In Pinkstertyd tekens van lig in ʼn donker wêreld

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

Ek ry Maandagaand 18:40 kerk toe. Om 19:00 begin die Pinksterdiens. Dit is koud in die Karoo. Maandagoggend was die eerste oggend met ʼn minimum temperatuur onder vriespunt. Die Karoovlaktes was stil geryp soos wat dit op ʼn goeie wintersoggend moet wees.

Op pad kerk toe is dit donker. Beurtkrag het om 18:00 ingeskop. Net by huise met sonkrag of ʼn kragopwekker is dit nie donker nie. Ek ry met ʼn geleende bakkie. My motor het verlede week ʼn baie lelike slaggat, die soveelste in slegs enkele dae, getref en die regter voorste spoorstangkop (tie rod) het morsaf gebreek. Nou wag die man wat dit moet herstel vir onderdele wat hopelik binne ʼn dag of twee deur ʼn koerier afgelewer sal word.

By die kerk is dit donker, en natuurlik ook koud. ʼn Man met ʼn kopliggie, ʼn mede-diaken, is besig om agter die kerkgebou die gemeente se kragopwekker met brandstof te vul. Mense sit in hulle motors en wag. Na die tweede of derde probeerslag vat die opwekker en die ligte kan aangeskakel word. Die orrelis begin speel. ʼn Stroompie bittereinders kom vanaf die parkeerarea die yskoue kerkgebou binnegestap. Vanaand word die sop in die sysaal se kombuis met gas warm gehou vir die kuier na die diens.

Ek dink terug aan my skooldae byna drie dekades gelede in die Suid-Kaap. Pinksterdienste met al 120 van ons koshuiskinders wat elke aand af stap kerk toe vir die diens. Boere wat twintig, selfs dertig kilometer buite die dorp boer wat getrou inry dorp toe vir die diens. Geen vereniging se vergadering of besigheid is dringend genoeg om nie dié diens by te woon nie. Geen televisiesepie was te belangrik, kaggel te aanloklik of gemaklike uitsending van die diens, wat sommer so op die selfoon dopgehou kan word terwyl ons kosmaak, was beskikbaar nie.

Ek worstel want ek skryf aan ʼn hoofstuk vir ʼn boek en ek lees al heeldag oor kultuurrelativisme en hoe die mense se behoeftes, mense se wil en die wêreld se regverdiging vir wat ons as Christene glo verkeerd, sleg en immoreel is, nou die nuwe normaal word. Is die nuwe verdraagsaamheid-doktrine van ʼn mens-gesentreerde wêreld besig om van ons, wat in die waarheid van God se woord glo, uitgeworpenes en verkramptes te maak?

Die kerk is helder opgelig. Die orrelspel is pragtig. Die deure en vensters is toe en al is seker net twintig persent van die gemeentelede teenwoordig, is daar ʼn warmte. Die kanselkleed sê ons moet ʼn lig in duisternis wees. Die dominee preek oor dankbaarheid.

Ek het vanaand met ʼn vriend se bakkie kerk toe gery. Anders sou ek moes stap. Vir sulke vriende kan ʼn mens net dankbaar wees. ʼn Diaken, die tipe wat daar is as tafels en stoele gelaai moet word of ʼn fondsinsamelingsgeleentheid georganiseer moet word, het inisiatief geneem om te sorg dat die kragopwekker werk. Vroue het sop en broodjies gemaak vir ʼn heerlike kuier na die diens. Ons dominee breek Galasiërs 5 vir ons oop. As gelowige weet jy waarom die vrugte van die gees in stryd staan met die behoeftes van die vlees.

Ek hunker terug na kinderdae met minder materialisme, minder individualisme, minder wêreldse invloede, minder selfsug en minder vyandskap, twis, jaloesie, afguns en alles wat in Galasiërs beskryf word. ʼn Tyd toe tagtig persent van die gemeente Pinksterdienste bygewoon het en twintig persent tuis gebly het. Hierdie week bly tagtig persent tuis en is daar dalk twintig persent in die kerk. Beteken dit dat ek eng, outyds of dalk selfs verkramp is?

Pinkster is ʼn dankbaarheidstyd. Vyftig dae na Jesus se opstanding het hy die Heilige Gees gestuur om Christene op aarde met nuwe krag te beklee. Daar is in ʼn wêreld vol keuses, ʼn wêreld vol regte, verdraagsaamheidseise en kultuurrelativisme net ʼn ware geloof in God-drie-enig wat die kerk in stand hou. In my kinderdae was dit die norm in ons gemeenskap om Pinksterdienste by te woon. Vandag gaan nog net dié wat ʼn ware behoefte het om in dankbaarheid die uitstorting van die Heilige Gees te vier.

Al is die land se paaie vol slaggate en tref beurtkrag ons op ʼn yskoue aand, is daar hoop. Ons mag nie op ons land, ons mense, ons roeping hier opgee nie. Al is daar soveel onsekerheid in ʼn wêreld waar oorlog, terreur, ekonomiese probleme, die vernietiging van die natuur, morele verval en uitsigloosheid ʼn toekoms van onsekerheid veronderstel, is daar altyd lig. Want Pinkster is nie ʼn donker tyd nie. Dit is ʼn fees van lig in ʼn donker wêreld. Daarom hoop ek dat meer mense sal opstaan voor die televisie of kaggel of die selfoonuitsending van ʼn kerkdiens sal afskakel en, gewapen met ʼn jas en serp, môreaand in dankbaarheid kom saam bid – nie omdat ons outyds of verkramp wil wees nie, maar omdat ons weet dat die sleutel vir die wêreld se probleme oor die eeue nog altyd in God se woord was en altyd daarin sal wees.

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nettie ·

Dankie, Mnr Kleynhans. Pragtige brief, noodsaaklik, en lekker om hierdie kant van u te leer ken. Dit maak soveel verlange en heimwee in my wakker, oor ons kinderdae. Soveel makliker gewees. Dit was die norm om ‘n Christen te wees. Ons moet vasklou, dinge gaan net al erger raak, en mekaar bly versterk. Briewe soos hierdie is soos water vir die siel. Dankie. En sterkte met die kar se herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.