Sondag-erdwurms

Foto bloot ter illustrasie (Foto: 11066063/Pixabay)

Jy weet daai oggende wanneer jy laat is… wanneer jy reeds ʼn uur voor die ander huismense opgestaan het omdat jy soos ʼn goeie vrou en ma gou wasgoed moet opvou, of kos op die stoof moet kry?

En dan, met ʼn lied in jou hart, maak jy almal wakker met koffie of tee, net soos hulle daarvan hou, omdat dit vir jou lekker is om jou gesin te bederf.

Maar iewers draai dinge suid. Iemand is nukkerig en almal is só gefokus op hulle eie klein wêreld van wat ék wil, dat jy eerder soos die huishulp as die ma begin voel. Jy moet jouself heeltyd herhaal, jou huismense herinner om tande te borsel (ek rol my oë kliphard) terwyl jy self nog moet regmaak sodat die gesin nie laat is nie.

Wat my verstand te bowe gaan, is die rondsit so tien minute voordat ons moet vertrek en dan, wanneer mamma uit die kamer kom, gereed om te ry, het almal nog vinnig iets om te doen.

Ek verpes dit om by ʼn kar te wag wanneer ek die een is wat laaste behoort klaar te wees…

Op pad kerk toe (ja, op die heilige Sondag!) was vir my ʼn totale frustrasie. Daar is ʼn verdomde erdwurm in die dammetjie (ek rol weer my oë) en dit is nou die grootste prioriteit om uit te sorteer; nie ons wat reeds laat is vir die erediens nie.

Dit het alles van my gevat om koel en kalm te bly, en ek dink ek het die helfte van die rit tot by die kerk gebid vir geduld en liefde… doen alles in liefde (ek tel tot by tien in my gedagtes).

En hier, terwyl ek skryf en uiting aan my frustrasie gee, gaan daar vir my ʼn liggie aan. Die boodskap in die kerk was juis oor selfs die kleinste diertjies in die natuur, wat deel van God se wonderlike skepping vorm om Hom te verheerlik.

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Ek besef skielik, dis die erdwurm. Hy verheerlik Hom ook. In sy bestaan doen hy presies dit waarvoor God hom geskape het. Dit wás dus prioriteit. Die mens is immers oor al die diere aangestel…

Terug by die dag se gebeure: My verligting en “liefde” was van korte duur. Terug by die huis het ek aangegaan met die roetine. Kosmaak, wasgoed was – die reën maak dit ʼn lang uitgerekte proses, piekniekgoedjies regkry vir die middag se vertoning van Passievol 2024 saam met die bure terwyl die huismense verveeld rondhang, speletjies speel en my eintlik net vies maak omdat almal so selfsugtig is en net ʼn vinger sal lig as jy pertinent vra. En dié vinger kom natuurlik met ʼn sug of uitdrukking van totale misnoeë.

Ek was openlik geïrriteerd. Ek wil ook ʼn bietjie ontspan terwyl iemand heeltyd vir my sorg, of seker maak al my goed is heeltyd in plek.

Moenie bekommer nie, ek sien dit. Bietjie bitter, bietjie wrokkigheid. Baie kwaad en frustrasie. Bietjie net nie op ʼn lekker plek wees nie.

En toe, omtrent ʼn uur later, sit ons in ʼn ouditorium vol mense wat dien; elkeen daar met sy eie storie, sy eie bagasie, sy eie dankbaarheid… Passievol 2024.

Tussen soveel woorde, musiek en sang kan jy nie anders om jou hart volkome oop te maak en in te neem nie. Om te hoor hoe elke sanger, musikant, aanbieder, werklik almal hulle menslikheid erken; dat hulle ook dae het wat “suck”, jiggie is en kwaad en geïrriteerd word.

En jy sien; jy sien die gebroke mens wat jy is, jy voel die kwaad en die seer eintlik fisies in jou hart en jy wonder, hoe gaan ek hierdie regkry? Hoe gaan ek aanhou dien in liefde, aanhou gee, want ek is ʼn mens, ek raak kwaad en vies. Maar jy hoor jy is een van almal wat eintlik deur dieselfde emosies werk.

Soveel mense het saamgesing. Ek kon nie. Ek het die bietjie stem wat ek na die hospitaal-eskapades het, in die kerk opgebruik. Ons het die Onse Vader gesing en danksy jare gelede se kerkafsluitings op skool kon ek darem by die alt-wysie hou.

Maar ek het geluister. En ek het gekyk. Veral na myself. Hoe onnodig die vies en irritasie en angs is, hoe groot die skepping is en hoe belangrik dit is om die erdwurm te red.

Hoe om te luister, teenwoordig te wees… hoe om vrede te vind sonder dat jy vrede hoef te maak en te besef ek is gebroke, maar so is elkeen om my ook, maar steeds bly ek vir God kosbaar, soos Hy in Jesaja 43 sê.

Na gister het ek skielik besef ek het ʼn koffie-afspraak met die Here nodig. Nie my gewone stiltetyd nie; ʼn lang, diep gesprek en intieme gesprek waar ons die hartkamers net weer ʼn bietjie kan regpak en waar ek myself net weer kan belyn.

Waar ek kan stil word, myself kan blootlê en die heerlikheid van vergifnis en liefde kan ervaar sodat ek my eie menswees kan aanvaar en sodat ek eerder saam in oorgawe en liefde al die erdwurms in ons lewens kan red.

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.