Lok voëls na jou tuin

Deur Karen Viljoen

mossie

Foto: LubosHouska/Pixabay.com

As ek na die natuur en al sy wonderlike skoonhede kyk, is ek elke keer verstom oor die besonderhede en prag. Ek kan nie anders as om te dink dat die Here ons hier op die aarde darem verskriklik bederf het nie. Vandag dink ek spesifiek aan die voëls van ons land. Het jy onlangs gekyk na ʼn mossie, altyd op-en-wakker, vrolik en aan die gesels? Sou jy meer in detail kyk sal jy sien dat dit veel meer as ʼn valerige voëltjie is. Let op na sy roeskleurige strepies, wit en swart, en ʼn magdom skakerings van bruin.

My gedagtes lei my soms na bekommernis en angs oor die toekoms. Dan kom die vers in die Bybel wat ons vertroos en herinner dat die Here vir ons sal sorg, net soos Hy elke dag vir die mossies sorg, dadelik in my kop en dit gee vir my soveel vrede.

Vandag se wenke sluit aan by laas maand se tema oor inheemse plante in jou tuin. Ons wil natuurlik plante inspan om meer voëls na ons tuine te lok en kan verskeie soorte hiervoor gebruik.

Omdat voëlsoorte verskillende kos eet, gee dit vir ons ʼn wye verskeidenheid van opsies om jou tuin ʼn voorkeur-kuierplek te maak. Die opsies is:

  • Insekvreters
  • Saadvreters
  • Nektarvreters
  • Vrugtevreters
  • Vleis/ visvreters

Voëls lewer ook ʼn groter bydrae in jou tuin as net die pret en opgewondenheid om hulle dop te hou. Hulle help met bestuiwing van blomme, en ook om ongewenste insekte te vang.

ʼn Lekker bad vir die voëls sal ook aan hul waterbehoeftes voorsien, want hulle geniet ʼn bad. Sou jy ʼn waterelement met ʼn dammetjie en visse oorweeg, kan jy selfs ʼn paar visvangerspesies lok. Onthou dat jy dan bereid moet wees om die visvoorraad gereeld aan te vul en liefs plan moet maak om jou spog-versameling Koi-visse te beskerm.

Foto ter illustrasie. (Foto: DarcyRogers/Pixabay

Om insekvreters te lok moet jy plante plant wat gereeld blom en as gashere dien vir insekte. Die Wildeperskeboom (Kiggelaria Africana) is ʼn gasheer vir die Acraea-skoenlapper en beide die skoenlapper en sy wurm is ʼn goeie bron van kos. Clivias, Agapanthuses en strelitzia se blomme lok ook talle insekte, asook verskeie salie-soorte en Plectranthus-spesies. Die lekker digte plante sorg ook vir skuilplek vir voëls. Kyk uit vir die mikstert-byevangers, laksmanne en Jan-Frederiks wat hulself vinnig in jou tuin sal kom tuismaak.

“Plectranthus” (Foto: Nursery Live)

Saadvreters, wat vinke, mossies en kanariesoorte insluit, sal mal wees oor grasse soos Natalse rooigras (Melenis repens) en Gongoni-grasse (Setaria megaphylla en Aristida junciformis). Die pluime van die grasse sal ook kan gebruik word as materiaal om hulle nessies mee te bou. Sagte plantmateriaal soos mos, ligene en vars uitloopsels van struike is ook ideaal hiervoor.

Nektarvreters wat ʼn groot verskeidenheid van suikerbekkie-soorte insluit, sal behoorlik fees vier oor plante met blomme wat ʼn tuit het soos Kaapse kanferfoelie (Tecoma), wilde dagga (Leonotis Leonurus), vuurpyle (Kniphofia praecox), sonbekkie-bos (Metarungia longistrobus) en natuurlik alle fynbos en protea-spesies wat blomme dra. Aalwyne, wat meestal in die winter blom, sal sorg vir nektar in kouer maande en daarna sal die sade en vrugte ook baie voëls soos piet-my-vrou en kwêvoëls lok.

Bome en plante wat vrugte dra – ons sien dit dikwels as sade – is ook baie gewild. Oorweeg gerus Rhamnus prinoides (Dogwood) ʼn immergroen struik met blink blare wat ook as ʼn heining geplant kan word en veral Glasogies lok. Karee en wilde olyfbome dra lekker klein vruggies wat onder andere muisvoëls, houtkappers en spreeus lok. ʼn Besonderse mooi en welriekende klimplant is die inheemse jasmyn (Jasminum multipartitum) wat met sy blomme insekte lok, en die bessies wat die plant dra sal sorg dat die vrugtevreters ook ʼn draai kom maak.

Voëls wil ook graag plekkies in die tuin hê waar hulle kan sit en die wêreld bespied of sommer net lekker in die sonnetjie kan bak. Bome en mooi stompe sal hiermee help. Spesies soos die blousysie, tarentale en fisante hou van ʼn bietjie kaal, sagte grond waarin hulle kan skrop en ʼn stofbad kan vat.

ʼn Tuin met meer plante as gras bied die geleentheid vir voëls om te bly en kos en water te kry, en selfs ook nes te skrop. Skep vir hulle ʼn veilige plek en onthou om vir jouself ʼn plekkie te maak met ʼn lekker bankie of stoele waar jy self kan sit en ontspan, terwyl jy die voëls se manewales bekyk en selfs ʼn mooi kiekie of twee kan neem.

Ons is geneig om die klein dingetjies in die lewe mis te kyk in ons gejaag na wind. Gebruik dit wat die Here in die natuur vir ons geskep het om vreugde, geluk en vrede in jou lewe te bring. Voëls bring lewe in jou tuin en sal ook jou gemoed goed doen. Dit hoef nie meer geld te kos nie, beplan net jou tuin met hulle behoeftes in jou agterkop en jy sal beloon word met ure se genot.

  • Karen Viljoen is landskapargitek.

(Foto: Taryn Elliott/Pexels)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

Die wilde dagga in my tuin het n vierkantige stammetjie .Ek glo dit is so geskep om die suikerbekkies n makliker greep te gee om nie blom se nektar by te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.