Twee onvergeetlike middernagdienste

Argieffoto (Foto: BPBricklayer/Pixabay)

Dit was seker so vyftig jaar gelede. Dalk langer terug, maar dis nie waaroor dit gaan nie. Oorle Ma het met hartseer dié storie vir my vertel.

Die Maritze was destyds gesiene mense in Sabie se gemeenskap en my oom Coen en tant’ Sus en hulle kinders was gewaardeerde inwoners van die dorp. Oom Coen het teen aan die dorp ʼn melkery gehad, varke aangehou en ook lôrries gehad wat hoofsaaklik hout vervoer het.

By uitstek was die Maritze ook gelowige en toegewyde kerkmense en hulle en hulle kinders en kleinkinders kon die kerkbanke van die paadjie se kant af vol sit. Van die hoofouderling se sitplek af kon oom Coen kyk of almal daar was.

Ma vertel toe vir my van dié besondere middernagdiens. Soos altyd was ál die Maritze in die kerk met die verskil dat oom Coen by die familie in die kerkbanke gesit het.

Die diens het sy gewone verloop geneem. Soos altyd was dominee se aangrypende preek tot so skuins voor twaalf gelewer en toe volg die aandoenlike aflees van die name van almal wat in die loop van die jaar te sterwe gekom het.

Daarvoor het die gemeente opgestaan, maar voordat dominee die name begin aflees het, het oom Coen weer gaan sit. Tant’ Sus het aanvaar dat dit sy bene is wat hom so opgekeil het. Hy het met geboë hoof in ʼn biddende houding gesit.

Ná die aflees van die naamlys van afgestorwenes het almal gaan sit en wag dat die kerkklok sy twaalf slae moes slaan. Elkeen in eie gedagtes versonke. Dis toe almal moes opstaan vir die slotgesang dat tant’ Sus onraad gemerk het, toe oom Coen steeds in die biddende houding bly sit het.

Sy het gedink hy was aan die slaap, maar toe sy afbuk om hom wakker te maak, kon sy hom nie wakker kry nie. Daar het hulle hom, in die eerste oggenduur van die nuwe jaar, met groot moeite uitgedra want hy was ʼn groot man.

Dit was ná ʼn leeftyd sy laaste middernagdiens. Op sy pos was hy gereed om te gaan toe sy Hemelse Vader hom kom haal het. Sy ryke lewe en nalatenskap het die familie en vriende getroos. Sy hemelse erfenis het berusting gebring.

Vandag dink ek nog met vreugde terug aan my liewe oom Coen met sy lekkerlag en groot hart vir sy familie en vriende.

Gelukkig leef ek nog om te vertel van ons laaste middernagdiens wat ons bygewoon het. Kort daarna het ons buiteland toe vertrek en toe ons ná baie jare weer teruggekeer het, was daar nie meer middernagdienste nie.

Dit was die nag van 31 Desember 1999. Ons het saam met van ons kinders, net voordat hulle permanent Nederland toe verhuis het, vir oulaas gaan kyk hoe dit in die Sederberge lyk.

Toe ons dié dag Wuppertal binnegery het, was daar al ʼn feestelike atmosfeer. Ons kon ons verkyk aan alles en almal in dié baie besonderse dorpie. Daar was baie te siene en die vriendelike inwoners was in ligte luim. Daar was ʼn amper tasbare gees van welwillendheid en ons het alte lekker geluister na almal se stories. Almal in afwagting om die Oujaar te groet en die Nuwejaar te vier.

So met die kuiery het ʼn blinkerige Stefaans met ʼn netjiese strikdas en baadjie aan vir ons hartlik uitgenooi om die middernagdiens by te woon. Wetende dat die bruin mense spoggerig aantrek kerk toe, het ons nog gesê dat ons nie kerkklere het nie.

“Dis niks daai nie, meneer! Die Jirre kyk nie na klere nie! Hy kyk na jou hart! En nêrens in die Bybel staan klere gaan jou uit die jimmel uithou nie! Nee, kom nou vannag en loop in die Jirre se naam die Nuwejaar reguit in. Kwart voor elf wag ek vir meneer-hulle by die deur. Ons hou spesiaal vir meneer-hulle plek want van tien uur af stroom die mense kerk toe. Kom meneer! Vannag het die Jirre met ons ʼn afspraak.”

Ons was betyds daar en ons is soos eregaste ontvang en na ons sitplekke geneem. Ons het rondgekyk en daar was nie meer plek vir ʼn muis nie. Daar was nie die normale gewyde stilte nie, maar ʼn vrolikheid in afwagting op die koms van die nuwe jaar.

Toe die diens moes begin, het die hoofouderling op die kansel geklim en sy oë oor die volgepakte kerk laat dwaal, voordat hy ons almal op hartroerende wyse welkom geheet het. Hy het nog iets te sê gehad:

“Broeders en susters, kinders en onse gewaardeerde besoekers. Met innige spyt moet ek u meedeel dat onse geliefde leraar skielik siek geword het en ek is gevra om die diens waar te neem. In beskeidenheid gaan ek nou voort.”

Hy het breedvoerig die verloop van die diens afgekondig en gesê dat, soos ander jare, die orkes as die kerkhorlosie se klok op twaalfuur begin slaan, die Basuin sal speel en die gemeente die nuwe jaar staande sal verwelkom.

Laat ek nou eers sê dat dit ʼn formidabele koperblaasorkes was en elke orkeslid het sy instrument met passie gespeel. Daar was ʼn dirigent wat elke beweging, om die beste uit die orkeslede te kry, geken het. Hy’t behoorlik met sy hele lyf dirigeer!

Ná hartlike samesang, het hoofouderling gebid, gelees en begin preek. Nie sedig nie maar vurig het hy begin preek. Ja, soos nie enige dominee kon preek nie. Soms het hy vir ʼn oomblik opgehou, sy wit sakdoek uitgehaal om die tranerigheidjie af te vee.

So kwart voor twaalf het hy verskoning gemaak dat sy preek so ʼn bietjie té kort was, maar toe kry hy sy tweede asem en hy val weer begeesterd weg.

Of hy vergeet het om op die horlosie te kyk, weet ek nie, maar nog voordat die name van die afgestorwenes gelees is, het die kerkklok die eerste van twaalf slae geslaan.

Sonder om eens kansel se kant toe te kyk, het die orkes weggeval en die Basuin gespeel. Glo my, die musiek was ʼn onvergeetlike belewenis! Dit het gevoel asof die nuwe jaar ons met oop arms verwelkom het.

Nadat die laaste klanke gehoor is, het ouderling ongestoord, asof niks verkeerd geloop het nie, die name van die afgestorwenes afgelees. Ná ʼn lang stilte het ons na die slotgebed geluister – steeds hartroerend. Daarna het die slotgesang gevolg en die seën is uitgespreek.

Ná die diens was daar ongekende geluk- en seënwense toegewens.

Min het ek geweet dat dit my laaste tradisionele middernagdiens sou wees. Daar is later nog vroeë aanddienste gehou, maar dit was soos jellie, sonder vla of amper soos plastiekblomme in ʼn mooi blompot.

Baie kosbare gebruike van ons kleurvolle tradisies het so met die jare soos mis na die môreson verdwyn. Tye het verander. Hoe jammer tog!

Ek koester my laaste middernagdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.