Uit die dagboek van ʼn maatskaplike werker: Hier’s my hand

Carol Ankiewicz

Carol Ankiewicz (Foto: Verskaf)

As maatskaplike werker het jy die voorreg om eerstehands te beleef hoe mense hul lewe kan omdraai en ʼn beter toekoms vir hulself bou. Jy is ook betrokke by die wonderwerk van gemeenskapskrag.

Onlangs het ek die voorreg gehad om werklik die krag van ʼn gemeenskap wat saamstaan te beleef.

Tannie Sarie is ʼn 80-jarige dame wat in ʼn klein dorp woon. Sy het geen band met haar familie nie en leef in eensaamheid in haar huisie, sonder krag en water. Ons het die voorreg gehad om paaie met haar te kruis en ons vrywilligers in die gemeenskap het haar begin ondersteun. Ons kon wel nie haar reuseskuld aan die munisipaliteit vereffen nie, maar ons kon by haar kuier en met haar aktiwiteite doen wat haar lewensgehalte verryk.

Aan die begin was tannie Sarie konstant negatief as gevolg van die druk van haar omstandighede; sy het gesukkel om die hoop raak te sien. As jy vandag met tannie Sarie gesels, is dankbaarheid die eerste ding waaroor sy praat. Sy het weer besef dat sy self ook ʼn verantwoordelikheid in haar gemeenskap het en gee weekliks iets kleins uit haar tuin, soos vrugte, of haar raad aan een van ons vrywilligers wat by haar kuier.

Gemeenskapskrag het verseker dat tannie Sarie weer behoort, dat sy weer in ʼn doel glo en weet dat sy selfs op haar oudag steeds waarde tot haar gemeenskap voeg.

In ʼn studie wat Helpende Hand in 2022 gedoen het, is bevind dat minstens 43% van die 435 bejaardes wat aan die studie deelgeneem het ʼn gevoel van eensaamheid ervaar. Ook het 20% soms ʼn gebrek aan ondersteuning, 40% beleef depressie en 36% beleef angsgevoelens.

Daarom nooi ek jou uit: Gaan drink daai koppie koffie by die oom of tannie; gaan kuier by die tehuis vir bejaardes en smeer hulle hande met room, maak oogkontak en gaan stap saam met hulle in die tuin. Helpende Hand het ʼn Seniors-in-aksie-program waarvan jy deel kan raak. Hier kan jy nog baie ander aktiwiteite leer wat ʼn verskil in die lewe van ʼn bejaarde kan maak.

Deur jou plekkie in jou gemeenskap vol te staan, kan jy help om hierdie statistieke te verlaag. Jy is deel van gemeenskapskrag.

  • Carol Ankiewicz is ʼn maatskaplike werker by Helpende Hand. Solidariteit Helpende Hand se afdeling vir maatskaplikewerkdienste stuur vandeesmaand, ter viering van Internasionale Maatskaplikewerkersdag, ʼn veldtog van stapel om bewusmaking oor dié eerbare en noodsaaklike beroep te kweek. Internasionale Maatskaplikewerkersdag vind op 21 Maart plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.