Entrepreneurskap: Wins eerste

wins-finansies

Foto: Nattanan23/Pixabay.com

Deur Willem Hamman

Meeste kleinsakemanne ken die gevoel: “As ek net nog X rand se produk kan verkoop, gaan ek wins maak. Dan kan ek myself uiteindelik betaal wat ek werd is!” Die probleem met hierdie idee is dat X rand se omset, Z rand se uitgawes teweeg bring, en daardie skynsel van hoop op ordentlike wins maak verdwyn weer agter die wolke soos wat jou uitgawes groei.

Die Skot Duncan Bannatyne (van Dragon’s Den-faam) is lief daarvoor om te sê, “Turnover is vanity, profit is sanity” en dit som die probleem met hierdie idee mooi op. Min tot geen entrepreneurs in Suid-Afrika het die tipe geld agter hulle, of die nodige geduld van hulle beleggers, om hulself winsgewend te laat groei nie. Dit gebeur net in Amerika, en daar boemerang dit ook gereeld, indien die beleggers ophou geld inpomp.

Tweedens, soos meeste besigheidsmense wat nie ʼn geoktrooieerde rekenmeester is nie, is kontantvloeibestuur vir my ook maar moeilik. Hoeveel van ons lees gereeld en/of verstaan ooit ʼn kontantvloeistaat? Die maklikste (en ek dink die meeste kleinsakemanne doen dit) manier is om na jou bankstaat te kyk. Ons hou die balans dop en ontwikkel dan ʼn gevoel van wanneer ons geld het om te spandeer of nie. Die probleem is, ons vergeet soms om te beplan vir groot uitgawes, of ons neem nie seisoenaliteit in ag nie… En as die kontant op is, dan is die vet in die vuur.

“Profit First” – ʼn stelsel uitgedink en bekendgemaak deur Mike Michalowicz – probeer hierdie twee probleme oorkom. Dit word gedoen deur die bekende boekhousommetjie van inkomste minus uitgawes is gelyk aan wins op sy kop te draai. Michalowicz vat die som en verander dit na inkomste minus wins is gelyk aan uitgawes. Vir hom is dit van uiterste belang dat ʼn entrepreneur van dag een af wins maak, hoe klein ook al – deur die ordentlike bestuur van sy kontantvloei.

Hy trek sy inspirasie van sy ma wat altyd koeverte gehad het waarin sy haar maandelikse inkomste opgedeel het. Een vir spaargeld, een vir kruideniersware, een vir uiteet en vermaak, ensovoorts. Sy het dan net die geld gebruik in daardie koeverte, en as die geld klaar is, is dit klaar, en moes hulle maar daarsonder klaarkom. Sy ma het hoofsaaklik dié metode gebruik omdat haar inkomste gefluktueer het (sy het skofte as ʼn kelner gewerk) en dit het haar gehelp om haar kontantvloei te bestuur.

Sy stelsel is eintlik maklik. Maak aparte bankrekeninge oop vir jou behoeftes. Op die mees eenvoudige weergawe van sy stelsel is daar ʼn inkomste-, wins-, eienaarsvergoeding-, belasting- en operasionele uitgawes-rekeninge. Jy vat eenvoudig die geld wat inkom in die inkomsterekening en verdeel dit tweeweekliks (of weekliks as jy wil) tussen die ander rekeninge. Die verdeling vind plaas volgens vooraf uitgewerkte persentasies, wat jy mettertyd aanpas om jou wins te vergroot en jou uitgawes minder te maak, totdat jy by jou doelpersentasies uitkom.

Ek het die stelsel so ʼn maand terug ingespan (met ʼn paar wysigings aan sy standaard stelsel) om my met beplanning en kontantvloei te help, en ek moet sê dit gee my baie gemoedsrus sover om te weet ek maak genoeg voorsiening vir BTW en inkomstebelasting.

Of ek meer wins gaan maak? Daaroor is ek nog nie seker nie. Soos Michalowicz sê, dit is ʼn geleidelike stelsel waar jy jou besigheid geleidelik begin aanpas om oor die weg te kom met minder uitgawes en meer wins. Wat ek wel kan sê, is dat ek baie meer bewus is van my uitgawes, veral daardie klein jakkalsies, oor daar net ʼn sekere hoeveelheid geld beskikbaar is in die uitgawebankrekening. En as dit op is, is dit op! En dan moet ʼn paar rekeninge maar wag totdat nuwe kontant inkom. Die stres daarvan maak dat ek nou baie fyner aan my uitgawes beplan!

Dus, vir diegene wat soos ek ʼn maklike manier soek om kontantvloei te bestuur, lees gerus Profit First deur Michalowicz, en laat weet my wat jy dink!

  • Willem Hamman is ’n jong entrepreneur wat passievol is oor kleinsake.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae