Studentebetogings:  Ek wil iets sê en ek wil iets vra

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die afgelope twee weke se universiteitnuus is nogal opspraakwekkend.  Natuurlik.  Dit raak ons hele samelewing as ons oor opleiding begin gesels.  Van alle kante is en word hierdie studentebetogings bespreek, ontleed, geëvalueer en geanaliseer.  Ek wil graag, baie graag, net iets sê en iets vra.

Net een keer wil ek iets sê sodat almal dit kan hoor.  Ek aanvaar baie mense gaan my verwyt omdat ek dit sê en soms is dit mos beter om stil te bly as om niks te sê nie.  Juis daarom wil ek dit nou sê, een keer sê en klaar sê.  Eintlik wou ek dit al jare lank sê, maar hou dan maar terug ter wille van.  Tog wil ek dit een keer hard en duidelik sê, eintlik op Tafelberg staan en die binneland inroep, só hard dat die kranse antwoord gee.

Wat ek wil sê wil ek sê vir almal om te hoor en in besonder wil ek dit sê vir hulle wat ons minagtend aangekyk het, hulle wat ons uit die hoogte ons afgejak het, hulle wat ons vergruis het toe ons anders gedink het, wat ons met geleerde en aangewysde leierskap skerp stilgemaak het.

Net een keer wil ek sê:  ons het julle gesê. Dit was toe nie net die CHO-bordjies (Christelike Hoër Onderwys) wat van die ingangshekke van die PUK afgehaal is en verder het alles dieselfde gebly nie.  Dit was toe nie só dat ons waardegedrewe ʼn volgende eeu kan instap soos met CHO in ʼn vorige eeu nie.  Die PUK het toe nie waardegedrewe dieselfde gebly nie.

Die stryd om CHO en Afrikaans het toe tog wel hand aan hand geloop.  Meer as wat julle wou toegee.  Skemerkelkie-wysheid het selfversekerd gewaarborg:  Die CHO sal van die hekke waar ons inry by hierdie universiteit verskuif na die harte van ons studente.  Die CHO sal nou in die harte wees.  Ek kan my nie uitspreek oor Tukkies, Maties, Unisa, Wits of een van die ander nie, maar oor die PUKKE wil ek net een keer sê:  ons het julle gesê dit gaan nie so werk nie. Dalk moes tog maar na die ander kant van die wonderlike toekomsvisie geluister word.  So hier is dit nou, net een keer in my lewe:  Ons het julle gesê….

Nou het ek klaar gesê, nou wil ek vra.  Wie betoog so?  Is dit meneer die ingenieur van môre, dominee van wie weet waar, juffrou van ons grondslagfase en vormer van ons hoërskool-spesiliteitsvakke, ons dokter, mediese spesialis, navorser en rekenmeester?  Ek hoop maar liefs nie so nie want dan is dit maar redelik nag vir ons hier in Suid-Afrika.

ʼn Kleuterjuffrou met ʼn klip in die hand en ʼn toekomstige advokaat wat aggresief voortstorm, ʼn rekenmeester wat geen verhoging vra nie en ʼn dokter wat trauma veroorsaak?  Eish, akademies briljante en besonder begaafde, nou verguisde Totius het gesê: Genade, alles genade.  Dit blyk ons gaan baie daarvan nodig hê.

Natuurlik was daar in Suid-Afrika, ook by die PUK, vroeër opgtogte, betogings en besware. Selfs toe ons gepleit het om nie die CHO weg te vat nie, het ons ook na die rektor geloop, maar die afgelope twee weke laat alle geskiedenis soos ʼn Sondagmiddag-piekniek lyk.  Ek ys as ek hoor die media berig oor die jong leiers van môre.  Is dit hoe ons leiers van môre leef en gaan laat leef?  Suid-Afrika sal moet bid:  Wees ons genadig Heer, wees ons genadig.  Intussen sal ons nie moed verloor nie.  Vra maar die oorspronklike oprigters van die PUK.  Leiers bou, hulle breek nie…

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Martin ·

Ek vra – waar gaan al hierdie dinge eindig. Ons Kerke is lankal nie meer wat dir was nie. Waar behalwe by ons self moet ons begin om die dinge rêg te stel?

Wicus ·

En stem so saam met jou. Ek wou destyds met die CHO verwydering my PUK baadjie vir Theuns Eloff stuur so kwaad was ek en bekommerd oor wat volgende!

Partykeer is daar net mense wat te slim is om raak te sien wat eintlik agter alles skuil. Hoekom kan ons nie leer uit die geskiedenis nie.

En is bevrees, die klok her gelui vir die Westerse beskawing soos ons dit ken, tensy iets drasties gebeur.

Disselboom ·

Dis waar dat daar gewaarsku is, maar die “PU vir CHO” is maar deel van ‘n groter geheel van eerlose oorgawe. Die gegewe is dat die gewese “PU vir CHO”, Totius se universiteit, oorgeneem is as deel van die buit toe die mag aan die “nuwe Suid-Afrika” oorhandig is en moeilik as enkelsaak in die groter storm behou sou kon word.

Dis dus korrek van “ons het julle gesê”, maar dit was strategies moeilik om die “PU vir CHO” se “CHO” te behou sonder behoud van die staatsmag, en daarby moet nie vergeet word dat die voorste Dakarganger, dr Theuns Eloff, self ‘n produk van die Teologiese Skool Potchefstroom (dus nog ‘n Dopper) en ook van die einste “PU vir CHO” is nie; die PU vir CHO se eie produkte het meegewerk aan die humanistiese vernietiging van die CHO-ideaal, het van binne die produkte gelewer wat dit help bewerkstellig het. Of dit nou gebeur het as gevolg van onnoselheid en naïewe liberalisme of opsetlik, feit is dat die versaking van CHO van binne aangehelp en selfs gelei is; en terwyl ons die hordes se sigbare verwoesting waarneem, moet daar ernstig gevra word of die geestelike afdwalings in die Fakulteit Teologie van die NWU se verwoesting bespreek en teengegaan word?

Die heengaan en verloor van die CHO is ‘n wekroep tot bekering om nie op mense en mense-onderhandelinge te vertrou nie, en om nie op mooi geboue en om welkom te wees in die wêreldsale te vertrou nie, maar om terug te keer wat CHO eintlik is.

Dis mooi dat die huidige studente Totius simbolies beskerm deur om sy standbeeld te gaan stelling inneem. Dis ‘n harde en lelike werklikheid dat Totius se nalatenskap in die “PU vir CHO” deur Gereformeerdes self beskadig is. Ons kritiseer met reg die hordes wat eis en afbreek. Ons moet die verraad in eie geledere nog sterker kritiseer en uit ons geledere uitspoel.

Dis nie lekker nie, maar dis dalk vir die volk se geestelike lewe goed dat ons gedwing word om weer van voor in die geloof die onderwys op te bou. Kom ons doen dit.

Leendert van Oostrum ·

Hmmmmmm…….

Volgens wat ek verstaan het Totius self in die dertigerjare “Totius se universiteit” vir dertig sikkels silwer (staatsubsidie) aan die staat verkoop.

As dit waar is, lê daar ‘n belangrike les in.

Fanie ·

Stem grootliks saam, behalwe dat jul nie tussen oorsaak en gevolg onderskei nie. Theuns Eloff kon nie die Tsunami keer nie- maar net dit so lank moontlik probeer ry en probeer bo bly. Dit was nooit volhoubaar om in ‘n see van Transformasie ‘n CHO Puk- eiland te laat voortbestaan nie. Theuns was nie die oorsaak van die NWU-omwenteling agv die nasionale makro-omwenteling nie, hy het die Tsunami se gevolge probeer bestuur so goed hy kon. Weliswaar goedgelowig begin vgl Grondwetlike riglyne- tot dit duidelik geword het politieke mag is sterker as grondwetlike gesag.

Disselboom ·

Net vir die rekord: Dr Theuns Eloff was ‘n gelegitimeerde predikant in die GKSA toe hy – terwyl daar allerlei terroristedade onder ANC-aanstigting aan die gang was – met die ANC in 1987 in Dakar gaan praat het; teen die land se wette in, want op daardie stadium was die ANC nog ‘n verbanne organisasie. Daar is ‘n wetlike naam vir ‘n persoon wat met die vyand praat sonder toestemming terwyl die oorlog woed.

Hy was ‘n aktiewe deelnemer om die oorgawe te bewerkstellig:

“The purpose of the meeting, while exploratory, was to confer on mutual strategies for fundamental political, social and economic change in South Africa. Participants agreed to pressure for a negotiated resolution of the liberation struggle. It was further agreed that, given the increasing and endemic politically-motivated violence in the country, this process needed to be accelerated.

Amongst the delegates from South Africa were Tony Bloom, Dr F. van Zyl Slabbert, Willie Esterhuyse, Dr. Theuns Eloff, Breyten Breytenbach, Andre P. Brink, Ampie Coetsee, Andre du Toit, Jannie Gagiano, Herman Gilliomee, Max du Preez, Rashied Lombard, Jimmy Matthews, Hennie Serfontein, Alistair Sparks, Alex Boraine and Gretha Fox.

– See more at: http://www.sahistory.org.za/dated-event/van-zyl-slabbert-concludes-meeting-anc#sthash.b7n2ql2O.dpuf

Mariette Hammann ·

Baie dankie vir hierdie bydrae, ds Noëth. Ek wil ook net ‘n baie belangrike punt byvoeg : Die visekanselier van die Puk, wat die mense so aanmoedig om te veg, is blykbaar aangestel op grond van ‘n aanbeveling en baie mooi getuigskrif van die Gereformeerde Kerk. Nou moet die studente daaronder ly.

Jaco Putter ·

Dit was die raad van die NWU wat hom aangestel het. Gereformeerde kerk het niks daarmee te doen gehad nie.

Dewald ·

Elke ‘#whatevermustfall’ is nie n oorwinning nie. Elke eis lei tot nog n eis. En so aan. Die beskaafde wereld werk op betaal vir n diens. Maar hier is elke toegewing wat gemaak word gesien as n mandaat om dit weer te doen, weer te ‘demand’. Dis n Goddelike skande. Hou op toegee. Baklei die geweld in die hof. Moenie toegee nie

Gerhardt ·

Ek stem saam ,et jou Dewald. Op ‘n ligter noot: Wat van #etoll_must_fall?

Nic Grobler ·

Ds Noeth en ander,
Die PUK het klein begin en deur die genade van die Here gegroei, en ‘n buitengewone bydrae in ons land gelewer. Ons kyk nou met biddende verwagting na die Dirk Postma skool en AROS. Mag God sy seen ook daar gee.

Fanie ·

‘Disselboom’, Theuns Eloff het met die ANC gaan praat in ‘n goedbedoelde (ietwat naiewe)poging om uit die doodloopstraat van die tyd te probeer kom. Dat ons toe net in nog ‘n doodloopstraat gestruikel het, kan sekerlik nie voor sy deur gelê word nie. Die hele Afrikaner ‘politieke klas’ het totaal misgetas. Nie net FW en die NP nie- hoewel hul as regeerders die grootste skuld moet dra- nie omdat daar verander is nie, maar omdat dit in verkeerde rigting was. Die regses het ook nie ‘n lewensvatbare alternatiewe plan gehad nie. Hulle was soos ‘n dokter wat reg voorspel het die pasiënt gaan sterf, maar nie die regte medisyne gehad het om hom te red nie. Maar die politieke omwenteling was gedryf deur dieperliggende demografiese grondverskuiwings. Dis nie so eenvoudig as om te sê dat alles FW se fout was nie. Daar moes verandering kom- die tragedie was dat dit in die verkeerde rigting was.

Dup du Plessis ·

Fanie, stem nie met alles saam wat jy se nie. Die tuisland model is nooit getoets nie en ons sal nooit weet of dit kon werk nie. My verstand se vir my dat as Lesotho en Swaziland so lank kon funksioneer is dit eintlik hartseer om te dink wat die moontlikhede vir ‘n klein provinsie of tuisland kon wees wat onafhanklik van die ANC sou funksioneer. (onthou dit sou nie beteken dat net wit Afrikaners hier sou bly nie, maar ander sou net nie stemreg hier gehad het nie – dieselfde waarde wat jou stem vandag het as jy nie vir die ANC stem nie). Die ergste egter is om te dink dat beheer van RSA in een dag oorgegee is. Dink net as dit oor tyd gedoen was met voorwaardes wat die blanke bevolking kon beskerm, daar sou sekerlik al ‘n hele paar rooi ligte aangegaan het wat dan verseker die tuisland model se moontlike waarde sou verhoog. Die groter RSA sou egter oorhandig moes word………en dit wou ek ook se……want ons het dit vir baie gese…….

Johann Marx ·

Demokrasie: ‘n Proses waar deur die minderheid kan meedoen aan hulle ondergang. Ek hoef niks meer te sê nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.