Hoe verwerk jy ooit die verlies?

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Deur Hennie Human en Johan Kloppers

In die middel van die inperkingstyd (vlak 4) kry ek ’n oproep van ’n vrou uit Portugal. Sy is in trane. Haar pa is ná ’n kort siekbed oorlede. Die ergste is dat sy nie by haar pa kon wees toe hy gesterf het nie. Dit was in daardie stadium onmoontlik om ’n vlug na Suid-Afrika te kry.

Tussen haar trane deur beskryf sy die vreemde gevoel van alleenheid, leegheid en hartseer wat sy met sy afsterwe ervaar. Hoe sy hom mis en elke Sondagaand tevergeefs hoop dat hy haar sal bel en sy net weer een keer sy stem sal hoor.

Vir die eerste keer twyfel sy of hul besluit om Portugal toe te gaan, die regte een was. As hulle in Suid-Afrika gebly het, kon sy by haar pa se begrafnis gewees het. Sy sou daar gewees het vir hom. Nou sit sy met ’n skuldgevoel dat sy hom in die steek gelaat het.

Alles voel vir haar so onwerklik en in haar wildste drome kon sy nie voorsien dat haar aardse verhouding met haar pa só tot ’n einde sou kom nie. Party dae ervaar sy ’n swaarmoedigheid en wil dan net in die bed bly.

Hierdie en soortgelyke belewenisse ervaar talle families en vriende wat nie by die dood van ’n geliefde kon wees nie: hetsy omdat hulle oorsee woon en afstande ’n probleem is, of omdat Covid-19-maatreëls hul bewegings beperk.

Maar dit moet ons nie daarvan weerhou om die verlies van ’n geliefde sinvol te verwerk nie.

Elke kultuurgroep neem op sy eie manier afskeid van geliefdes. Dit help met die verwerking van die verlies wat ons ervaar, en met ontlading van die spanning en trauma wat die dood bring.

Ons bespreek kortliks twee tradisionele gebruike wat klaarblyklik belangrik is om te volg, maar mense ontstel as hulle dit nie (kan) doen nie:

(1) ’n Bekende gebruik waaraan groot waarde geheg word, is om die naasbestaandes te roep sodat hulle die sterwende se laaste oomblikke saam met hom of haar kan deurbring. Wanneer ons by die sterfbed van ’n geliefde staan, kry ons ’n laaste geleentheid om versoening, waardering en liefde te betuig, mededelings te maak en te groet.

(2) Die ander gebruik of ritueel is die begrafnis. By die begrafnisdiens word die lewe en gedagtenis van die geliefde in herinnering geroep. Vir daardie uur staan ons stil by die pyn wat ons ervaar, maar ook by die mooi en waardigheid van ons geliefde en vind ons troos in God, die Alfa en Omega (die begin en einde) van die lewe en die hiernamaals. Die saamwees met familie en vriende versterk die bande van verbondenheid aan mekaar.

Hoe kan ek van my geliefde afskeid neem en sonder om skuldig te voel, hulde bring aan die spesiale persoon wat hy of sy in my lewe was as ek nie by die sterfbed of begrafnis was nie?

Sê totsiens aan jou geliefde. Dit is ’n persoonlike gesprek met jou geliefde in die vorm van ’n brief waarin jy jou waardering, versoening, vergifnis en liefde, al jou persoonlike mededelings, neerpen. Groet jou geliefde en vertel vir hom of haar alles wat jy sou gesê het as jy daar was.

Party mense neem die skilderkwas op, ander span die digkuns en musiek in om totsiens te sê. Dit is ’n emosionele ontlading wat die genesingsproses aan die gang sit.

Rig gedenktekens op vir jou geliefde. Dit is aktiwiteite wat ons aan ons geliefde herinner en wat ons op sekere geleenthede herhaal. Steek byvoorbeeld vir die geliefde ’n kers aan op sy of haar verjaarsdag, of maak ’n plakboek van al jou mooi herinneringe saam met hom of haar. Dit ondersteun die proses om te genees van die pyn en verlies.

Vertel jou storie van verlies, pyn, skuldgevoelens, verwyte en oorwinning deur God se genade aan jou vriende en mense wat vir jou omgee.

Wees geduldig en sag met jouself. Genesing is ’n proses. Daar sal tye kom wanneer jy voel dat die verlange en verlies te veel is en dat jy hulp nodig het. Gaan spreek dan ’n berader, maatskaplike werker, sielkundige of jou dominee om jou te help op die pad van genesing.

  • Hennie Human en Johan Kloppers is albei AfriForum-traumaberaders. Vir enige navrae oor die AfriForum Trauma-ondersteuningseenheid of as iemand van die eenheid wil gebruikmaak, kontak die eenheid deur 012 880 1954 of die noodnommer 064 870 8312 te skakel of deur ’n e-pos te stuur na [email protected].
  • Hierdie artikel is met die vergunning van Wêreldwyd geplaas. Lees die oorspronklike artikel hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.