Verbruikersake: Sharemax-makelaars wil Nova aanvat

the-villa-mall-sharemax-nova

Die The Villa Mall in die ooste van Pretoria wat na die probleme by Sharemax nooit klaar gebou is nie. Foto: Julius Cobbett/Citizen Alert ZA.

Baie verbruikers sal nog die dae onthou toe Sharemax op koerante se voorblaaie geboer het en daarvan beskuldig is dat dit ʼn piramideskema bedryf het. Meer as 30 000 beleggers het meer as R5 miljard in Sharemax, ʼn eiendomsindikasiemaatskappy, belê. Talle ouer mense het hul pensioene en spaargeld in een van Sharemax se byna 40 sindikasiemaatskappye belê nadat hulle belowe is dat hul rente of dividende meer sal wees as wat hulle by ʼn bank sou kry, gekoppel met kapitaalgroei.

Baie ontleders was skepties oor die skema en nadat die Reserwebank in Mei 2010 bevind het dat Sharemax die Bankwet oortree het en dus die meeste van die beleggings onwettig verkry het, moes Sharemax die beleggers terugbetaal. Sharemax het dit ontken, maar kort daarna het beleggings begin opdroog en Sharemax het opgehou om maandelikse dividende aan beleggers in twee van sy grootste sindikasies te betaal. Dit het ook aan die lig gekom dat Sharemax die boukontrakteur van sy grootste projek meer as R100 miljoen skuld.

Volgens Moneyweb het Sharemax se ineenstorting die meestal ouer mense wat in die skema belê het, diep in die moeilikheid laat beland omdat hulle hul maandelikse inkomste verloor het en moontlik hul beleggings ook. Hulle het twee keuses gehad: om die onderliggende eiendomsbates te likwideer en omtrent 10c in die rand terug te kry, of al die Sharemax-eiendomme in een maatskappy, Nova, te konsolideer met Nova-skuldbriewe aan al die beleggers na gelang van hul oospronklike Sharemax-beleggings.

Nova sou die eiendomme bestuur en die wins gebruik om die houers van die skuldbriewe oor ʼn dekade terug te betaal. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het hierdie plan aanvaar.

Daar is allerhande ingewikkelde woelinge in Nova wat deur Moneyweb aan die lig gebring is, wat dit laat lyk asof beleggers nie veel van hul beleggings gaan sien nie.

ʼn Groep van die oorspronklike makelaars van Sharemax vat nou in Januarie die Reserwebank hof toe om te vra dat die hof die gedrag van die Reserwebank as ongrondwetlik en onwettig verklaar, asook dat Sharemax nooit gesluit moes word nie. Die Fais-ombud is ook ʼn respondent. (Fais: Financial Advisory and Intermediary Services, in Afrikaans bekend as Finansiële Advies- en Tussengangerdienste.)

Die groep het ʼn regspan aangestel met twee advokate en gaan die regsoptrede van Deon Pienaar ondersteun. Volgens Steve Malan het Nova die 311-skema wanbestuur, aangesien houers van skuldbriewe nie betaal is volgens die bevel nie. Nova het skuldbriefhouers nie vir minstens drie geboue terugbetaal nie en Nova se laaste uitweg is nou om op die Effektebeurs te noteer.

“Wanneer Nova ondergaan, sal my kliënte se enigste uitweg wees om my te vervolg deur die Fais-ombud se kantoor en daar is geen manier waarop ek dit kan bekostig om hulle terug te betaal nie. Nova, wat deur die Reserwebank ondersteun is, is besig om ons kliënte se bates te verkwis,” sê Malan.

Die groepe staan ook Nova se besluit om kliënte se regte te verander van skuldbriefhouers na aandeelhouers in ʼn maatskappy sonder enige bates, teen.

Malan vra in ʼn brief aan ander Sharemax-makelaars dat hulle elk R6 000 bydra vir die hofsaak omdat dit hul enigste kans is om die saak reg te stel vir hul kliënte en hulself. Omtrent 550 voormalige Sharemax-makelaars is steeds aktief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Het jy enige fondse by Sharemax belê?? Indien nie, bly dan stil.
Indien wel, dra dit gratis aan my oor, jy wil dit mos nie “red” nie, ek dra wel by tot die stryd.
Jy sal nie kan aanspraak maak daarop indien ons suksesvol is nie,
Jy is ook seker een vd “beleggers” wat jou advieur/konsultant/makelaar verkla het oor jou eie besluit??

Adam ·

Manie. jy beindruk my met jou nugter kommentaar. Sharemax se manier van besigheid dryf was dalk bedenklik, maar die FAIS wet is nog ‘n groter onding. Daar was vele meer kreatiewe maniere waarop die probleem aangespreek kon word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.