Verbruikersake: Só raak beurtwater jou huisversekering

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash

Eers was dit beurtkrag, nou is beurtwater ook ʼn groot probleem vir verbruikers en, net soos met beurtkrag, moet jy ook sorg dat die skade wat beurtwater kan aanrig, voorkom word of dat dit deur jou huisversekering gedek word. Verbruikers in Gauteng moes onlangs ook dié struikelblok oorkom terwyl beurtkrag steeds sy eie probleme oplewer. Ina Opperman verduidelik wat jy kan doen en wat jy nie moet doen nie.

“Verbruikers in Gauteng het onlangs te make gehad met fase 2-waterbeperkings, lae waterdruk in sommige gebiede en al hoe meer wateronderbrekings. Mense moet dus nou versigtig wees om skade te vermy aan hul huise en persoonlike besittings”, sê Ernest North, medestigter van Naked Insurance.

“Droë, warm weer en ʼn tekort aan water sorg vir ʼn hele reeks risiko’s en terwyl sommige daarvan deur jou huiseienaars- en huisinhoudversekering gedek word, word kwessies wat verband hou met onderhoud en dié wat verband hou met buitengewone weersomstandighede, dikwels uitgesluit.”

Hy raai verbruikers aan om die volgende raad in gedagte te hou om die risiko van skade of verlies aan eiendom en besitting te verminder wanneer daar waterprobleme is:

Skakel jou geiser af wanneer die watertoevoer onderbreek word

Wanneer die watertoevoer onderbreek word, neem die moontlikheid dat jou geiser beskadig kan word, toe. North sê om die element in die geiser te laat brand terwyl die geiser leeg is, sal veroorsaak dat dit baie gouer ophou werk. Dit is dus belangrik om die geiser by die elektriese bord in jou huis af te skakel en dit eers weer aan te sit wanneer die watertoevoer ten volle herstel is.

Hy sê jou huisversekering sal gewoonlik betaal om die geiser te vervang of herstel wanneer dit breek weens ʼn onvoorsiene gebeurtenis soos ʼn brand of ʼn storm, maar in sommige polisse is dekking vir die geiser opsioneel en daarom moet jy kyk of dit wel gedek word.

Die meeste polisse sal ook uitbetaal indien die geiser lek of bars weens slytasie en jou huisinhoudsversekering sal betaal wanneer ʼn gebarste geiser skade aan jou huisinhoud aanrig.

Sorg ook dat die krane toegedraai is

Wanneer die watertoevoer onderbreek word terwyl jy ʼn bad intap of skottelgoed was, kan jy dalk vergeet dat die krane oop was. As jy dan boonop uitgaan vir ʼn paar ure en die watertoevoer word herstel, kan jy dalk terugkom na ʼn oorstroomde huis.

Jou huisverskering sal skade dek aan jou matte, plafonne, houtvloere en ander strukturele dele van jou huis, terwyl jou huisinhoudsversekering items sal dek soos jou meubels, toestelle en elektroniese toerusting.

Dit is die huiseienaar se verantwoordelikheid om die gebou te verseker teen onvoorsiene gebeure, maar die inhoud daarvan is jou verantwoordelikheid indien jy ʼn blyplek huur. Die eienaar is nie aanspreeklik vir skade aan jou persoonlike besittings nie.

Indien jy in ʼn woonstelblok bly, kan jou bure vir jou of die eienaar verantwoordelik hou vir enige skade wat hulle ly omdat jy die krane oop gelos het. Jy kan verplig word vir om al die skade of herstelwerk te betaal en daarom is dit ʼn goeie idee om ʼn versekeraar te hê wat na jou belange omsien.

Indien die woonstel jou eiendom is, moet die beheerliggaam gewoonlik geboueversekering uitneem namens al die eienaars.

Oppas ook vir brande

Al is brande nie in Gauteng so ʼn groot probleem as in die Wes-Kaap nie, is dit belangrik om versigtig te wees in droë, warm weer wat die risiko vir alle huiseienaars groter maak. Huisversekering maak gewoonlik voorsiening vir skade wat deur ʼn brand veroorsaak word, maar onthou ook dat jou versekeraar van jou verwag om billike stappe te doen om verliese te beperk.

Jou versekering sal byvoorbeeld die stoor van vlambare vloeistowwe naby jou huis beskou as nalatig. North raai verbruikers aan wat gevra word om hul huise te verlaat weens ʼn brand om seker te maak dat hulle enige waardevolle items, soos duur juwele, saamvat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Water tekort,beurtkrag is alles te danke aan swak onbekwame regerings wat nie doeltreffend kan beplan nie ,stem die ANC uit en kry ‘n doeltreffende regering wat kan regeer of verdeel die land sodat die wat vooruitgang wil hê hulself kan regeer.

VaalDonkie ·

Jojo tenks is redelik goedkoop. Kry so paar. Maak sommer vol met kraanwater wanneer jy kans kry. Hierdie gaan nie beter word nie.

Hendrik ·

Sorg maar vir eie -water, krag, riool en veiligheid. Ons doen dit nou vir 12 jaar en het altyd dienste in ons eie gemeenskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.