Servaas

Argieffoto (Foto: Mabel Amber/Pixabay)

Skoonseun het ʼn hond genaamd Servaas wat reken hy is mens. Servaas slaap in die huis en sy hare word dikwels gesny soos ʼn opregte mansmens s’n. Maar Servaas moet ingekerker lewe want dis die wet hier op Jacobsbaai – huisdiere moet nie rondloop nie. Ek is tevrede met die wet want ek is eintlik liewer vir duikers en hase as vir honde en katte maar so elke nou en dan oorval die jammerte my en dan maak ek opsetlik die tuinhekkie oop sodat Servaas die vlaktes kan vat.

Servaas het een of ander soort van disleksie. Ek vermoed hy aard na my want ek en handvaardigheid was nog nooit goeie vrinne nie.

In ieder geval, Servaas waai nie sy stert soos ʼn gewone hond nie. As hy jou wil groet dan lyk dit soos ʼn woer-woer wat daar agter hom aan’t draai gaan. En raak hy aan’t hol lyk hy soos ʼn renoster want sy linkerbene gaat gelyk vorentoe en dan weer die regterkant se span. So wiggel-waggel hy heen en weer kompleet soos ʼn visskuit teen die Weskus.

Maar as Servaas nou die slag deur die tuinhekkie ontsnap, dan vat hy die pad ooswaarts tot hy by die einde van die doodloopstraat kom. Deon en sy buurvrou Maryke se honde raak aan’t skrou en belowe vir Servaas die drag slae van sy lewe want Servaas merk elke klip en elandsvy-rankie daar voor hulle erwe. Dan kyk Servaas hulle so ewe hooghartig aan en gaat rustig sy gang om nog ʼn hopie te maak en so effe stoffies oor die bedryf te skop. En dan stap hy salig aan. By ou prof. Pieter verby, maar daar kry hy nie veel aftrek nie want daardie arme ou hondjie is horingoud. Maar as hy by Martin kom, dan breek die hel los. Die twee huishonde van Martin bestorm die muurtjie en probeer verwoed bo-oor die elektriese drade kom maar die draad sit hom verwoed teë so die bruingoed moet maar tru-staan. Hulle sit ʼn geweldige keel op maar Servaas hou hom doof en blind en skrik glad nie vir al die dreigemente nie. Hier merk hy die omgewing sorgvuldig en kry iewers nog iets uit die gederms om daar te los. Dan stap hy aan.

Chris se wit wolf storm die hek laat die klippers spat maar dan moet hy ook verleë deur die sporte vir Servaas loer. So gaan hy om tot voor teen die see. Dan raak dit stil want die branders raas te veel. Later van tyd dan hoor jy hom doer van ver af aankom. As hy by tannie Marie Tredoux aankom dan begin die saluut weet. Die straat se honde raas en storm maar hy lig been en saluut terug. Rustig en met waardigheid kom hy aan. G’n mens jae hom aan nie en selfs die munisipale vragwaens moet maar om hom ry want hy is die koning van Keeromstraat. Ná so ʼn uur of wat is hy tuis en krap ewe opreg aan die tuinhekkie om met groot dankbaarheid sy eie erf te betree. Maar die hele omtes se honde is kwaad vir hulle base en vra luidkeels vir die voorregte van Servaas. Party wil geheel klipgooi en tyres brand want hulle wil ook so wees.

Servaas word nou oud. Ek dink hy sal binnekort abdikeer maar tot dan gun ek hom die kortstondige triomfantlike segetog van sy koningskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sandy ·

Koos Greeff ek het hierdie storie van Servaas nou regtig terdee geniet, en my tot verbeel hoe ek die agtertralie honde se gekla hoor en sien hoe hy ewe heldhaftig rustig “hulle” klippe merk en iets uit die derms so voor hulle neuse los. Ek sien ook hoe hy die stof so oor alles skop, want my honde doen dit ook. Dankie vir dit.

Woef ·

Dit is soos altyd ‘n lekker-lees, Koos.
Ek sien uit na die volgende vertelling. ;-)

Essa ·

Nou laat Servaas se koninklike kaperjolle my na see, sand en vygies verlang – dis goed hy kan sy lekker woonplek geniet tot die misnoeë van sy straat-genote ?

Elize ·

Baie goeie hondestorie.. Servaas is ons 6de geslag familienaam…. sterk naam (Servaas Daniël) de Kock.

Strand looper ·

Dankie viri lekerrrrrrr lees Koos. Ons het ook so n liewerste hondtjie….maak sy merk liewerste opi mat as buite maar is soos n kind ini huis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.