Lemoene, koue storte en skaafplekke: Dís wat rugby so lekker gemaak het

Argieffoto (Foto: The Beijinger)

Toe ek vroeër in die week ʼn pakkie lemoene (saam met ander noodsaaklike kruideniersware) gekoop het en een van hulle in kwarte opgesny het, het ek teruggedink aan rustyd.

Ja, die dae toe rustyd slegs ʼn minuut geduur het en as jy gelukkig was, jy darem ʼn tweede een kon verorber en suig.

Soms was die lemoene stroopsoet, soms erg suur, want dit het maar net van die skool, klub of provinsie afgehang en hoe duur die sakkie Outspan-lemoene was.

Op Loftus Versfeld het een van die getroue werkers, geklee in ʼn wit doktersjas, die lemoene op ʼn groot skinkbord uitgedra. Eers vir die teenstanders, wat altyd ʼn kringetjie gemaak het, en dan vir die tuisspan, ook in ʼn kringetjie.

Hy was stiptelik op tyd, want rustyd was geleende tyd. Op skool was dit die taak van twee standerdsessies, wat die lemoene in die skoolkombuis, snoepie of langs die veld moes opsny en dan uitdeel.

Ek wonder steeds van watter waarde ʼn enkele wiggie lemoen was. Sekerlik was die druppel vitamine C wat jy ingekry het, nie genoeg om jou woema vir die tweede helfte te gee nie en ʼn komende verkoue te keer nie.

Maar dit was rugbytradisie.

As jy gelukkig was, kon jy darem ook jou mond met water langs die veld uitspoel, maar waterdrink was taboe, want jy sou glo erge krampe kry. Skelm-skelm het jy ʼn sluk of twee ingekry, maar om jou mede-spanmaats te oortuig, het jy gegorrel en die res uitgespoeg.

Van taktiek bespreek was daar nie tyd nie, want kort voor lank het die skeidsregter skril op sy fluitjie geblaas en moes jy kante ruil en voortspeel. Jou kaptein kon jou darem op pad afskop toe uittrap: “Watch daai vleuel, hy’s gevaarlik,” het hy baie analities gesê.

So al asof jy dit nie geweet het nie, want hy is vier keer oor en om jou in die eerste helfte.

As jy in ʼn wenspan was, het die tweede helfte verbygevlieg. As jy in ʼn verloorspan was, kon dit nie gou genoeg ophou nie.

Ná die tyd is daar lank in die storte (gewoonlik was die water reeds koud, want die geysers was maar klein en ondoeltreffend) oor die wedstryd gesels, oor daardie skepskop, têkkel of vaskop wat die bal onder die oë van die ander haker gehaak het, oor daardie drie in die hoek, daardie skelmhou.

Daar is gesing en gelag en jy het met trots jou skaaf- en kneusplekke, trapmerke en bloukolle uitgestal, want jy het mos nie verniet jou lyf vir jou spanmaats en die spel opgeoffer nie. Jy is altyd klubhuis toe waar die wedstryd verder ontleed en gekuier is. Jy kon maar uithaak, want Sondae was rusdae en jy het tydelik van Maandae se uitmergelende fiksheidsessie vergeet.

Dis hoekom daar soveel kameraderie was, want jy het saam in die lief en leed van jou spanmaats gedeel, oor die soet en suur (veral van die lemoene).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PieterP ·

Dankie Pieter Kruger. Diè het my nou ‘n paar keer lekker laat glimlag

Michael 1 ·

Ek stem saam kan nog die gevoel onthou van spangees en die bus ritte terug en na die venue,dit was nice tye gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.