Die presiese Duitser

Argieffoto (Foto: radekkulupa/Pixabay)

Ek het al baie gewonder oor die waarheid in Prediker 7 waar die wyse man skryf mens moenie te goed wees nie. Of soos oom Totius dit vertaal het: “te regverdig”. Wat beteken dit nou eintlik om “te” goed of “te” regverdig te wees? Maar laasjaar het ek dit so bietjie beter verstaan.

Een jaar kom ek doer diep in Kaokoland met ʼn filmbedryfie. Ons slaap die aand oor by Katetete-se-kraal so ʼn paar ure se gesukkel weswaarts van Okangwati. Daar hoor ek van hulle gestoei met die sonpomp want die eekhorings het skynbaar die elektriese drade se plastiese omhulsels afgevreet en toe waai net vonke. Nou sit die hele lot sonder water.

Klink vir my so ietwat soos ʼn liegery maar die volgende oggend sien ek dit my eie twee oge. Die goedjies is skynbaar so uitgehonger vir iets rooi of swart dat hulle sommer die plastiek vreet! Die sonpanele sit seker so 5 meter hoog op ʼn netjiese hoogsit-raam en die wilde eekhorings van die Kaokoveld baljaar teen die stellasie op en af en vat elke nou en dan ʼn happie aan die sappige oorblywende elektriese drade.

Otjiwarongo sit ver en die Duitser wat die sisteem gebou het daar by Katetete is duur so ek bied ewe vroom aan om die stelsel te kom regmaak by ʼn latere geleentheid.

So daag die geleentheid op ná ʼn paar maande en ek, Jacob Schoeman en Eric van Zyl vat die lang pad na Okangwati. Sien so uit na die heerlike tyd saam met die “broers” doer diep in die Agterveld. Ons is gepak met alles en nog wat kompleet met ʼn ekstra lang leer bo-op Jacob se Nissan Hardbody vasgemaak en dagbreek ry ons uit Outjo.

Die pad is ver en die manne is rustig so sononder die aand maak ons kamp daar by Katetete-se-kraal. Ewe salig geniet ons die afsondering en maak stywepap saam met lekker braaiwors. Tot laat in die aand kuier ons “broers” daar om die kampvuur en vol vree gaan slaap ek met die blye vooruitsig om vroegoggend die ou paar sonpaneeltjies te herbedraad om dan verder die saligheid van Kaokoland te kan inslurp. Iewers in die na-nag kom Katetete se dogters daar aan met ʼn jong boerbok wat hulle spesiaal vir ons geslag het. Ons hang die bok daar aan ʼn boom op en slaap rustig verder.

Dit was nog nie behoorlik lig nie toe klim ek daai lang leer en Eric speel handlanger. Probeer ewe flink die klein plastiese boksie onder die eerste sonpaneel oopskroef. Dit gaat nog maar die dekseltjie sit vir dood vas. Ná seker ʼn halfuur se gesukkel kry ek die ding daar af gebeur en toe vind ek dit – die geknoei van die oordrewe goeie werk van die presiese Duitser. Hy het sowaar al daai boksies vol gom gaan giet en die goed is kliphard en bedek die punte waar ek die nuwe drade moet vasmaak heeltemal.

Mens kan g’n stuk met ʼn hamer daar slaat nie, so die enigste uitweg is met ʼn elektriese soldeeryster en om die gom daar uit te smelt so bietjie vir bietjie. Dit word ʼn urelange nagmerrie – of miskien liewer ʼn daghings want die nag se saligheid was klaar verby.

My kuite raak later aan’t bewe van stilstaan bo-op die leer en my arms pyn ʼn soort van pyn hier bokant my kop. Stukkie vir stukkie smelt ek man-alleen daai gom daar uit want Jacob en Eric is sulke kort manne en net ek kan rek om daai boksie doer onder die sonpanele te kan bykom. Sononder daai aand klim ek uiteindelik daar af. Ek het toe nog steeds my vorige nag se slaapklere aan en alles pyn wat kan pyn; vergeet van tande wat geborsel is en gesig wat gewas is. Maar die sonpomp werk en die drade is mooi geberg binne ʼn ysterpyp so die eekhorings sal behoorlik moet knaag. Ek glo die pomp loop nou-nog.

Daai nag toe ons terugry na Outjo, sit dink ek aan die wyse woorde: “Moenie te goed wees nie.” Daai presiese Duitser het die job te goed gedoen maar hy het vergeet van die hongerpyne van die wilde eekhorings van die Agterveld. Ek dink somtyds ons ons só goed dat ons die mense om ons eintlik skroei met ons helder regverdigheid; of miskien nog beter, hulle verbrand met ons goedgeit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

IK ·

Mens kan duidelik aanvoel dat dit ‘n ware gebeurtenis is want daardie pyne het ook ek al ondervind!
Dit neem my egter ook na die loodgieterwerk met gegalvaniseerde pyp by nuwe geboue waar die pypwerk doodeenvoudig aan-/inmekaar geskroef word sonder lasstukke wanneer gedeeltes eendag vervang moet word. Dis dan waar die hartseer begin met die afsaag- en terugsit van die pyp.
Gewoonlik word motorvoertuie ook so aanmekaar gesit dat die losmaak van klampe ens. op onmoontlike plekke sit met die bakwerk of ander komponente in die pad van die losmaakproses. Dis dan waar die praat in vreemde tale wil oorneem.

Stephan de S ·

Dat n mens mens kan verbrand met jou goedgeit en regverdigheid is n geweldige waarheid. Hoeveel verhoudings word hierdeur vernietig. Baie dankie Koos vir die wysheid

JAN ·

Baie dankie Koos!
Net soos “ontsettend / te eerlik” wat nie kan bestaan nie. As iemand ‘ontsettend’ is dan is hy /sy ontsettend skelm

Eish ·

Soos altyd, deurleefde vertelling. Dankie Koos, vir die vreugde wat dit bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.