Maak 2017 ʼn beter jaar vir renosters

Bonné de Bod neem nog ’n misdaadtoneel waar. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod neem nog ’n misdaadtoneel waar. Foto: Verskaf.

Die oudword-ding is iets van ʼn tweesnydende swaard: Aan die een kant is daar kans vir groei, maar terselfdertyd ook die besef dat tyd so vlietend is, meer as tevore. Ek weet in sommige se oë is ek nog te jonk om dit te sê, maar met die jare wat so verbysnel is ek ook toenemend bewus hoe bevoorreg ek is. Wat ek besig is om te aanskou dra soveel gewig en sal vir altyd in my geheue vasgelê wees.

Dit was September 2014 en ek kan steeds die opgewondenheid van die eerste Wêreld Jeug-renosterberaad onthou. Honderde jong afgevaardigdes het in iMfolozi KwaZulu-Natal byeengekom om wêreldwyd die boodskap uit te stuur: “Moenie van die jeug vergeet in hierdie stryd om die renoster te red nie.”

stroop-kalender-bonne-onderhoud-met-veldwagter

Bonné voer ‘n onderhoud met ‘n Veldwagter in die Spesiale Teen-Stropings Eenheid (vir sekuriteits-redes word die naam nie bekend gemaak nie) wat sy al ‘n hele paar jaar volg vir STROOP. Foto: Verskaf.

Daar was veral hoë verwagtinge gekoester van die Viëtnamese afvaardiging en ek was saam met twee senuagtige tieners, Nguyen en Bui, by die opening van ʼn wildvang-boma. Die klein boma was die tuiste van twee renosterkalfies nadat hul ma’s op die wreedste manier denkbaar afgemaai is vir hulle horings. Ek is geen voorstander van die aanraking van wilde diere nie, maar die kleinste van die twee kalfies het reguit na die bomaheining gekom waar ons gehurk gesit het. Ek sal nooit die woorde van die Viëtnamese tiener vergeet toe hy huiwerig aan die dik maar sagte vel van die wesie raak nie: “Hy haal asem, sy vel beweeg.”

Ironies genoeg, nou, twee jaar later, staar hierdie tuiste van die witrenoster wat die jongelinge se entoesiasme en hoop vasgevang het, die hoogste vlakke van stroping ooit in die gesig. As ons tegnies wil raak, ʼn verhoging van meer as 400% vergeleke met vyf jaar gelede. Sommige noem die huidige situasie ʼn krisis. Party sê dis ʼn oorlog en ander noem dit selfs ʼn … veldtog. Wat van ʼn spesie-slagting of soos in Engels ’n “genocide”?

'n Helikopter hys 'n renoster na veiligheid. Foto: Facebook via Stroop

‘n Helikopter hys ‘n renoster na veiligheid. Foto: Facebook via Stroop

Die woord beteken “met die voorneme om uit te wis, in geheel of gedeeltelik”. Ek kan nie sien waarom dit nie op ons renosters van toepassing kan wees nie. Miskien, as ons dit ʼn spesie-slagting of te wel ’n “genocide” noem, sal ons, die mense, dit meer ernstig opneem.

As ʼn joernalis in die voorste linies tydens die verfilming van my dokumentêre rolprent STROOP het ek die brutale realiteit waarmee ons land te make het eerstehands ervaar. Ek het meer karkasse gesien as wat ek kan onthou en van die reuk van daardie tonele raak ʼn mens se brein nooit ontslae nie. Ek het dae in stowwerige hofsale regoor die land deurgebring waar beweerde stropers soos helde deur hul uitgebreide familie en ondersteuners behandel word.

Ek het voetgeslaan deur die agterstrate van Asië waar ek van aangesig tot aangesig te staan gekom het voor onwettige handelaars van diereprodukte en waar ek ook sekerlik een van die moeilikste onderhoude nóg moes doen … met die eindgebruiker van renosterhoring in die gemak van haar luukse huis in Hanoi. Terug in Suid-Afrika het ek ʼn emosielose renosterhoringsmokkelaar ná sy verhoor te woord gestaan en vir die eerste keer aan die einde van 2016 kon ek nie die trane keer toe ek hoor dat die wêreldbekende renoster “Hope” dood is nie. Sy het ʼn stropingsaanval oorleef en teen alle verwagtinge in vir 18 maande aanhou veg om oorlewing. Ek was bevoorreg om haar reis te kon dokumenteer en haar stryd om oorlewing te aanskou. Sy was vir baie van ons die lig aan die einde van die tonnel. Maar haar lig sal bly skyn en sy sal vir altyd die gesig van renosterstropingoorlewendes bly.

'n Omgewings-misdaadondersoekbeampte sny een van twee gestroopte renosters by die Rietvlei Natuurreservaat op (Foto: Susan Scott)

‘n Omgewings-misdaadondersoekbeampte sny een van twee gestroopte renosters by die Rietvlei Natuurreservaat op (Foto: Susan Scott)

As jy onlangs op Twitter was, sou jy opgemerk het dat talle mense nie kon wag vir die einde van 2016 nie, en dit is ligtelik gestel. Hutsmerke soos #2016MustGo en #2016worstyearever het vir dae lank die botoon gevoer. En as jy na die top-nuusstories van die jaar kyk … wel, wie kan die twiets blameer? Miskien was dit die goorste jaar nóg en ons almal het ons redes, maar ek weet ook dat dit die moeilikste jaar was vir ons renosters. En ek praat nou nie van syfers nie! Ons word so meegevoer met statistieke: “… ja maar hoe vergelyk dit met die vorige jaar se syfers…”.

Ek hoef nie te weet of die syfers 10% op of 10% af gaan wees nie. Ek weet net dat in my drie jaar van ondersoek na hierdie “wêreld van gierigheid” ek nog nooit soveel beweerde stropers in die beskuldigdebank sien staan het nie. Hierdie gewetenloses stroom oor die grense van ons nasionale en provinsiale parke en daar is geen keer aan hulle nie. Die aantal renoster-wesies wat hul ma’s as gevolg van stropery verloor het, het dramaties toegeneem en ek vergeet nie vir een oomblik die dapper werk deur ons veldwagters wat hofsale met skuldiges vul nie.

Bonné de Bod in onderhoud met staatsaanklaer in Skukuza-hof. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod in onderhoud met staatsaanklaer in Skukuza-hof. Foto: Verskaf.

Ek sê dat 2016 op soveel vlakke die ergste nog was vir ons renosters omdat, die “syfers” ten spyt, daar ook die ergste droogte in 20 jaar was. Baie sê nie-amptelik vir my dat die verliese groot is. Dis belangrik om te verstaan dat renosterwesies, net soos slagoffers van die droogte, nié by die amptelike statistieke ingesluit word nie. Private renostereienaars vertel dat burokratiese rompslomp die ergste nog is insluitend die verkoop van permit-inligting aan stropers wat ʼn maklike teiken soek. Korrupsie het in die stelsel ingesyfer, selfs die departement van omgewingsake het dit onlangs erken en hoe kan ons die opskrif vergeet: “Minister van staatsveiligheid se beweerde bande met renosterhoringsmokkelaar” – wat steeds onder die dekmantel bly.

En snaaks, aan die begin van elke jaar is daar groot afwagting rondom die uitreiking van die vorige jaar se stropingsyfers. Maar ons moet na meer as net die syfers kyk. Die sage oor die plaaslike handel in renosterhoring duur voort met appèl na appèl na die hoogste howe. Daar is besprekings en hewige debatte tussen private hande en die regering. Of jy nou vir of teen handeldryf in renosterhoring is, of jy glo dit gaan die spesie red of uitwis, dié geredekawel kan nie goed wees vir die renosters nie.

Bonné de Bod en Susan Scott besig om versteekte kameras reg te stel tydens hul vooraf ondersoekende werk in Hanoi. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod en Susan Scott besig om versteekte kameras reg te stel tydens hul vooraf ondersoekende werk in Hanoi. Foto: Verskaf.

Tyd is kosbaar en daarvan is daar min oor vir dié spesie. In September 2016 het pres. Jacob Zuma die grootste Wêreldwildlewekonferensie (amptelik genoem Cites CoP17) nóg in Sandton geopen en afgevaardigdes van 183 lande het saamgetrek om die handeldryf in diere- en plantprodukte te bespreek. En soos ek deur die verskillende sale beweeg het, het ek mense teëgekom wat ewe passievol gedebatteer het aan albei kante van die handeldryf-debat. Dit was bykans ʼn geloofsaak met die verskillende standpunte deur diegene wat net op die rand kan staan en toekyk omdat slegs regeringsafvaardigings die ware mag het in hierdie arena…. Hierdie keer is Swaziland se voorstel vir handel in renosterhoring tydens ʼn geheime stemming van die hand gewys en nog ʼn driejaar-interregeringsverslag is deur Cites aangevra om na die gevolge van renosterstropery te kyk, en hoe erg dit regtig is. Het ons dan nie reeds genoeg bewyse nie? Vir jare is daar vir my gesê dat Cites renosters sal beskerm deur middel van verskeie interregerings-samewerkingsooreenkomste en ander afdwingbare maatreëls. Dit kan en het al vir baie spesies gewerk maar na my eerste Cites-ervaring is ek bevrees ons maak nog gereed om in ons blokke te sak vir die 800 m terwyl die afsitter se geweer vir die 100 m sopas geklap het.

STROOP filmmaker en televisie-aanbieder, Bonné de Bod (Foto: Susan Scott)

STROOP filmmaker en televisie-aanbieder, Bonné de Bod (Foto: Susan Scott)

Ek is seker ons almal wil die stof van 2016 afskud en vorentoe kyk om 2017 ʼn beter jaar te maak. Maar dit kan net beter wees as ons dit so maak. Die grootste oorwinnings in die geskiedenis is nie deur regerings aangevuur nie, maar deur die mense. Mense, soos ek en jy. So, tensy jy uit jou leunstoel opstaan en jou stem laat hoor dat jy omgee oor wat besig is om met ons renosters, ons erfenis te gebeur, lyk hulle prentjie hierdie jaar uiters donker. Ons almal het gesien hoe die plaaslike regeringsverkiesings ontvou het, het jy agtergekom dat nie een politieke party iets oor die renosterstropings-“krisis” genoem het nie? En moet nie eers by my kom met die verskoning dat almal vuisvoos is vir renosterstroping nie. Hoe kan ons verwag dat die veldwagters, die veeartse, staatsaanklaers, die renosterwesie-rehabiliteerders nie moeg raak nie, nie moed op gee nie, as dit is wat ons, die publiek sê en voel.

Hoe durf ons sê dat ons vuisvoos is vir hierdie slagting … hierdie “genocide” wat nou, in ons leeftyd, afspeel? As jy oor ’n paar jaar terugkyk na 2017, wil jy nie hê dit moet ’n jaar wees waarin geleenthede aangegryp is, aksie geneem is en lewens verander is nie. Dit mag dalk nie menselewens wees nie, maar hulle is net so belangrik. Nie waar nie?

Voorstelle om 2017 ʼn beter jaar vir renosters te maak:

  1. Gebruik sosiale media – dis gratis en die besluitnemers neem regtig kennis hiervan. Gaan “like”, “share” en lewer kommentaar op Facebook op die dinge wat vir jou belangrik is. Volg Bonné se film STROOP.
  2. Tradisionele pos! Bonné is onlangs meegedeel dat die naelknip-veldtog ʼn groot irritasie vir die Chinese ambassade was waar talle briewe met naels vir maande afgelewer is! As jy sterk voel oor die bewaring van ons renosters, skryf hier aan jou parlementslid: Posbus 15, Kaapstad, 8000 (natuurlik moet jy jou spesifieke verteenwoordiger in die visier hê maar groundup.org.za het ʼn fantastiese opsporingstelsel op hulle webwerf). Of jy kan direk aan die departement van omgewingsake skryf: Minister Edna Molewa, Environment House, 473 Steve Biko en Soutpansbergweg, Arcadia, 0083.
  1. Donasies is belangrik. Dalk het jy ’n ekstra R20 of R50 wat in die renosterveldtog ingeploeg kan word. Daar is baie inisiatiewe wat donasies benodig maar onthou om altyd eers jou huiswerk te doen.

Besoek STROOP se Facebook-blad vir meer inligting.

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Die bekroonde rolprentmakers Bonné De Bod en Susan Scott is al drie jaar besig met die verfilming van die renosterstropingskrisis vir die dokumentêre prent, Stroop. Dié gedugte span is nou besig met redigering en die film sal na verwagting in 2018 uitgereik word. De Bod is bekend as die wildlewe-aanbieder op 50/50, aanbieder en vervaardiger van Rhino Blog, sowel as ʼn spesiale korrespondent vir die SAUK se Newsroom en kykNET se Grootplaas en #RenosterRadar op Groot FM 90.5.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

John ·

Die red-die panda-projek in China trek groot aandag en kry wereldwyd tv-dekking. China vrees die dag wat die diere, wat moeilik teel, sal uitsterf. Maar hierdie selfde mense gee vir mekaar renosterhoring as geskenk en voel vere of ons skaars wildsoorte in die stof byt danksy hul dwase bygeloof dat die horing wonderlike genesende eienskappe het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.