Oom Herrie se kerrie: Die dame met die skinkbord

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Adelisa is haar naam. Adelisa is baie trots op dié naam, en skryf dit op ʼn papierhanddoek vir my neer toe ek haar naam vra.

Dit was skuins ná drie vanoggend. Ek het soos die fisioterapeute opdrag gegee het, die hospitaal se gange aangedurf om bietjie meer lewe en krag in my lammerige bene te kry.

(Nie dat ʼn mens noodwendig ver kom nie – betrap een van die verpleegpersoneel jou, word jy ferm aan die arm geneem en terug in die kooi geprop. In hierdie klein hospitaaltjie word pasiënte onverbeterlik deur uitstekende personeel versorg en behandel.)

Adelisa is met haar skinkbord onderweg, en oom Herrie maak ’n grappie oor hoe lekker ’n kommetjie gat nou sou smaak. (En die pasiënte word gewoonlik met ʼn beskuitjie bederf, en vanoggend ’n gemmerkoekie). Sy is nie links nie, en sê sy bring.

Terug onder die kooigoed besef oom Herrie Adelisa het pas vir oom Herrie terug in die katel gekry sonder dat veel van ’n vinger gelig is. ’n Paar minute later is die koffie daar, en sy help om oom Herrie in te rig.

Dit was nie die eerste keer wat oom Herrie in die hospitaal beland nie, en ook nie die eerste keer in die klein hospitaaltjie tussen die bome en yslike hospitale nie, maar loshande die langste. Drie weke en oom Herrie, met longontsteking en griep, het so hittete die kispak aangetrek. ’n Hele paar mense, ook in die intensiewe sorgeenheid, het dit nie gemaak nie. Die personeel ken vir oom Herrie, en oom Herrie ken hulle. Met die vorige vertoewenis het oom Herrie die name begin leer, maar tot oom Herrie se skande, nie ver gekom nie. Daar is nog ʼn hele paar name uitstaande.

Oom Herrie is sterker daarmee om insidente uit mense se lewens te onthou as hul name. Neem nou maar Marjorie. So twaalf jaar gelede was haar soldateman onderweg huis toe. Dit sou sy eerste besoek in ses maande aan die huis wees, en daar verongeluk hy. Al vroegerig die dag, maar sy word eers elfuur die aand ingelig. Maar toe het sy en haar gesin al onverbiddelik geweet – die beeldmateriaal op TV gesien. Haar stem raak yl soos sy vertel.

Miriam se kleinkind is haar groot vreugde. Nou die dag, vertel sy, maak die kleintjie haar wakker en sleep haar na die kas waar die lekkergoed gehou word. En beduie na die kas. Miriam moes maar die kleinding optel en wys die lekkergoed is op.

En toe vra iemand na haar ander kleinkinders en kinders. Sy wil niks sê nie, maar die stem raak weg en sy sluk hartseer … sy is duidelik al uitgehuil oor die kinders se lot.

En tog, die behandeling was onverbeterlik. Ja, die hospitaaltjie is soos ’n tweede huis. Baie van die gereelde pasiënte sal nie eens droom om, tensy dit onafwendbaar is, na ʼn ander hospitaal te gaan nie.

Natuurlik is daar hartseergevalle onder die pasiënte ook, soos die omie wie se vrou vier jaar gelede oorlede is. Hy verlang vreeslik, vertel hy sy predikant, en wil nie meer leef nie. Die volgende dag word hy na ’n hospitaal vir sielkundige benadeling oorgeplaas.

Of die omie wat oornag het. Hy is onplesierig, en boonop betrap hy ’n verpleegster wat verkeerdelik chemo in sy drup wou gooi – ʼn werklike misverstand. En toe moet oom Herrie seker ’n halfuur lank luister na die man se woordeskat. Die volgende dag is hy fort, nog steeds in dieselfde klere as waarmee hy daar aangekom het. Dit was sy vyfde verblyf daar, dus kon die vorige vier keer darem nie te sleg gewees het nie.

Oor ʼn week is oom Herrie weer terug by die tweede huis, en sal bande hegter word met suster Cathy, die manlike verpleër Jannie, die kleine Sylvia, Maria, Miriam, en die ander … en Adelisa met haar skinkbord.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Albaster ·

Ek het gewonder waar Oom herrie was, het hom gemis en ek hoop die herstel sal goed gaan, baie sterkte.

Herman Toerien ·

Baie dankie Albaster. Daarlê nog ‘n paar toetse en behandelings voor, maar ek veg so hard ek kan van my kant. Herman

Wicus ·

Goed om weer iets van jou te lees Herman. Mis jou ook by Sterre en planete. Baie sterkte. Hoop vir spoedige en permanente beterskap!

JdV ·

“Kommetjie gat” en “kispak aangetrek” het my nou laat glimlag. Oom Herman, dis vir my mooi om te sien hoe Oom steeds ten spyte van die ou lewe se beproewinge pittighede kan optower en steeds ander se leed kan opmerk. Ek geniet Oom se skrywes baie! Sterkte en voorspoed.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.