Hoor jy die magtige dreuning?

Foto bloot ter illustrasie van die Pilditch-stadion. (Foto: Reint Dykema)

Het jy die magtige dreuning gehoor? Die pragtige dreuning… oor die atletiekveld en om die baan kom dit wyd versprei… die lied van ons jeug se ontwaking, wat harte laat sidder en beef.

Van Mpumalanga, Noord-Wes en die Hoëveld, ruis dawerend uit die akkoorde: Dit is die lied van Jong Suid-Afrika.

Vanmiddag is daar op my dogter se gr. 9-ouergroepie ʼn video gestuur wat my tot hoendervleis, trots en selfs ʼn bietjie heimwee gedryf het.

Dit was nie ʼn hartsnaar-oomblik van oorweldigende emosie wat daartoe aanleiding gegee het nie. Nee, dit was die eenvoudige spontane pret op die paviljoene van Pilditch tydens die interhoër.

Die oomblik: almal wat daar was, maar veral die kinders van elke liewe skool teenwoordig, het met die grootste entoesiasme saamgesing terwyl Niel Diamond se “Sweet Caroline” deur die luidsprekers gebars het.

Dit was ʼn oomblik om te beleef, ʼn geskenk vanaf elke skool en elke ouer vir sy of haar kind; om deel te wees van soveel uitnemendheid, soveel gees en soveel spontaneïteit.

Dit sê iets van ons kultuur, maar dit sê veral iets van die kultuur van ons skole. En dit is wat my oombliklik bygeval het – óns skole. Óns as ouers wat met soveel toewyding betrokke is by die skole wat ons vir ons kinders kies; ons skoolfonds wat ons verteenwoordigers op ons beheerliggame aanwend om vir ons kinders die beste fasiliteite, opvoeding en afrigting te kan bied wat lei na soveel geleenthede waaruit hulle kan kies.

Dit is opmerklik dat die skole wat só uitnemend presteer die skole is waarin die ouer, bo alles, hulle tyd belê. Dit is die skole waar ure se moeite deur die gemeenskap sy neerslag vind. Dit is die skole waar die staat se betrokkenheid en magte tot die minimum beperk word en staatsinmenging deurentyd so effektief moontlik afgeweer word.

Dit is die skole waar ouers atletiekbyeenkomste bywoon, help om kinders aan te ry na kooroptredes en hulle kele hees aanmoedig en hande voos klap. Dit is die skole waar ons mielieterte bak of groentestokkies ryg vir die wildsfees, of video’s aanstuur wanneer al die mammas en pappas nie op daardie gegewe tydstip teenwoordig kan wees nie. Dit is die skole waar ons deel, waar ons ondersteun en waar ons met deernis die stene lê vir die volgende generasie.

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Daardie oomblik vanmiddag het my diep geraak en my so ʼn bietjie van voor af gemotiveer. Hierdie saak van ons skole, die gemeenskap se skole, die skole wat ons eie skole was, ons kinders se skole is en die skole gaan wees waar ons kleinkinders moet floreer; hierdie skole staan voor een van die grootste uitdagings nóg wat dit die afgelope paar dekades moes trotseer.

Ek as ouer, as liefhebber van die onderwys en voorstander van ʼn stelsel waar ouers skole beheer en bestuur deur middel van die beheerliggaam, wil nie sien hoe ʼn minister, ʼn LUR, óf premier my gemeenskap en my kind se skool van sy identiteit stroop nie.

Ek wil die plek waar my kind moet leer, presteer en kind wees, beskerm. Ek wil die staat en sy politiekery daar uithou en ek wil saam met elke ander ouer en lid van ons skool se gemeenskap voortbou op die fondasie wat steeds hier staan.

Ek sal strate toe gaan en optog hou as ek moet. Ek sal my op elke moontlike wyse denkbaar verset. Ek sal kommentaar indien en myself uitspreek. Ek sal terugdruk en my stem laat hoor. Ek sal ordelik en wetlik, maar ferm en onverbiddelik hierdie stryd aanhou stry.

Saam sal ons hierdie ding stuit. Saam sal ons ons kinders en hulle skole beskerm. Saam sal ons verseker dat ons jong stemme aanhou dreun en uitbundig aan die lewe deelneem; ʼn lewe wat vry is van afdwingbare magte, veilig is vir ontwikkeling en prestasies, en voorspoedig is vir elkeen wat in oorgawe daaraan deelneem.

Oor die atletiekveld en om die baan; verby die hokkieboks en bo-oor die pale, vervleg in debatte, optredes en in blou vasgepen op elke lyntjie; van Kaapland tot doer bo in die Noorde… Dít is die lied van Jong Suid-Afrika.

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek bewonder jou ywer. Maar Afrikaners is minder as 5% van die bevolking. Eens rustige wit middelklas buurte word nou oorgeneem deur swart intrekkers. Die profiel van openbare skole daar is nou aan’t verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.