Ons Franse kasteel: Die storms duur nie vir altyd voort nie

Deur Sunita McDonald

Die ritmiese gekap van snawel teen boombas wedywer steeds met die gekap van hamer teen pleister by Château de Capelle. My agtjarige het my so ewe ingelig dat ‘n houtkapper tot twintig keer per sekonde kan kap – hy het dit in ‘n boek raakgelees! Ek vermoed hy dink sy ma skiet ver tekort met ‘n spoed wat meer neig na een kap per 20 sekondes. Ek beny die houtkappers hul talente!

Ek was al tydens grendeltyd effe jaloers op hierdie voëls… Terwyl ons moes wag vir winkels om weer oop te maak om te kon voortgaan met ons bouwerk, het ek afgunstig geluister hoe hulle huisies bou. Deesdae beraam ek planne om die houtkappers in die tuin binnetoe te lok en in die werk te steek. Gratis verblyf en vol voerbakke vir die geveerde werkers is gewaarborg! Ek het nog geen aansoeke ontvang nie, so ek karring maar aan teen ‘n spoed wat nie my seuntjie beïndruk nie.

Met die warm weer het ek tyd afgeknyp om saam met die kinders lafenis te gaan soek in die koue bergwater. Die stof en geraas van elektriese beitels en hamers voel myle ver weg wanneer ek ‘n blaaskansie geniet aan die oewer van die meer. Dit is ook ‘n voerplek en die eende en ganse verwelkom ons telkens met ondersoekende kraalogies wat loer of daar dalk ‘n baguette-bederfie tussen die swemklere skuil.

Die ander lede van die diereryk wat die kasteel hul tuiste gemaak het, word ook goed bederf. Ons het verlede Maandag die klein katjies onder ‘n digte braambos herontdek, nadat hulle vir ‘n paar weke verdwyn het (ons het die ergste vermoed!). Dit kom voor asof hulle op ‘n intensiewe opleidingskursus was, want hulle het in bobaasmuisvangers ontaard. Hulle verskaf die kinders ure se plesier met hul manewales in die tuin en eet ons uit huis en haard!

Ons kry darem ook kans om te ontspan. Verlede Sondag het ons die geleentheid gebruik om vir die eerste keer by die kasteel te onthaal. Die twee egpare wat ons in die tuin gehelp het, het ons met hul geselskap vereer en daar is lekker gesels (in Frans) gelag, geëet en gedrink (in alle tale). Ons het by Europese cuisine gehou en ‘n hoender-en-chorizo-polentagereg met groente en gebakte kaas bedien. Dit was ‘n wenner – un peu Frans, un poco Spaans en un po Italiaans en die polenta was ‘n goeie inleiding tot pap en wors vir die volgende ete! Dalk stel ons hulle ook nog voor aan bobotie en geelrys – ietsie eg-Suid-Afrikaans!

Hulle het natuurlik ‘n grand tour van die kasteel gekry. Ek was nie verbaas toe hulle ‘n paar wanhopige Franse uitlatings tydens die toer geuiter het nie. Op die oog af, is hierdie kasarm steeds ‘n wrak! Meeste van ons werk konsentreer nog op die “geraamte” van die huis.

Die aanlê van pype en kabels en die verwydering van pleister, verrotte vloerplanke en plafonne met waterskade los ‘n spoor van puin en dit lyk soms erger aan die einde van ‘n dag. Ek dink egter ons vriende het moed geskep toe ons hulle agterna die woonstel gewys het en hulle eerstehands die eindproduk van ons werk kon aanskou.

Ons het darem een vertrek in die hoofhuis ook byna klaar. Die mure is met waterkalk gepleister, die plafon is vervang, ons het geverf en ‘n nuwe deurraam aangebring.

Ek het ure aan die vloer geskrop om die jare se stof weg te was met drie gretige helpers wat nooit die geleentheid om met water te speel, van die hand sal wys nie. Die vloerlyste moet nog aangebring word, maar die winkels het nie op die oomblik voorraad nie. Ons wag dus vir die laaste stukkie afronding voor ons die vertrek kan meubileer.

Daar is egter reeds vyfster-akkommodasie vir sekere besoekers beskikbaar. Gaste met ses pote (hoe dikwels wens ek nie vir ses arms nie!) kan in gerieflike “kamers” van dennebolle, strooi en bamboeslote oornag.

Die kinders het ‘n insekhotel teen een van die bome in die kasteel se tuin aangebring en wag nou geduldig vir ‘n paar besoekers om die kasteel se nuwe fasiliteite te gebruik. Ons het dit as ‘n opvoedkundige geleentheid gebruik om die jongspan van “goeie” goggas te leer en hoe hulle tot die ekosisteem bydra. As julle graag iets soortgelyks in jul tuine wil aanbring, vra ons gerus daaroor uit.

Op die onderwerp van goggas… Ek is redelik kamerasku en het verlede week soos ‘n gogga onder ‘n vergrootglas gevoel… Ná vele versoeke van lede op ons Facebook-groep het my man besluit dit is hoog tyd dat ons video’s begin maak.

Ons begroting sluit geen fênsie kameratoerusting of redigeerprogramme in nie, dus is die stukkie interaksie nét so (onveranderd) op YouTube gelaai. Gaan loer gerus hoe ek in die Rooitaal struikel tussen lemoenboorde en orgideë, tot groot vermaak van my man! Dit is egter alles deel van die pret en ons hoop om binnekort videotoere te doen vir almal wat nuuskierig is om meer van die château te sien.

Ek het ook meer van ons omgewing te siene gekry toe ek een middag Toulouse toe gery het. Ons het berig ontvang dat ons grassnoeier moontlik gevind is nadat die polisie gesteelde gereedskap gekonfiskeer het.

Na die 100 km reis na die provinsiale polisiestasie het ek egter teleurgesteld omgedraai – ons grassnoeier was nie tussen die goedere nie. Ek het 35 km van ons huis af gestop vir ‘n bottel water en ‘n pragtige dorpie met die naam Saint-Martory ontdek. Selfs met leë hande ná my lang rit, was die natuurskoon ‘n lafenis vir die siel op ‘n warm dag.

Die warm weer het in ‘n paar geweldige donderstorms ontaard en een van die ou bome in die tuin het gesneuwel. Die omgevalde boom sal opgesaag word vir vuurhout en wie weet, dalk groei daar in die toekoms ‘n nuwe takkie weer uit die stam. Die lang rylaan was ook vol gebreekte takke en blare en ons het die volgende oggend tyd spandeer om die tuin op te ruim.

Die ganse mensdom het hierdie jaar reeds baie storms en ontwrigtings beleef. Ons stukkie wêreld in die suide van Frankryk leer ons egter baie lewenslesse. Die storms duur nie vir altyd voort nie – teen die volgende oggend was dit uitgewoed, die voëls het weer gesing en die houtkappers het weer teen ‘n indrukwekkende spoed gehamer.

Ons lewe met geloof, hoop en liefde – vir die wêreld en ons restourasiereis. Ons glo dit is liefde en toewyding wat sal help om die kasteel te herstel en hoop om Château de Capelle weer ‘n wonderlike tuiste te maak. Mag dit altyd ‘n veilige hawe wees wat die storms van die lewe kan weerstaan – vir ons gesin, vir familie en vriende en vir elkeen wat ons drumpel betree in die toekoms!

À la prochaine, tot volgende keer!

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif Rooi Rose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.