Ons Franse kasteel: Om aanpasbaar te wees

Deur Sunita McDonald

Bonne année à tous! Voorspoedige nuwe jaar aan almal vanaf ’n koue en sneeubedekte Château de Capelle. Mag die jaar net liefde, vrede en goeie gesondheid reg oor die wêreld bring.

In Frankryk word Nuwejaarswense uitgespreek elke keer wanneer jy ‘n persoon vir die eerste keer in die nuwe jaar teëkom, selfs al is dit weke ná Nuwejaarsdag. In die huidige situasie met Covid-19 wat toeneem en mense wat meestal tuis bly, voorsien ek dat ons dit steeds tot diep in die tweede helfte van hierdie jaar gaan hoor.

Dit was ’n rustige Desember by die château. Op Oukersaand het ons ’n diens in Saint Bertrand de Comminges se eeue oue katedraal bygewoon. Ons het nie elke woord verstaan wat die prediker in sy vinnige Frans gesê het nie, maar toe die bekende klanke van Stille Nag op die orrel begin speel, het dit my, soos in my kinderjare, met verwondering gevul. Ons het “Douce Nuit” uit volle bors agter ons mondkappies saamgesing. Dit was ’n vreemde taal en vreemde omstandighede, maar dit was Kersfees en ’n gevoel van vrede het in die pragtige gebou geheers.

Ons het ’n paar soete herinneringe aan Suid-Afrika en ons geliefdes oor die feestyd gehad. Een van my gunsteling-geskenke onder die Kersboom was ’n pakkie Romany Creams wat ’n vriendin gestuur het. My kinders het op Kersdag aan malvapoeding gesmul terwyl ons op WhatsApp met Oupa en Ouma gesels het. Tydens ons onlangse bergwandelings het ons gereeld beskuit en rooibostee in die sneeu geniet. Daar was vir seker Suid-Afrikaanse temas tydens ons Kersseisoen in die vreemde.

Die dag ná Kersfees het ons besluit om sneeu te gaan soek. Op Kersdag het die natuur so ’n effense lagie in ons tuin gesprinkel, maar nie genoeg om die grond te bedek nie. In die Nistos-berge, ongeveer 18 km van ons af, was dit egter ’n ander prentjie en my kamera het sonder ophou geklik om die winterwonderland op foto’s te kon vaslê. Ons kon nie ver teen die berg uitkom sonder sneeukettings aan ons voertuig se wiele nie. Ná ’n senutergende omdraai op ’n seepgladde, gevriesde bergpad, was kettings hoog op die prioriteitslys en ons het daardie selfde week ’n paar aangeskaf.

Die tydsberekening was goed, want ’n paar dae later het die château uiteindelik ook behoorlike sneeuval gehad. Dit was ’n bron van opwinding vir die kinders wat uitgelate in die wit tuin baljaar het en skynbaar nie die koue kon voel nie. Verlede jaar het ons dikwels na die kasteel as die Slapende Skoonheid verwys, maar nou, met haar wit jas aan, het sy in Sneeuwitjie verander. Die tuin, die woud en die rylaan het sprokiesagtig gelyk met die wit winterkombers oor alles.

Ons het aanvanklik beplan om te ontspan oor die Kersseisoen en nie in die hoofdeel van die huis te werk nie. Ek was egter teen 29 Desember rusteloos en het die huis ingevaar met ’n stofsuier, emmers en borsels. Ek het al die kaste begin skoonmaak en het nog ontdekkings gemaak in een van die solderkaste. Dit het ’n ou atlas, ’n verweerde baadjie, ’n groot kartondoos van Au Bon Marche in Parys en verskeie ou tydskrifte van die 1940’s en 1950’s ingesluit.

Die atlas is spesiaal en het een van die vorige eienaars se handgeskrewe naam en die datum as 1855 op die eerste bladsy. Die wêreldkaart is baie interessant en wys ’n deel in Sentraal-Afrika wat die kartograwe van daardie tyd as “onbekende lande” aangeteken het. Dit is byna ondenkbaar dat daar ’n tydperk was, nie so lank gelede nie, wat die wêreld so anders gelyk het.

Op Nuwejaarsdag het ons by vriende ’n tradisionele Galette de Roi-koek gaan eet en die nuwe jaar saam gevier. Ons almal het daarna om die meer aan die onderkant van die kasteel gaan stap. Dit was ’n aangename middag en ’n goeie manier om 2021 te begin – met koek, goeie vriende en oefening in die buitelug.

Ons Nuwejaarsvoornemens om meer van die area te voet te leer ken, sal aangehelp word deur die jongste toevoeging tot die château-familie. Belle is een van nege babahondjies wat aan die begin van die winter in ’n woud gevind is. My hart het swaar gevoel toe ek hul storie in November gelees het. Ons het met die organisasie Les Amis des Animaux gesels en aangebied om ’n tuiste aan een van die hondjies te bied. Ons het Belle, die kleinste van die nege hondjies, verlede naweek gaan haal en na haar nuwe tuiste by die château gebring. Sy is definitief een van die hoogtepunte van hierdie jaar en het reeds ’n spesiale plekkie in ons harte verower.

Met die kwik wat die afgelope week na negatiewe syfers gedaal en daar vasgesteek het, het ons besluit om aan die kasteel se vensters te begin werk. Ons het die eerste een se gebreekte hortjies vervang en dit was ’n uitdaging om met die dun glas te werk. Ek is egter steeds vasberade om die oorspronklike vensterrame te herstel waar nodig en die gebreekte glaspanele te vervang. Die massiewe houtvensters is ’n unieke eienskap van die gebou en iets histories wat ek graag wil behou.

Ten spyte van die koue, geniet ons die prag van die skitterende wit sneeu. Die kinders trek mekaar op sleë rond in die tuin en bou sneeumanne. Daar is altyd warm sjokolade met malvalekkers voor die kaggel wanneer ons die huis binnegaan met hande wat pyn van die koue. Ek spot gereeld en sê my Afrika-lyf is nie vir hierdie temperature gemaak nie, maar ek besef een ding: as mense is ons aanpasbaar.

Ons het nog baie werk wat voorlê en vensters, vloere en ’n nuwe badkamer is reeds op die doen-lysie vir die eerste maand van hierdie jaar. Die lys mag dalk verder aangepas word soos wat die weke verbygaan, maar ons maak planne rondom hierdie take en vat dan elke dag soos dit kom.

Aanpasbaarheid is vanjaar ’n kernwoord vir ons. Die wêreld is weer anders en dinge werk anders. Dis moeilik om planne te maak met al die onsekerheid. As jy egter dinge rondom jou in oënskou neem, sal jy besef dat daar altyd iets positiefs is om jou aandag op te fokus. Maak dit ’n Nuwejaarsvoorneme om positief te bly en hou dit vol lank ná die tweede helfte van 2021.

Geniet oomblikke met vriende en familie wat jou altyd sal bybly en laat hierdie ’n jaar van sprokies-oomblikke en soete herinneringe wees. Die wêreld verander elke paar jaar, maar wees stil en fokus op dit wat standvastig is en onveranderd sal bly.

Met liefde uit Frankryk, tot volgende keer.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mad Mike die Rhodesiër ·

Geniet die sneeu, julle! “I’m dream of a w… Christmas.” Julle is “white” ons s’n is “wet”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.