Onder die Maroelaboom: Koffieverslawing, Nederland en ʼn weduwee

caffeine-1868926_1280Die dae word langer. Hoewel die deel van my neus wat bo die dik laag komberse uitsteek nog die byt van die koue voel, merk ek hoe die son my steeds vroeër deur die dakkamervenster wek. Met ’n lyf wat sy litte by die skrale trappegang na benede losmaak en ’n keel wat nog heserig die inspanning van gisteraand se vertoning verwerk, is die koppie koffie wat daar onder in die kombuis wag my mees onmiddellike lewensdoel.

Ná jare lange rock n roll (en aldus die Sama-inskrywings na dese “adult contemporary”) in 32 lande kan ek sê dat ek deur die genade van die Liewe Heer voor byna geen verslawings die knie moes buig nie. Ek sê “byna”, want oggendkoffie het my gevang en verslaaf. En die gehalte daarvan speel ’n deurslaggewende rol in die res van my dag se verloop.

Die weduwee is reeds in die kombuis met haar eie verslawings – koffie en De Volkskrant. Vir die volgende sewe weke deel ek en sy haar huis in die platteland, ’n halfuurtjie buite Amsterdam. Ons ry elke dag na die verste uithoeke van Nederland vir ons teatertoer – sy, ’n gevestigde Nederlandse teaterster, ek ’n eksotiese geurtjie uit die suidpunt van die wildste kontinent.

Die weduwee is reeds in die kombuis met haar eie verslawings – koffie en De Volkskrant.

Nederland is net ’n bietjie groter as Gauteng, maar ek staan verstom voor hoe groot die land word as jy elke aand in ’n ander stad werk. Ons sal tussen nou en April meer as vyfduisend kilometer ry. Beleef vra ons uit na mekaar se nagrus, klets effe oor die dag en geniet ’n ontbytjie. En dan kies ek die hasepad, want daar is nog een verslawing: stap. As ek nie my daaglikse vyf of meer kilometertjies inkry nie, verander ek in ’n aansienlik iesegrimmiger weergawe van myself.

amsterdam-1682963_640

Foto’s: Pixabay

Oral smelt die sneeu. Wilde-eende, swane, af en toe ’n sku konyn steek hier en daar rondom my kop uit om die ongewone laatwintervreugde van direkte sonstrale te geniet. My gedagtes dwaal onwillekeurig na my huis in Afrika, na my beminde toe. Ek wonder wat sy op hierdie, ongetwyfeld soele Suid-Afrikaanse oggend by ons huisie maak. Het sy al ons Jan-Frederikkie gewaar? Gaan sit sy nog in die tuin vir ’n oggendoordenking, al is ek nie daar om dit saam te doen nie? Het sy ook in die vroeë oggendure in haar slaap gesug en ’n hand soekend oor die leë plek langs haar in die bed gestreel? Word daar in haar gemoed ook die skerp skaduwee van die donker reus van ons verwydering en pynlike afwesigheid tydens selfs die mees sonnige oomblikke afgeëts? Word die gesang van voëls ook soms vir haar verdring deur die gedruis van verlange en versugting?

Die voorhekkie kerm met die oopstoot – die ding het olie nodig.

Ek asem dieper, loop vinniger. ’n Mens moet dapper bly, want die skeiding is onafwendbaar. Ek móét werk. Mens moet maar doen wat jy moet. Ek vind vertroosting in die wete dat ek in April weer huis toe gaan, dat die groot leë gat in my gemoed dan weer met ons samesyn gevul sal word. Ná ’n uur nader ek weer die huis. Die voorhekkie kerm met die oopstoot – die ding het olie nodig. En skielik word ek bewus van ’n diep stilte oor die huis, ’n sfeer wat soms alle lig, klank en warmte kan verswelg. En ineens besef ek dat ten spyte daarvan dat die woord met gemak van ’n mens se tong afrol, daar ’n ontsettend swaarverdiende en pynlike kruis gedra word aan daardie titel, daardie woord: “weduwee”.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

evsbest ·

Nou wil ek wees waar jy is Chris. Klink so idilies. Ja om ver van jou liefde te wees is nie so erg nie dink net; Jy doen nou wat jy moet wat ander nie sal doen nie maar jy gaan later die vreugde put van wat ander nie kan nie. Uit hou. April is om die draai..

Ina ·

sjoe Chris wat ‘n pragstukkie. Maroela laat hy vir ons skryf en los die moord en doodslag uit op ons boere en witmense, want niemand doen tog iets daaraan nie.

Chris jy mag maar skryf……..jy laat my verlang na ‘n plek waar ek noggie was nie. Dankie

Minette ·

Ai Chris, so mooi verwoord. Daarom moet jy haar volgende jaar saambring na die land van kaas, tulpe en klompe. Ons waardeer jou opoffering so iedere jaar weer, vir ons jaarlikse porsie suiwer Afrikaans met ‘n knipoog.

Ella ·

Dankie Chris! Heimwee-mooi!
Geniet jou kuiertjie in die verte!

Pietman ·

Wat ‘n lekker storie om te lees! Dit voel of ek daar is, in Nederland. Daar is nie baie sulke lieflike skryfstukke wat die rondte meer doen nie. Dis daaroor dat ek dankie se Maroela Media, dat julle ‘n stukkie tradisionele afrikaanse skrywe deel, vir ons wat nog ‘n waardering daarvoor het, te kan geniet. Groete

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.