Verbruikersake: Moets en moenies van mediese skemas

medies behandeling dokter

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Lidmaatskap van ’n mediese fonds is een van daardie uitgawes wat mens met ’n swaar hart betaal, veral as jy en jou gesin blakend gesond is en nooit siek word nie. Totdat iemand in jou vasjaag en die hele gesin in die hospitaal beland en jy besef wat die werklike waarde van ’n mediese fonds is. Dit is baie duur om deesdae lid van ’n mediese fonds te wees en daarom moet jy mooi dink voordat jy ’n fonds kies. Ina Opperman verduidelik meer oor die slaggate waarvoor jy moet oppas.

Dit is beslis nie perdekoop om by ’n mediese fonds aan te sluit nie en jy moet hierdie groot maandelikse uitgawe met omsigtigheid benader om te verseker jy neem die regte besluit. Jy moet seker maak dat jy die lidmaatskap kan bekostig en dat jy voldoende dekking geniet. Die volgende wenke behoort jou te help om die regte besluit te neem:

Wat sê jou begroting?

Dit kan duur wees om by ’n mediese fonds aan te sluit. Kyk mooi na jou begroting en bepaal hoeveel jy per maand kan bekostig.

Wat is jou behoeftes?

Is jy enkellopend of het jy ’n gesin? Hoe oud is jy en jou ander helfte? Het julle kinders en hoe oud is hulle? Is daar enige oorerflike siektes in jul families? Ly een van julle aan ’n chroniese siekte of is die hele gesin gesond en volg julle ’n gesonde leefstyl? Is jou kinders elke winter siek? Hierdie vrae sal jou help om te bepaal wat jy van jou mediese fonds verwag.

Wat sê mense wat jy ken?

Vra almal, van jou dokter tot jou niggie en vriende, of hulle tevrede is met hul mediese fonds. Word eise betyds uitbetaal sonder ʼn gekibbel of moet mens eers baklei voordat jou mediese rekeninge betaal word? ’n Goeie mediese fonds betaal betyds en het duidelike riglyne oor waarvoor dit betaal en waarvoor nie.

Vra ’n kundige

Wanneer jy reg is om lid te word van ’n mediese fonds, maak ’n afspraak met ’n onafhanklike makelaar vir mediese fondse. Dit is belangrik om met iemand te praat wat nie net een skema aan jou probeer verkoop nie en jou kan help om die regte fonds vir jou behoeftes te kies.

Hoe lyk die mediese fonds se reserwes?

Mediese fondse moet volgens wet ten minste 25% van hul lede se jaarlikse bydraes in reserwe hou en belê om te verseker dat daar fondse is om eise te betaal.

Wat bied die mediese fonds jou?

Loop maar lig vir fondse wat jou die maan en sterre belowe, maar op die ou end vir omtrent niks betaal nie.

Kyk na die dag-tot-dag-beperkings en hoeveel jou jaarlikse mediese spaarrekening by die fonds sal beloop. Dit is belangrik omdat jy met ’n siek kind maklik jou voordele teen April kan opgebruik indien die spaarrekening net vir ’n klein bedrag voorsiening maak.

Dit is ook belangrik om te kyk waarvoor jy uit jou eie sak betaal vergeleke met wat die fonds betaal. Kyk ook na die grootte van die hospitaalvoordele en of jy tot enige hospitale beperk is. ’n Fonds wat 200% van die fondskoers vir hospitaalbehandeling betaal, is gewoonlik ’n goeie keuse.

As jou gesin uit vier mense bestaan, sal ’n fonds wat op die meeste R600 000 per gesin per jaar vir hospitaalonkoste betaal, nie veel werd wees as julle almal ernstige beserings in ’n motorongeluk opdoen nie.

Dit is ook belangrik om deeglik na te gaan hoe kankerbehandeling bepaal en gedek word. Wil jy toegang hê tot nuwe behandeling as jy of ’n gesinslid kanker kry?

Wat word nie gedek nie?

Mediese fondse het gewoonlik twee soorte uitsluitings: dié wat vir ’n tydperk van minder ’n jaar geld wanneer jy ’n nuwe lid is en dié wat altyd uitgesluit is. Maak seker dat alles wat jy van jou fonds verwag, wel ingesluit is voordat jy aansluit.

Wat van ’n hospitaalplan?

Hospitaalplanne is gewoonlik meer bekostigbaar as lidmaatskap van ’n mediese fonds, maar dit is belangrik om te onthou dat ’n hospitaalplan net uitbetaal as jy in die hospitaal beland onderworpe aan sekere voorwaardes. ’n Hospitaalplan betaal uit omdat jy in die hospitaal is om voorsiening te maak vir verlies aan inkomste, maar nie direkte mediese uitgawes nie. Direkte mediese uitgawes kan baie meer beloop as wat die hospitaalplan per dag wat jy in die hospitaal is, uitbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lee-Anna ·

Net ‘n nota, ‘n hospitaal plan op mediese fonds dek jou hospitaal kostes (maak net seker van beperkings en voorwaardes), ‘n hopsitaal POLIS is wat meer gaan oor verlies van inkomste, daar is die voorwaardes min of meer altyd dieselfde.

B ·

Enige voorstelle vir enkel mamma met dogter op universiteit? Ons het huidiglik geen medies en wil ek grotendeels volle hospitaal dekking he vir beide van ons. My begroting egter nie baie…. so R2000 pm

patricia ·

Skakel asb more vir Sonet Schoeman 013 591 1001 sy sal jou defnitief kan help, Sy is die beste

Marieta ·

Sommige mediese fondse het ‘n spesiale plan vir studente wat al 21 is en sekere grade studeer. Kyk na Profmed savvy. Medihelp is ‘n goeie fonds om te oorweeg. Discovery se goedkoper planne gee jou toegang net tot sekere hospitale. Dis belangrik om te verstaan watter hospitale word toegelaat op jou plan. Moet nie die laagste plan kies nie. Die dekking moet 100% wees met geen limiet.

Ellisras ·

Almal. Gee asb raad. Ons waardeer enige moet en moenies.

Ford ·

Moenie n onafhanklike Makelaar gebruik nie want natuurlik gaan hy net die mediese fonds en gap cover aan jou verkoop waarop hy die meeste komissie verdien.
Kyk watter mediese fondse het die minste klagtes by die ombudsman….op die internet.
Vra jou dokter se rekenings dame watter mediese fonds sy sal voorstel……of watter een sy of die dokter gebruik…..hulle werk heeldag daarmee.
Kies n mediese fonds wat se instap kantore naby jou huis is….sodat jy fisies daar kan gaan om probleme uit te sorteer
Bly weg van makelaars wat allerhande gap covers etc aan jou wil afsmeer vir hulle eie komissie.
Sterkte

W Boshoff ·

Tot mediese lui spot met die mediese fonds waaraan ons behoort. Hulle sê: “they discover a way not to pay”!!!
Jy is maar net aan die verloor kant!!

Stem Saam ·

Jy slaan die spyker op die kop, die een is so sleg soos die ander een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.