Verbruikersake: Maak reg vir somerstorms en skade

weer-storms-huis-dakloos-versekering

(Argieffoto: Blitzmaerker/Pixabay)

Die stormseisoen is op pad vir die noordelike dele van die land en as ʼn mens kyk na hoe weerpatrone skielik verander, is dit dalk ʼn goeie idee om seker te maak jou huis en korttermynversekering is reg vir vloede, haelstorms en sterk wind. Ina Opperman het gaan kyk wat jy moet doen om seker te maak dat jou beursie nie leeg raak weens stormskade nie.

Dit is baie belangrik om seker te wees dat jou eis vir stormskade nie die komende somer afgewys sal word nie. Dit is nou die tyd om jou huiseienaarsversekeringspolis te lees en seker te maak dat jy dit verstaan.

Verbruikers het huiseienaarsversekering nodig in ʼn tyd van storms, want dit dek die struktuur van jou huis in geval van natuurrampe soos storms, of ander rampe soos brande. Jou huiseienaarsversekering kan op versoek ook jou motorhuis en swembad insluit, saam met alle ander verbeterings soos ingeboude kombuiskaste.

Huislenings en versekering

Wanneer jy ʼn huislening uitneem, sal jou bank waarskynlik van jou verwag om huiseienaarsversekering uit te neem, maar daar is geen wetgewing wat dit verpligtend maak as jy nie ʼn huislening het nie.

Banke vereis huiseienaarsversekering om jou en die bank teen die risiko van strukturele skade aan jou huis te beskerm. Verbruikers kanselleer soms hul huiseienaarsversekering wanneer hulle hul huise afbetaal het, wat nie ʼn goeie idee is nie omdat jy dan sélf vir skade aan jou huis verantwoordelik is.

Volgens die Wet op Korttermynversekering kan jy egter kies om jou huiseienaarsversekering by ʼn ander versekeraar as die een wat gewoonlik aan die bank gekoppel is uit te neem, maar jou bank kan vereis dat jy bewys van hierdie versekering moet lewer.

Waarom is huiseienaarsversekering so belangrik?

Indien jou huis tydens ʼn storm beskadig word, word herstelwerk gouer gedoen en hoef jy nie eers daarvoor geld bymekaar te skraap nie. Dit is veral belangrik noudat die meeste verbruikers nie baie geld het om uit te gee nie.

Dis ook ʼn goeie idee om nooddekkingsversekering in te sluit sodat die versekeraar noodherstelwerk kan doen om te verseker dat jou huis nie verder beskadig word nie. Sou jy jou huis moet ontruim omdat dit weens stormskade onbewoonbaar is, betaal jou versekering vir ander blyplek totdat jou huis herstel is.

Maak ʼn goeie keuse

Moenie halsoorkop op versekering besluit nie. Hou die volgende wenke in gedagte wanneer jy huiseienaarsversekering uitneem:

  • Besluit vooraf wat jy alles gedek wil hê.
  • Kry ʼn paar kwotasies vanaf verskillende versekeraars voordat jy besluit, maar maak seker jy vergelyk appels met appels – al die kwotasies moet dieselfde voordele vir dieselfde risiko bied.
  • Onthou ook dat vervangingskoste van huis tot huis verskil. As jy ʼn duur kombuis laat inbou het, moet jy seker maak dit is so op jou polis aangedui. Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jou versekering voldoende is.

Wat dek huiseienaarsversekering?

  • Brande, ontploffings en aardbewings
  • Natuurrampe, soos skade deur wind, donderweer, weerlig, storms, hael, vloede of sneeu veroorsaak
  • Waterpype wat bars
  • Diefstal
  • Kragstuwings
  • Iets wat in jou huis vasry of daarop val en skade veroorsaak
  • Skade wat per ongeluk veroorsaak word
  • Veranderings en verbeterings
  • Heffings vir die brandweer om ʼn brand te blus
  • Tydelike verblyf
  • Aanspreeklikheid teenoor ander partye

Uitsluitings

Wees ook baie versigtig vir alles wat in die polis uitgesluit word, soos:

  • Skade deur swak onderhoud veroorsaak.
  • Enige skade wat nie skielik en onvoorsien gebeur nie.
  • Skade deur jou troeteldiere veroorsaak, soos krapmerke.
  • Skade deur plantegroei veroorsaak, soos boomwortels wat die plaveisel oplig.

Gewoonlik sal jou versekering nie die skade dek indien jy vir ʼn lang tyd nie in jou huis gewoon het voordat dit beskadig is nie.

Onthou:

  • Dien jou eis so vinnig moontlik in.
  • Wees eerlik. Moenie dinge wat nie beskadig is byvoeg nie.
  • Maak seker daar is nie plekke om jou huis waar water kan opdam nie, soos verstopte wateruitlaatpype.

Waar kan ʼn mens oor huiseienaarsversekering kla?

Kla oor korttermynversekering by die ombudsman vir korttermynversekering. Besoek die webtuiste by www.osti.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fluisterwind ·

Is julle baie seker dat alle huiseienaarsversekering natuurrampe, soos skade deur wind, donderweer, weerlig, storms, hael, vloede of sneeu dek. Ek het al telke male gehoor dat dit val onder ‘n handeling van God en word nie gedek nie. “Act of God”. Juis daarom al die waarskuwings voor ‘n potensiale haalstorm of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.