Ons Franse kasteel: Die winde van verandering…

Deur Sunita McDonald

Die reuk van gekneusde dennenaalde het swaar in die lug gehang en die voëls in die woud het ‘n oomblik se stilte gehandhaaf ná die knarsende slag. Met ‘n knop in my keel het ek die ou reus se stam aangeraak en opgekyk na die leemte wat hy gelaat het. Die boom moes baie jare se geskiedenis by Château de Capelle gade geslaan het, daar waar hy bokant die kasteel uitgetoring het.

Ons het egter vroeër vanjaar gesien die boom lyk nie gesond nie, sy blare was deurentyd bruin en sy takke het soos gebreekte arms langs sy stam gehang. Ons was aanvanklik besluiteloos oor wat ons te doen staan, want die toring, die ou klipmuur en die marmerhekpoorte was almal in gevaar as die boom verkeerde kant toe sou val. Ons wou egter nie sommer net van ‘n boom ontslae raak wat so deel van die château is nie. Uiteindelik het ons besef dat die risiko te groot is en het besluit om die boom af te kap sodat ons beheer oor die val kon uitoefen.

Met die boom op die grond is ons vermoede dat dit besig was om te vrek, bevestig; die stam was uitgehol en verrot in die middel. Daardie aand het ‘n storm gewoed en terwyl die wind om die hoeke van die kasteel geloei het, het ek vrede in my hart gehad dat ons die regte besluit geneem het. Ek het myself voorgeneem om ‘n manier te vind om die boom steeds deel van die kasteel se storie te maak en twee stukke van die stam word tans in die woonstel se ingangsportaal gebruik vir ‘n tydelike skoenrak. Die boom is nie vergete nie.

Die ander bome in die tuin met hul seisoenale roesrooi- en goudgeel blare is ook kaal gestroop ná die storm. Die wind het soos ‘n profeet deur ons tuin kom waai met die boodskap dat verandering weer op pad is. Ons het immers weer ‘n verandering in omstandighede verwag met die koronavirusgevalle wat elke dag toeneem.

Frankryk het tans die hoogste syfer in Europa met ’n totaal van bykans twee miljoen gevalle. President Emmanuel Macron het op 29 Oktober aangekondig dat grendeltyd weer in Frankryk toegepas sal word. Die tydsberekening was nie perfek nie – my man was aan die verkeerde kant van die Engelse kanaal.

Ek het die volgende dag inderhaas gaan voorraad koop voor die winkels weer hul deure sou sluit en ‘n spieël gaan oplaai wat ek op Marketplace by ‘n vrou gekoop het. Sy was so opgewonde dat haar antieke spieël in ‘n château gaan hang en het my gevra om ‘n oomblik te wag. Sy bring toe ‘n mantelhorlosie uit en sê dit sal perfek by ons tuiste pas. Ek het probeer teëstribbel, maar sy het aangedring dat ek dit as ‘n geskenk neem. Ek was diep geraak deur hierdie liefdevolle gebaar en het voorgestel dat ons saam gaan koffie drink en koek eet wanneer die grendeltyd verby is.

Ek gebruik elke geleentheid om my Frans te verbeter en het vir ‘n paar minute gestaan en gesels oor die confinement wat die volgende dag sou begin. Die vrou het my vertel van haar vriendinne wat so graag inkopies gaan doen net om iemand te kan sien. My hart bloei vir die mense wat alleen op die platteland bly. Die koronavirus is ‘n dief wat die silwer jare van bejaardes se lewens kom steel. Met ‘n swaar hart het ek die tannie gegroet wat weer vir weke geen kind of kraai sal sien nie.

Op pad terug huis toe het ek by ‘n abdy gestop met die naam Abbaye Notre-Dame de Tournay wat blykbaar 20 Benediktynse monnike huisves. Ek en die kinders het deur die tuin gestap en vir ‘n oomblik die stilte en vrede ingedrink. Daar het ek die versekering in my hart gekry dat afsondering en alleenwees soms ook goed is vir die siel. Dit is hóé ‘n mens jou tyd bestee, wat tel.

Met my man in Engeland het ek nie veel tyd gehad om te tob nie. Die sneeu het reeds ‘n paar weke gelede die pieke van die Pireneë kom versier en die woonstel moes isolering op die westelike muur kry voordat die koue arriveer. Met ‘n vriend se hulp het ons die isoleringsmateriaal aangebring en met ruwe houtpanele bedek. Die effek is ‘n rustieke afwerking aan die binnemuur van die dependance (buitegebou) en ek is heel in my skik daarmee.

Gedurende die werkery in die buitegebou het ons tussen die plat stukke hout ‘n salamander ontdek! Ek was op die punt om die geel en swart dingetjie op te tel, toe ons vriend waarskuwend uitroep dat dit giftig is. Ons het die salamander toe versigtig gevang en ‘n nuwe tuiste op die buurplaas gaan gee.

Asof dit nie genoeg was dat ek amper aan ‘n giftige salamander gevat het nie, trap ek byna op ‘n slang ‘n paar dae later! Ek het ‘n bondel wasgoed gedra, toe ek skielik die wriemelende “stuk tou” voor my voete gewaar. Ek het ‘n paar meter die lug ingespring en die wasgoed het op ‘n hopie op die trappe beland. Die slang het homself soos blits in ‘n afvoerpyp gaan opkrul en doodstil bly lê. Ek was verbaas om ‘n slang dié tyd van die jaar teë te kom. Daardie spesifieke dag was dit egter ‘n aangename 23 °C en ek neem aan die slang het die warm trappe geniet voor ek hom die skrik op die lyf gejaag het.

Intussen het ek en die kinders ‘n verdere slaapkamer in die château se muurpapier gestroop. Op ‘n nuwe sementblad in een van die buitekamers het elke lid van die gesin ons handpalms in die nat sement gedruk. Die kinders se entoesiasme het geen keer nie en hulle wou hul merk maak. Hulle soek steeds daagliks na skatte in die huis en tuin.

Tydens ‘n houtsoek-ekspedisie in die woud het ons op ‘n “bottelbegraafplaas” afgekom. Ons het hulle almal opgegrawe om na die glasherwinningspunt te neem. ‘n Paar van die bottels is uniek en blyk baie oud te wees en die kinders het aangedring dat ons van die bottels moet ten toon stel as château trésors.

In Frankryk is dit asof selfs die natuur ‘n grendeltydperk binnegaan waar dit vir ‘n paar maande vasgevang sal wees in die greep van winter. ‘n Suid-Afrikaner wat in Swede woon, het vir my saad van vuurpylblomme gepos en die pakkie saad is ‘n daaglikse herinnering dat die potensiaal vir nuwe lewe nie ver weg is nie. Winter is tog ook ‘n tyd van rus, van hibernasie en vir krag opbou vir die nuwe seisoen.

Met wêreldwye vlugte steeds moeilik of onmoontlik, wend baie Suid-Afrikaners in die buiteland hulle na Facebook-groepe soos South Africans Currently Living Abroad. Daar gesels ons oor ervarings in ons nuwe lande, raak nostalgies oor die laaste besoek aan Suid Afrika of gee mekaar raad. In ‘n onlangse pos het ek gesê hoe mis ek Suid-Afrika en hoe moeilik dit is om nie geliefdes en familie dié jaar te kon sien nie. Baie ander ekspats deel hierdie emosies en kan nie wag vir die geleentheid om familie weer te mag besoek nie.

Die tyd sal aanbreek – die winde van verandering waai, ons wêreld sal weer gesond word. Ons het hierdie jaar ou bome verloor en die virus het sy merk op baie lewens gemaak, maar die mensdom sal soos vuurpyle uitstyg en nuwe hoogtes bereik in die volgende seisoen van die lewe.

Gardez le courage, gardez la foi (Hou moed, behou die geloof …)

Met liefde uit Frankryk.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Pragtig.
Ek kan so ‘n persoon en gesin se lewe in ‘n land met goed opgevoede inwoners net beny.
Hoe anders is dit nie in teenstelling met die daaglikse gemors waarin suid afrikaners in hul vierde wêreld geboorteland vasgevang is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.