Verbruikersake: Varsproduktemarkte nou ondersoek

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Vars vrugte en groente maak ʼn belangrike deel uit van ʼn gesonde dieet maar raak al hoe duurder, soveel so dat die Mededingingskommissie besluit het om ondersoek in te stel na varsproduktemarkte om te sien waar die prysstygings vandaan kom. Verbruikers kan nou kommentaar lewer oor die ondersoek se verwysingsraamwerk voordat die ondersoek begin. Ina Opperman het gaan kyk wat die oogmerke en bestaande verwysingsraamwerk is.

Die Mededingingskommissie gaan varsproduktemarkte ondersoek om vas te stel of daar enige kenmerke in die waardeketting vir vars produkte is wat mededinging verminder, voorkom of verdraai.

Die verwysingsraamwerk vir die ondersoek is in die Staatskoerant gepubliseer en verbruikers het geleentheid om kommentaar te lewer tot 25 April. Volgens die kommissie is die ondersoek belangrik om die staat van mededinging, die markkenmerke wat die pryse beïnvloed en die uitdagings wat boere, veral kleinboere moet hanteer, te verstaan.

Die sektor is ook belangrik vir die ekonomie sowel as werkskepping en die gesonde eetgewoontes en welvaart van die land se burgers. Die kommissie sê die hoofdoelwitte vir die ondersoek stem ook ooreen met die oogmerke van artikel 2 van die Wet op Mededinging om:

  • Doeltreffendheid, aanpasbaarheid en ontwikkeling van die ekonomie te bevorder.
  • Mededingende pryse en produkkeuse aan verbruikers te bied.
  • Indiensneming te bevorder en die sosiale en ekonomiese welvaart van Suid-Afrikaners te verseker.
  • Geleenthede vir Suid-Afrikaanse deelname aan wêreldmarkte te bevorder en die rol van buitelandse mededinging in die ekonomie te erken.
  • Te verseker dat klein en mediumgrootte ondernemings ʼn gelyke geleentheid het om deel te neem aan die ekonomie.
  • Eienaarskap wyer te versprei, veral om die eienaarskap van voorheen benadeelde mense uit te brei.
  • Marktoestande uit te ken en te hanteer vir bepaalde goedere of dienste of enige optrede wat mededinging verhoed, aan bande lê of verdraai.

Verwysingsraamwerk vir varsproduktemarkte

Die verwysingsraamwerk sit die omvang en verwagte tydsduur vir die ondersoek uiteen en kan aangepas word soos nodig. Die kommissie sal ʼn verslag publiseer wanneer die ondersoek voltooi is en dit oorhandig aan die minister van handel, nywerheid en mededinging.

Die kommissie het reeds sedert 2008 gefokus op die sektor vir voedsel en agri-verwerking aangesien dit ʼn bron van stapelvoedsel is en opmerklike indiensnemingsgeleenthede skep om inklusiewe groei van die plaaslike ekonomie te bevorder.

Die kommissie sê noodsaaklike voedsel is kardinaal vir die sosio-ekonomiese welvaart van die nasie en veral vir die armste verbruikers wat ʼn opmerklike porsie van hul inkomste daaraan bestee. Die ondersoek sal onverwerkte produkte insluit, soos vrugte en groente.

Die belangrikste vrugte wat geproduseer en gebruik word sluit in appels, piesangs, lemoene en ander sitrusvrugte, pere, avokado’s en druiwe, terwyl die belangrikste groentesoorte aartappels, uie, tamaties, wortels en kool insluit.

Waardeketting by varsproduktemarkte

Die waardeketting begin by die insetvlak en sluit saad, kunsmis, landbouchemikalieë (onkruiddoders, swamdoders en plaagdoders), plaasimplemente en besproeiingstoerusting in. Die volgende belangrike segment is produksie, waar kommersiële produksie verskeie rolspelers insluit soos groothandelaars, tussengangers, uitvoermaatskappye, verwerkers en kleinhandelaars.

Die volgende vlak betrek groothandelaars en tussengangers. Op die vlak van tussengangers voeg verwerking waarde toe tot die rou produkte om hul raklewe te verleng. Die grooste deel van die produksie van vars produkte in Suid-Afrika word vars verkoop, terwyl groente en vrugte wat uitgegooi word na verwerkingsgeriewe gestuur word.

Die finale vlak bestaan uit verspreiding en bemarking en varsproduktemarkte bied ʼn plek waar kopers groente en vrugte kan kry en waar boere ook hul produkte kan verkoop.

Die ondersoek sal fokus op bepaalde kwessies in elke vlak van die waardeketting en spesifiek aspekte wat verband hou met die verkoop van vars produkte van die boer na die klant (die kleinhandelaar, verwerker of uitvoermark). Die interaksie tussen kleinhandelaars en verbruikers sal nie oorweeg word nie, aangesien dit reeds gedek is in die markondersoek na kruideniersware en kleinhandelaars.

Die verkoop en verspreiding van verwerkte produkte van voedselverwerkers sal ook uitgesluit word. Die ondersoek sal net fokus op die grootste en belangrikste vars produkte. Die ondersoek sal vier temas dek:

  • Die doeltreffendheid van die waardeketting.
  • Die markdinamika en die uitwerking van belangrike insette vir boere.
  • Die deelname van klein boere en voorheen benadeelde boere.
  • Waar die regulatoriese omgewing deelname keer.

Vorige navorsing

Die kommissie het in November ʼn navorsingsverslag gepubliseer oor die vlakke van konsentrasie in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die navorsing is gedoen om te kyk na patrone van konsentrasie en deelname aan die plaaslike ekonomie en het gewys dat groot plase net 6,5% van alle plase in die land verteenwoordig en verantwoordelik was vir 67% van die totale inkomste in 2017/18.

Die verslag het ook gewys daar is ʼn opmerklike vermindering in die aantal plaaseenhede oor die afgelope twee dekades. In 1993 was daar net minder as 58 000 plaaseenhede en net meer as 40 000 in 2017, ʼn daling van 31%, met die grootste dalings in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo.

Daar was ʼn daling van 65% in die aantal plaasboere tussen 1993 en 2008 en ʼn geleidelike afname sedertdien tot 532 boere in 2017, sowel as hoë of erger vlakke van konsentrasie vir aartappelsaad by die saadmaatskappy Wesgrow.

Die Essential Food Pricing Monitoring Report wat die kommissie in Augustus gepubliseer het, het ook beklemtoon dat die skerp daling in die aantal kommersiële boere aandui hoe klein boere sukkel om die koste te verminder en winsgewend te bly.

Hierdie navorsing wys dat die koste van vars produkte gestyg het bo die vlak van inflasie en die kommissie se ondersoek na prysverhogings gedurende die pandemie het ook hoofsaaklik gehandel oor die pryse van voedsel en vars produkte.

Alle kommentaar sal oorweeg word voordat die kommissie die finale verwysingsraamwerk publiseer. Die ondersoek sal begin 20 dae nadat die finale verwysingsraamwerk gepubliseer is en die finale verslag sal voltooi word binne 18 maande. Geskrewe kommentaar kan gestuur word na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kobus ·

Dis nie net groente en vrugte nie. Sjampoo sommer op met R20. beskuit op met R10 , Simba Chips R3 ens en by navraag sê die man vir my ” you know, there is war”

Zollie ·

Die beste produkte word uitgevoer en ons moet met varkkos tevrede wees. Party winkels se varsprodukte is om van naar te word.

Nommer 7 ·

Doodreg, plaaslike produsente kan slegs windsgewind boer indien hulle uitvoer. Hierdie uitvoerders word dan beskerm deur invoere wat hoog belas word. Indien invoer van voedsel afgeskaf word, sal ons spotgoedkoop kos van beste gehalte kan kry. Die probleem egter is dat baie boere dan sal bankrot speel. Invoerbelasting hou dus kos duur, en hou boete op hul plase om kos uit te kan voer. Dis ‘n bose kringloop.

Hennie Biebouw ·

Noem asseblief vir ons voorbeelde van produkte waar boere deur invoertariewe “beskerm” word. Dis nou behalwe die onlangse tariewe wat ingestel is op swak kwaliteit bevrore hoender wat op die SA mark “ge dump” word?
Ek luister by die radio, Niekie…..

Nommer 7 ·

Hennie, kaas, vleis, wyn, vrugte…….. Kaas kan van Ierland en Frankryk ingevoer word en rakprys sal helfde wees. Plaaslike kaasprodusente sal dan ophou bestaan.

Hennie Biebouw ·

Jy het nie regtig ‘n “ondersoek” nodig om die antwoord op dié vraagstuk te vind nie. Die koopkrag van die middelman monopolieë dikteer die pryse. Elke groot supermark groep besit ‘n “merchandising” maatskappy wat pryse van die mark tot op ‘n winkelrak bepaal. Die produsente word tot armoede geboelie, en verbruikers word tot armoede geboelie. Leer om plaaslik te begin koop. Ondersteun waar enigsins moontlik die klein onafhanklike bakkery of groentewinkel. Ek weet dit is ‘n druppel in die emmer, maar verandering begin binne jou onmiddelike sirkel van invloed.

Nommer 7 ·

Ina, wat kan ‘n verbruiker doen as ons oneetbare vrugte gekoop het ( suur of groen)? Is die Verbruikerswet ook hier van toepassing?

marius ·

Klim uit julle stoele voor die TV en gaan boer self . Betaal vir brandstof , kunsmis , lone en alles wat daarmee gepaard gaan , laat die son jul brand en die wind julle verkluim en sien hoe vinnig hardloop julle terug sitkamer toe . Patete .

Oom ·

Die ondersoekers sal soek totdat die perde horings kry, want hulle ondersoek verkeerd en ondersoek ook op die verkeerde plekke. Hulle hoofdoel is om hul ideologiese paradigma op ‘n sisteem te probeer afdwing. Die grootte van ‘n plaas bepaal nie die sukses daarvan nie; dit is afhanklik van die insette van die produsent. As die maatjies van die ondersoekers nie die pyp as produsente kan rook nie, is dit nie skuld van suksesvolle ondernemers nie. In die landbou werk die gesegde ” werk slimmer, nie harder nie” glad nie. Daar geld eerder die volgende gesegde: “werk slimmer en baie, baie harder”. Voor hierdie waarheid nie insink nie sal geen ondersoek van welke aard ookal enige verandering veroorsaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.