Toegewings oor belasting op buitelandse inkomste verwelkom

finansies-geld-sente-rand-beleggings

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deur Amanda Visser

Die nuutste toegewings oor die belastinghantering van inkomste wat Suid-Afrikaners in die buiteland verdien, word verwelkom, maar kommer volhard oor die koste van indiensneming en die bykomende administratiewe las.

Volgens die toegewings gaan Suid-Afrikaners belastingvrystelling kry op die eerste R1 miljoen van hul buitelandse inkomste. Die datum waarop die nuwe belastinghantering in werking gaan tree, is met ’n jaar tot Maart 2020 uitgestel.

Die toegewings is gemaak ná meer as 8 000 klagtes op sosiale media ontvang is. Die Nasionale Tesourie het ook sowat 1 300 formele voorleggings van maatskappye en individue ontvang oor die aanvanklike plan om die vrystelling te skrap. Die aanvanklike voorstel is in Julie se Konsepwysigingswetsontwerp op Belasting (draft Taxation Laws Amendment Bill) aangekondig. Die Tesourie het verlede week (14 September) sy nuwe gewysigde voorstel tydens ’n sessie van die parlementêre staande komitee oor finansies bekend gemaak.

Patricia Williams, belastingvennoot van die regsfirma Bowmans, sê die R1 miljoen vrystelling gaan baie Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk heeltemal uit die Suid-Afrikaanse inkomstenet neem. “Normaalweg sal iemand wat R1 miljoen inkomste verdien, op 41% daarvan belas word, en die belastingkoers kan tot 45% verhoog as die inkomste bo R1,5 miljoen is.”

Die gewysigde voorstel beteken dat die eerste R1 miljoen nou vrygestel word, en dan tree die belastingglyskaal op die res van die inkomste in werking. Die glyskaal begin op 18% vir inkomste bo R75 750 tot by R189 880. “Die nuwe voorstel oor die buitelandse inkomste vrystelling gaan in werklikheid net hoë-inkomsteverdieners raak, en ook net diegene wat nie hul belastingstatus voor 1 Maart 2020 – wanneer die voorstel in werking tree – kan verander nie.”

Sy sê dit is nie so moeilik vir Suid-Afrikaners om hul belastingstatus te verander nie as hulle in lande werk wat tans dubbelbelastingooreenkomste (double tax treaties) met Suid-Afrika het. Daar is egter ’n kapitaalwinsbelastingkoste ten opsigte van wêreldwye bates. Dit sluit nie Suid-Afrikaanse vaste eiendom en persoonlike gebruiksbates soos privaat motors, bote of woonwaens in nie.

finansies-geld-onder-die-vergrootglas

Foto: Stevebp/Pixabay.com

Die Nasionale Tesourie het in sy voorlegging aan die staande komitee toegegee dat die algehele skrapping van die vrystelling ’n ernstige negatiewe finansiële uitwerking kan hê op Suid-Afrikaners wat laer inkomstes in die buiteland verdien.

Erika de Villiers, hoof van belastingbeleid by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingbesroepslui, sê die vergoedingspakkette vir Suid-Afrikaners wat veral in sekere Afrikalande werk, is hoog vanweë bykomende byvoordele soos veiligheid- en sekuriteitstoelae, toelae vir behuising, vliegkaartjies na Suid-Afrika en internasionale skole vir kinders. “As die hoër salaris en al die voordele in ag geneem word, dan word R1 miljoen vinnig opgeneem. In baie gevalle word die belastinggelykmaking (bykomende belastingkoste in die buiteland) deur die werkgewer gedra, wat ook ’n belasbare byvoordeel is.”

De Villiers sê die verhoogde belastinglas gaan indiensnemingkoste verhoog. Dit kan hul mededingendheid nadelig beïnvloed. “Verskillende maatskappye wêreldwyd ding mee vir groot projekte in Afrikalande en projekkoste is ’n belangrike oorweging. Die winsgewendheid van langtermynprojekte wat reeds aan die gang is, kan ook nadelig geraak word.”

De Villiers sê die feit dat belastingbetalers onderhewig kan wees aan werknemersbelasting in twee belastingjurisdiksies op dieselfde inkomste, gaan ’n ernstige invloed op kontantvloei hê. Die dubbelbelasting kan eers reggestel word as die belastingbetaler die krediet met sy jaarlikse belastingopgawe terugeis. Die feit dat die tesourie mense aanbeveel om vir ’n ontberingsaanwysing (hardship directive) aansoek te doen, bied weinig verligting. De Villiers sê dit is nog ’n uitgerekte en omslagtige proses wat die administratiewe las op belastingbetalers gaan verhoog. Sy sê daar behoort ’n wetswysiging gemaak te word waar daar outomatiese verligting gegee word in gevalle waar werknemerbelasting dubbel afgetrek word.

Die kredietstelsel wat in die toekoms deur langtermynkontrakteurs gebruik moet word om hul dubbelbelastinglas reg te stel, is volgens die tesourie “funksioneel”. Beatrie Gouws, ondervoorsitter van SAIT se persoonlike belastingkomitee, sê daar gaan ʼn beduidende toename in belastingbetalers wees wat van die stelsel gebruik gaan maak. Die kredietstelsel vereis van belastingbetalers om te kan bewys dat hulle wel belasting in die buiteland betaal het. Gouws sê daar is baie lande wat geen dokumentêre bewys gee dat Suid-Afrikaners wel belasting in hul land betaal het nie. Daar sal sekere reëls in werking gestel moet word om te verhinder dat mense dubbel belasting betaal.

Sy sê in die lig van die swak prestasie van die rand teenoor ander eenhede en die belastinggelykmaking wat sal moet plaasvind, gaan die R1 miljoen-vrystelling nie ʼn groot impak maak in die toekomstige koste van indiensneming nie. Dit is kommerwekkend, sê sy.

  • Hierdie artikel is verskaf deur Wêreldwyd, die tuiskomplek vir Suid-Afrikaners in die buiteland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae