my gesig soos ʼn Plascon-advertensie te verf voor ek ʼn brood by die Spar gaan koop nie. Ek hoef nie meer my keuses aan iemand te verduidelik nie en dit is makliker om te vra vir iets wat ek nodig het en nee dankie te sê vir iets wat ek nie nodig het nie.

Ons sal sien hoe gaan dit as ek uiteindelik die groot drie-nul haal, maar vir nou geniet ek die reis op pad soontoe en glimlag breed met my stywe, chemies-behandelde gesig as my vriendinne foto’s van hulle kinders aanstuur. Die feit is, ons maak nou kinders en is nie meer kinders nie, en dit is oukei. Dit is regtig oukei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

zahn ·

Sê ek ook. Ek is al oor 50, en het nou die dag eers agter gekom daai simptome is al ‘n rukkie by my. Seker te besig.

Jaco ·

Nee wat, as jy fiks, gesond is en reg eet kan jy nog lekker laat kuier saam met vriende….Ek is 35 en kuier tot 2h of 3h soggens,dit gebeur nog gereeld! :-)

Reinhardt ·

Ek ervaar dit amper presies so. Word nou 28 en ek geniet nog bier en wyn, maar drink niks hardehout nie. My grootste verandering is my fiksheid, ek was lui en het niks gedoen behalwe voor die rekenaar sit en games speel nie. Nou ry ek daagliks fiets omdat ek wil, nie omdat ek voel ek moet nie.

Theresa ·

Goed geskryf! Ek vermoed mens gaan deur sulke gevoelens en gedagtes enige dag vanaf die 25ste verjaarsdag. Met ‘n verskeidenheid goedjies wat bykom – dankie vir lekker glimlag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.