Ons Franse kasteel: Muskiete, knoffel en sosiale distansiëring

Deur Sunita McDonald

Ek het iets in Frankryk teëgekom waarvan ek rêrig nie hou nie! Iets waarvan ʼn mens dink jy kan ontsnap wanneer jy die dag nie meer op Afrikagrond staan nie, maar nee! Jy vind daardie klein irritasies in Europa ook!

Dit het een bedompige aand gebeur toe ons al die vensters oopgemaak het. Dit was steeds 34˚C teen 20:00 daardie aand. Ons het later die ligte gedoof, maar die vensters oopgelos vir ʼn bietjie lafenis na die dag se hitte. En toe hoor ek dit – daardie senutergende geluid wat klink soos ʼn sopraan wat op ʼn C6-noot vasgehaak het. Ek het sommer blindelings in alle rigtings geklap in die hoop dat ek een van die verpestelike goedjies sal raak klap en dat die ander sal gaan begrafnis hou, maar dit was tevergeefs.

Ek was moeg ná ʼn dag se werk en het ten spyte van die onwelkome en ontydige opera, in ʼn droomlose slaap weggedommel. Ek weet dit was droomloos, want die volgende oggend was dit duidelik dat my “droom” eintlik ʼn werklikheid was.

Die klein bloedsuiers het my aangeval en dit het gelyk of ek masels onder lede het. Ek het soos ʼn lotto-advertensie geklink met my gesoebat aan my man: “Help my krap!”, want dit jeuk erger as ʼn Afrika-muskietbyt en sonder ophou!

Die geniepsige goedjies het my kinders ook erg bygekom. Ek vermoed ons knoffellose bloed is soos soet nektar op die opgekrulde proboskis van die muskiete wat ons so verinneweer het. Selfs al woon ons in Frankryk waar die stereotipiese Fransman met ʼn string knoffel om sy nek uitgebeeld word, het my man ʼn hewige afkeer aan knoffel en kook nooit daarmee nie. Die Franse kook amper alles met knoffel en ek vermoed dis omdat dit ʼn doeltreffende afweermiddel is vir les moustiques.

ʼn Mens moet soms moeilike keuses in ʼn huwelik maak. Teen die derde aand se gesukkel met die bloeddorstige indringers het sosiale distansiëring in ons huis begin. Ek het besluit om knoffel te eet ten spyte van my ander helfte se hewige protes en die dreigement dat hy my nie sal nag soen nie!

Dit was egter die stywelip-soen op die wang werd, want die muskiete het hul arias op ʼn afstand gesing daardie aand. My man vind knoffel so aanstootlik dat daar ʼn nuwe, selfopgelegde taak op sy doenlysie is: installeer gaas voor die vensters om kastyders buite te hou. Intussen het hy met ʼn buisie Peaceful Sleep vorendag gekom wat nog op ons laaste besoek aan Suid-Afrika gekoop is.

My hande jeuk deesdae en dit het niks met die muskiete uit te waai nie! Ek vind net meer en meer antieke meubelstukke wat ek wil restoureer! Deur ʼn interessante sameloop van omstandighede het ek ʼn pragtige ou Louis XV-bankie teen ʼn baie billike prys op Marketplace bekom. Die bankie het wel werk nodig – dit moet gestoffeer word en die bodem moet herstel word, maar dit pas perfek by die kasteel.

My projekbestuurder-man was nog besig om aan hierdie nuwe restourasieprojek en die installering van gaas voor die vensters te herkou, toe ek wéér met en nuwe taak by die huis aankom. Ons bejaarde vriende het vir my ʼn pragtige ou spieël gegee. Die tannie wou die spieël ashoop toe vat en het so terloops gevra of ek dit enigsins kan gebruik. Ek was dadelik verlief toe ek dit sien, ten spyte van die opmerklike skade aan die raam. Ek is heel in my skik met my geskenk terug huis toe, maar Andrew kon nie my entoesiasme verstaan nie.

Ons het genoeg take om ons besig te hou en blykbaar maak ek die lys van projekte net langer. Hy is bekommerd dat ek volgende met ʼn vrot pampoen, ʼn stukkende skoen, ʼn grammofoonplaat en ʼn kous sonder maat by die huis aankom. Die idee is egter nie so vergesog nie. Sê nou net ek vind een van Baron de Sauvan se kouse wat hy drie honderd jaar gelede verloor het? Ek neem aan kouse sonder maats is nie ʼn probleem eksklusief aan moderne wasmandjies nie! Ek het plegtig belowe om my liefde vir ou meubels onder beheer te probéér hou totdat die kasteel klaar is.

Verlede week het ons vloere herstel. Die ou houtvloere het deur die jare plek-plek verweer en verbrokkel. Ons het besluit om twee vertrekke op die derde verdieping se vloere op te offer en die oorspronklike houtpanele te gebruik om skade elders te herstel. Dis ʼn gemeet en gesaag en gehamer om die legkaarte te voltooi, maar ek is in my skik met die werk tot dusver. Soks, ons kat, het ook so ewe die kwaliteit van ons werk kom inspekteer. Ten minste voel ek gerus dat geen kind of kraai (of kat) nou deur ʼn gat in die vloer sal verdwyn nie.

Iets het wel jare gelede onder die vloerborde verdwyn. Hierdie keer is ons vonds meer gehawend as die ander, maar dis steeds baie opwindend. Dit is bladsye van ʼn ou boekie wat een of ander diertjie deurgeknaag het, maar ons kon wel uitmaak dat dit in beide Frans en Latyn geskryf is.

ʼn Paar van die mense op ons Facebook-groep het navorsing gedoen en alhoewel daar verskillende opinies was, blyk dit ʼn livre de morale te wees wat kinders morele waardes en Latyn geleer het. Sommige dele blyk selfs uittreksels te wees van Colloquia moralia ex variis philosophorum dictis condita, ʼn 1535-teks geskryf deur Hermann Schottenius en Colloquia Moralia, ʼn 1573-teks deur Erasmus Lætus. Die vonds bied ʼn interessante venster op die verlede…

Op die onderwerp van vensters, die herstel van die kasteel se vensters het ook ʼn aanvang geneem. In die woonstel het die vensteropening slegs hortjies gehad so dit was ʼn maklike besluit vroeër die jaar om standaard vensters dáár te installeer. Die hoofdeel van die kasteel het egter groot, oorspronklike vensterrame wat bewaar en gerestoureer moet word en dit vereis meer aandag.

Die stroping van die verf op die vensterrame is ʼn proses wat deur ʼn kundige uitgevoer word, want dit is met loodverf bedek. Ons pragtige ou vensters word dus een vir een weggery om professioneel gestroop te word en om enige stukkende ruite te vervang. Hierdie is ʼn groot verandering vir die huis. Die oë is mos die vensters van die siel en ek reken vensters is die oë van ʼn huis. Hou ʼn ogie op ons ou dame – daar lê groot veranderinge om die draai wat hierdie tuiste se moeë siel gaan vernuwe.

Ek hoop dat jou hart hierdie week sielsjampanje sal pomp wat liefde en geluk laat opborrel totdat dit uit die vensters van jou siel straal. Mag die muskiete ook wye kringe om jou vlieg en jy elke aand in vrede slaap.

Met my vredevolle slaap byderhand in ʼn buisie, knoffelhuisies langs my kussing en ʼn man wat sosiale distansiëring beoefen, groet ek jou uit Frankryk tot volgende keer. Salut! Lees alle vorige rubrieke hier. 

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif rooirose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

chateaudecapelle ·

Dankie vir die raad. Ek wil muskietnette opsit maar die beddens is nog nie op hul regte plekke nie en die plafonne is só hoog dat ek dit net een keer wil opsit ;)

lon ·

ha ha daai muskiete het jy natuurlik in jou tas saam gepiekel laaskeer toe julle hier was, die goed is monsters. Sterkte met dit.

chateaudecapelle ·

Sou my nie verbaas nie, maar hierdie muskiete blyk om op op steroides te wees! Hulle byte jeuk verskriklik! En hulle sing ook harder as die Afrika muskiete :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.